Die AVP bekyk die tyd en omstandighede wat as agtergrond dien vir onder meer 'n belofte van FW de Klerk aan mnr. Fanie Jacobs (LV, Losberg) dat die Staat gevestigde Blanke inwoners sal vergoed indien daar onwettige indringing in Blanke groepsgebeide sou plaasvind.
Uit onderstaande berig, wat in die Kaapse Die Burger (19 Augustus 1988) verskyn het, is dit duidelik dat De Klerk hierdie belofte van vergoeding aan gevestigde Blanke inwoners nie sommer uit die lug gegryp het nie. Navorsing deur mnr. Johan Fick, hoof van ontwikkelingstudies aan die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en 'n NP-ampsdraer, het klaarblyklik 'n belangrike rol gespeel in De Klerk en ander NP-segslui se standpunte, byvoorbeeld die NP-slagspreuk in die 1989-verkiesing dat die NP vir “eie skole en eie woongebiede” staan en Blanke kiesers oorreed het om vir die NP te stem.
Let ook op hoe belangrik die beskerming van eiendomspryse is na aanleiding van die navorsing van mnr. Fick.
Die berig:
Omstrede groepsgebied-trilogie: Wetsontwerp het 'tande'
DIE Wysigingswetsontwerp op Groepsgebiede wat aanstaande week voor die Parlement gelê word, beloof om een van die mees omstrede stukke wetgewing van die jongste jare te word. Die Gesamentlike Komitee oor Staatkundige Ontwikkeling wat dit voorverlede week bespreek het, kon, voorspelbaar, nie konsensus daaroor bereik nie. ARRIE ROSSOUW doen verslag. SAAM met die Wetsontwerp op Vrye Vestigingsgebiede en die Wetsontwerp op Plaaslike Owerheidsaangeleenthede in Vrye Vestigingsgebiede vorm die Wysigingswetsontwerp op Groepsgebiede die sogenaamde trilogie nuwe maatreëls wat handel oor groepsgebiede en die instelling van ``oop'' woongebiede. Met die wysigingswetsontwerp word die Groepsgebiedewet onder meer ``tande'' gegee om die Regering in staat te stel om strenger teen onwettige gekleurdes in blanke woongebiede op te tree. Die bestaande wet het net betrekking op mense wat eiendom in ander groepsgebiede ``besit''. Die wysigingswetsontwerp maak die algemene verbod op gekleurdes se verblyf in blanke groepsgebiede nou ook van toepassing op ``okkupeerders'' of huurders.
DIE voorgestelde wysigings waaroor die stormagtigste debatvoering in aanstaande week se Parlementsitting verwag kan word, is die volgende: &cchar1; Dat die Minister enigiemand wat onwettig in 'n ander groepsgebied as dié van sy eie rassegroep woon, eiendom huur of dit verkry, of toelaat dat so iemand sulke eiendom bewoon, skriftelik opdrag kan gee om binne drie maande die eiendom te verkoop of die okkupasie te beëindig;
Dat, indien iemand versuim om so 'n opdrag uit te voer, die Minister die balju opdrag kan gee om op die betrokke eiendom of die oortreder(s) se besittings beslag te lê en dit te verkoop;
Dat die Minister iemand kan magtig, sonder om 'n vonnis of bevel van die hof te verkry, om die betrokke eiendom te betree en stappe te doen wat nodig is om die betrokke persoon met sy afhanklikes en hul besittings uit of van die perseel te verwyder;
Dat die verkoping van die betrokke eiendom en besittings as 'n eksekusieverkoping beskou sal word;
Dat wanneer 'n landdros vermoed dat iemand grond of 'n perseel in stryd met 'n bepaling van die wet bewoon, hy 'n ondersoek kan instel en in die proses enigiemand as getuie kan dagvaar om soos in 'n strafverhoor in 'n landdroshof te verskyn;
Dat 'n hof verplig word om 'n uitsettingsbevel uit te vaardig wanneer dit in so 'n ondersoek bewys word dat iemand 'n perseel onwettig bewoon;
Dat 'n bevel ongeag die aantekening van appèl teen 'n skuldigbevinding geld; en &cchar1; Dat 'n boete van hoogstens R10 000 of gevangenisstraf van hoogstens vyf jaar aan 'n oortreder opgelê kan word. In die praktyk beteken dit dat 'n amptenaar enige tyd sonder 'n lasbrief enigiemand se eiendom kan betree of mense in die nag kan opklop om vas te stel wie in die huis of woonstel bly. Ingevolge die wetsontwerp sal amptenare - én die Minister - verplig wees om op te tree indien 'n klagte by die Polisie ingedien word. Indien gebiede soos Hillbrow, Joubertpark, Mayfair en Woodstock nie so gou moontlik tot vrye vestigingsgebiede verklaar word nie, sal tienduisende gekleurdes uitgesit kan word. Maar selfs al sou dit gedoen word, woon daar landwyd steeds duisende gekleurde in blanke gebiede wat uitgesit sal moet word.
BINNENSLANDS het die Arbeidersparty reeds sy sterkste moontlike teenstand teen die maatreël uitgespreek. Die leier van die party, eerw. Allan Hendrickse, dreig om voortaan alle wetgewing in die Parlement teen te staan tot tyd en wyl die Groepsgebiedewet in sy geheel geskrap word. Die maatreël bevat ook wysigings wat daarop gemik is om die owerheid in staat te stel om prysvasstellings van grond en ander eiendom te maak met die oog op dorpsontwikkeling. Die doel is om onnodige spekulasie met eiendom uit te skakel. MNR. JOHAN FICK, hoof van die departement ontwikkelingstudies aan die Randse Afrikaanse Universiteit en onderleier van die Nasionale Party in Johannesburg se stadsraad, het wyd navorsing gedoen oor woongebied-integrasie - plaaslik, in Amerika, Europa en in buurstate. Hy meen dat verskeie maatreëls ondersoek behoort te word met die oog op die reëling van die oopstelling van woongebiede om eiendomspryse te beskerm en een of ander vorm van vergoeding of sekuriteit aan gevestigde inwoners te bied. Waardevolle lesse kan byvoorbeeld in dié verband in Amerika geleer word, veral hoe die kwessie van oorbewoning en die voorkoming van slumtoestande gehanteer kan word