DIE PERS RÝ DIE HOLRUGGERYDE APARTHEIDSDONKIE, AL LYK HY AL SOOS ‘N TAXIDRYWER WAT AGTER ‘N POLISIEBAKKIE GESLEEP IS! Dit is belangrik om te vra waarom?
In beide die Sunday Times en Rapport van Sondag 10 Maart 2013, verskyn daar uitgebreide berigte oor die lewens van Dirk Coetzee, Eugene de Kock en Joe Mamasela, voormalige Vlakplaasoperateurs.
In die Afrikaanse weergawe is Jaques Pauw aan die woord terwyl die Engelse weergawe deur Chris Barron geskryf is.
Wat hier van belang is, is die ooreenstemmende klem wat gelê word op apartheid. Dit dui nie alleen op die magte waarvoor hierdie joernaliste dienstig is nie, maar ook op hulle persoonlike onheilige ingesteldheid wat daarop gerig is om deur bedenklike joernalistiek, ʼn bepaalde politieke persepsie te skep wat enersyds moet dien om die lesers van hierdie verwronge “waarheid” iets te laat glo wat nie so is nie en andersyds as stut moet dien om die wanstaltige stelsel wat hulle help oprig het, te probeer regverdig.
Die AVP het al by herhaling daarop gewys dat apartheid na die sluipmoord op dr. Verwoerd op 6 September 1966, afgetakel is deur elke president en hulle regerings wat na hom gekom het. Om dus te sê: Coetzee, “Apartheid’s pitiless and amoral snake” en in Rapport: “Dis Desember 1993 en in ‘n winkelsentrum in die ooste van Pretoria ontmoet drie van apartheid-Suid Afrika se mees geswore sluipmoordenaars”.... “Vir meer as ʼn dekade was moord immers dié drie se besigheid. En onder apartheid het dié besigheid floreer”, is bedenklike joernalistiek wat bedoel is om die magte en hulle lakeie wat vir die aftakeling van apartheid verantwoordelik was, fatsoenlikheid te probeer bewerkstellig.
Die vol bladsye in beide koerante wat aan hierdie twee joernaliste afgestaan en aan hierdie soort propagandistiese beriggewing gewy word, is aanduidend van die noodsaaklikheid om totale verwerping van die beginsel van afsonderlike ontwikkeling by die kieserspubliek gaande te kry, die gelykheidssindroom aanvaarbaar te maak ten einde dit wat hulle op klandestiene wyse onder die tafel deur beknoei het, permanensie te laat verkry.
As die onlangse beëdigde verklaring van Kapt. Deon Loots ten opsigte van die Boeremag aangeleentheid en die verklaring van Gen. Erle Cocke wat aan die hoof van Nugan Hand Bank se Washington kantoor gestaan het en in April 2000 ʼn verklaring van 67 bladsye afgelê het waarin die verraderlike wyse waarop ons land onder ons uitverkoop is in die lig gebring is, in ag geneem word, is dit terselfdertyd ook die vertoonvenster waarin joernaliste soos hierdie hulle ware kleure uitstal.
Daar is niks wat hierdie politieke knoeiers kan publiseer wat die waansinnigheid van die beleid wat hulle help vestig het, vir enige regdenkende mens aanvaarbaar sal maak nie. Dit wat hulle tot stand gebring het, het die ongeneeslike kiem van vernietiging in hom ingebou en is die verval reeds oral sigbaar soos wat dié stelsel besig is om homself te verteer!
Afrikaners sal hulle nie verder laat mislei deur hierdie soort taktiek nie!