Die enigste manier om nie deur die progressiewe multi-kulturele samelewing geïgnoreer te word nie is gatkruip en misplaaste gesegdes wat niemand verstaan nie”.
Daar sit ons gewone klompie toe, 'n mens kan maar sê “demokraties byeen”.
En dis nou maar 'n ding van ons boskroeg, aag, seker enige boskroeg, dié demokratiese werkwyse.
Geen lidmaatskap, geen uitnodiging na 'n vergadering, in die wêreld daarbuite (soos Ou-dominee altyd met gewigtigheid gemaan het), sal jy nooit so iets kry nie, nie eens met die liberaalste, progressiefste grondwet soos wat FW en Nelson aan die volk afgesmeer het nie, ek meen, die enigste fooi wat jy opdok is vir jou bramfien, daardie bramfien wat Hans Hoënoot (sy van het met sing te doen, op sy dag het hy saam met TRUK se operakoor “opgetree”, nou is hy afgetree), spesiaal in 'n ongenoemde kelder in die Klein Karoo kry.
Laat ek eers oor die bramfien uit 'n uitverkore kelder verduidelik...
Daar was aanvanklik 'n bekende soort “met eish” bedien en ook ander brousels van reputasie. Dit was Gert Gedoriewaar wat eerste sy beswaardheid aangeroer het, hoogdrawend soos hy maar soms kan wees, met die k-woord wat hy aan die brandewyn gekoppel het dalk die platvloerse uitsondering.
En, het Gert Gedoriewaar bygevoeg, Oude Gebrou hoort ook nie in hierdie demokratiese instelling van ons wat 'n boskroeg is nie, die Swartnasie in New York is glo versot op dié Oude Gebrou, so erg jy kan dit sommer Oubaas noem.
Net daar word Piet Nè smoorkwaad, kan ons nie maar sommer die woord Oubaas ook die boskroeg verbied nie.
Nou vir wat wil jy so ver gaan? wil ek weet.
Dit sal lank duur om Piet Nè se volledige beswaar hier te stipuleer, genoeg om te skryf hy kuier nou die ander dag by skoonfamilie (hy was 'n paar keer getroud en hy het nie gesê watter skoonfamilie nie, ek dink maar dis daardie linkse Hans Du Preez van Bonteboklaagte), en sien daar 'n storie op die televisie met die naam die Sewende Ontug of so iets waarin 'n ou met die naam Oubaas speel. Hierdie Oubaas is 'n skepsel met 'n besem vir 'n snor en hy lyk baie of sy tjank afgetrap is, iets soos ou Kerneels Kraalmis, 'n DA en die laaste wit burgemeester van ons dorp, toe die nie-rassige kiesers van Bombaai, uitbreiding 10, skielik besluit het hulle stem vir die ANC.
Die meer gekultiveerde Hans Hoënoot wat hom meer aan die massamedia blootstel het Piet Nè gesekondeer en gesê hy weet presies waarvan Piet Nè praat, dié Oubaas van Sewende Ontug is so diep in 'n klein klonkie se (julle moet maar verskoon, ek gaan nie daardie woord hier skryf nie) ingekruip, hy dink dié Oubaas moes op sy dag in een van daardie diep goudmyne daar naby Orkney gewerk het.
Ja, het Klasie Dopper dapper bygevoeg, Klasie wat 'n onderwyser is en iets van die sielkunde weet, ook massasielkunde, dié Oubaas van Sewende Ontug “verteenwoordig die sogenaamde 'primitiewe Afrikaner' wat disfunksioneel in die nuwe Suid-Afrika geraak het en die enigste manier om nie deur die progressiewe multi-kulturele samelewing geïgnoreer te word nie is gatkruip en misplaaste gesegdes wat niemand verstaan nie”.
“Nè!” het Piet Nè gesê, ook 'n paar ander kêrels, en “gedoriewaar” het Gert Gedoriewaar ons eenstemmigheid bevestig.
Gister lê ek toe weer so 'n demokratiese besoek af aan die boskroeg, die enigste dwingendheid in die besoek die herinneringe aan die smaak van 'n bietjie bramfien uit 'n geheime kelder in die Klein Karoo.
En, glad nie snaaks nie, daar sit die res van ons demokratiese groepie, almal gedryf deur dieselfde dwingende begeerte na bramfien.
Pas na die eerste wense dat almal teenwoordig goeie gesondheid mag geniet en hierdie wense ondersteun met 'n slukkie aan sy bramfien, begin die vergadering, Gert Gedoriewaar wat dit in sy swaar stem inlui: “FW seg dinge het mooi gevorder in die land en gaan nou eers vorder. FW sê dis heeltemal reg as Jacob Zuma seg ons verbeel ons maar dat die paaie stukkend is, die rand val en meer as 600 000 Afrikaners in en om Pretoria plak.”
“Nè!” sê Gert Nè. “Dan verbeel ons mense ons seker ook maar net dat hulle treur op begrafinisse van mense wat uitgemoor word.”
“Maar dis nie al nie,” sê Gert Gedoriewaar, FW het 'n advokaat wat sê die land se grondwet is 'n wonderlike ding, dit beskerm ons Witmense en ons taal.”
“Ja,” sê Hans Hoënoot, “dis net 'n advokaat wat nog sal waag om so iets te beweer.” Hans Hoënoot dink so 'n bietjie na oor wat hy gesê het, vra: “Dié advokaatjie kwalifiseer seker maar seker hoe goed dit met ons en met die taal onder die grondwet gaan?”
“Ja,” sê Piet Nè. “So 'n lang kwalifikasie hy kon maar net sowel gesê het eintlik gaan dit (en weer, geagte leser, kan ek nie die unieke woord op Afrikaans wanneer dit baie sleg gaan vir u aanstip nie)... sleg.”
Nou waarom sal hy dan in die eerste plek wil beweer dat die grondwet wonderlik is? wonder ek hardop en neem nog 'n slukkie van die geheimsinnige bramfien uit 'n geheimsinnige kelder in die Klein Karoo.
“Oorlat hy 'n advokaat is... wat vir FW werk en deur FW betaal word,” sê Piet Nè.
“Gedoriewaar!” sê Hans Hoënoot.
“Gedoriewaar!” beaam Gert Gedoriewaar.
Twee berigte, een op die die webwerf van FW de Klerk se stigting:
WÊRELDDAG VIR KULTURELE DIVERSITEIT VIR DIALOOG EN ONTWIKKELING
Adv Jacques du Preez, FW de Klerk Stigting
Vandag vier ons Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit vir Dialoog en Ontwikkeling.
Die term "kulturele diversiteit" word gebruik om die verskeidenheid menslike samelewings of verskillende kulture in 'n spesifieke streek, of die wêreld as 'n geheel, te beskryf. Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het in 2002 erkenning verleen aan dié dag om wêreldwye bewustheid te skep oor die belangrikheid van interkulturele dialoog, diversiteit en insluiting.
'n Belangrike tema van hierdie dag is ons begrip van die waarde van kulturele diversiteit en om op grond van hierdie begrip te leer om beter saam te leef. In hierdie opsig word kulturele diversiteit en die belangrikheid daarvan in 'n aantal internasionale regsinstrumente erken:
• Die Universele Verklaring Betreffende Kulturele Diversiteit, aanvaar deur UNESCO in 2001, is 'n kragtige regsinstrument wat nie net kulturele verskeidenheid as 'n "gemeenskaplike erfenis van die mensdom" erken nie, maar wat ook dié beskerming as 'n uiters etiese imperatief beskou,wat onlosmaaklik gekoppel is aan die respek vir menswaardigheid;
• Die UNESCO Konvensie vir die Beskerming en Bevordering van die Verskeidenheid van Kulturele van 2005 erken die besonderse natuur van kulturele goedere, dienste en aktiwiteite as voertuie van identiteit, waardes en betekenis en ook dat, terwyl die kulturele goedere, dienste en aktiwiteite belangrike ekonomiese waarde het, en dit nie net kommoditeite of verbruikersgoedere is wat as handelsvoorwerpe beskou moet word nie; en
• Kulturele diversiteit word ook bevorder deur die Verklaring van Montreal van 2007.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet neem ten volle kennis van die uiteenlopende aard van ons samelewing en verklaar dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon - verenig in ons diversiteit. Sterk grondwetlike beskerming word deur die Handves van Regte verleen aan alle Suid-Afrikaners se taalregte (artikel 6 en 29), kultuurregte (artikel 30) en die reg om aan kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe te behoort (artikel 31).
Deur middel van hierdie en ander bepalings maak ons Grondwet voorsiening vir die nodige raamwerk van respek vir verskillende kulturele belange in Suid-Afrika, asook vir hul beskerming en bevordering. Dit bemagtig ons as Suid-Afrikaners om 'n gemeenskap van individue te bou wat toegewyd is aan diversiteit en die stryd teen kulturele polarisasie en negatiewe kulturele stereotipes.
Kan ons egter as Suid-Afrikaners - op hierdie dag - werklik sê dat ons 'n wedersydse respek en begrip eerbiedig en koester vir mekaar se verskille en verskillende kulture?
• Hoekom het dit so lank geneem om die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale en sy regulasies in werking te stel sodat behoorlike uitvoering gegee kan word aan die bepalings van artikel 6 betreffende amptelike taalgebruik deur die Regering?
• Waarom voldoen die Wet nog steeds nie aan van die taalvereistes in artikel 6 van die Grondwet nie?
• Waarom is daar nog so baie skadelike en aanstootlike diskoers op grond van ras - nie net op moderne sosiale media platforms nie - maar ook in die openbare en op politieke gebied in Suid-Afrika?
• Waarom is daar nog so min waardering en respek onder Suid-Afrikaners vir die rykdom van die kulturele, taalkundige en historiese erfenis van ander gemeenskappe?
• Hoekom het die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe so min gedoen om sy grondwetlike mandaat - om respek vir die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe te bevorder - uit te voer?
• Hoekom het die Pan Suid-AfrikaanseTaalraad (PANSAT) sy grondwetlike plig versuim om toestande vir die ontwikkeling en gebruik van al ons amptelike tale te bevorder en te ontwikkel, en respek te bevorder vir ander tale wat in Suid-Afrika gebruik word?
Die skuld vir hierdie ondoeltreffendheid van veral hierdie twee organisasies (die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe en PANSAT) kan nie net op dié twee instellings geplaas word nie.
Groter druk moet toegepas word op die Regering en die Parlement omdat beide die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe en PANSAT aan die Nasionale Vergadering verantwoordelik moet wees. Kan die versuim om enige daadwerklike stappe te doen om hul doeltreffendheid te verbeter dui op ’n gebrek aan ernstige politieke toewyding om respek vir kulturele en taaldiversiteit te bevorder, asook die handhawing van goeie verhoudinge tussen ons verskillende gemeenskappe?
Daar is dikwels wrywing wanneer verskillende kulture saamwoon in dieselfde geografiese gebied. As Suid-Afrikaners moet ons ons daarvan weerhou om uitsprake in die openbaar te maak dat een van ons bevolkingsgroepe se kultuur, tradisies of erfenis van meer waarde is as die ander. Ons Grondwet verbied dit. As 'n nasie moet ons nie in die openbaar menings deel dat sommige kulture en mense in Suid-Afrika minder as ander werd is nie. Die uitwerking van sulke uitlatings doen afbreek aan die sosio-kulturele samespel van ons land en die beginsel van gelykheid waarop dit gegrond is.
Daar is verskeie maniere om verskillende kulture op ons eie te verken. Besoek 'n kunsuitstalling of 'n museum wat aan kulture toegewy is. Nooi familie of mense van 'n ander kultuur of geloof wat in jou buurt woon om 'n maaltyd saam jou te geniet en ruil jul menings uit oor die lewe. Neem ’n rolprent uit of lees 'n boek wat oor 'n ander land of geloof handel. Nooi mense uit 'n ander kultuur om aan jou gebruike deel te neem. Lees meer oor die groot denkers van ander kulture. Versprei jou eie kultuur oor die wêreld en leer oor ander kulture deur die gebruik van sosiale en elektroniese media.
Bou jou kennis op oor die Grondwet en ander bronne wat tot jou beskikking is en eis jou grondwetlike regte op ten opsigte van taal, kultuur en erfenis.
Indien daar 'n wedersydse respek getoon kan word vir verskillende kulture, kan 'n gesonde respek vir kulturele diversiteit en menslike kreatiwiteit bevorder en geïmplementeer word - in ooreenstemming met ons kultureel progressiewe Grondwet.
Oor FW de Klerk wat aanvoer die land gaan “vooruit” op Praag se webwerf:
Pres. Jacob Zuma het Dinsdag onverwagte steun gekry toe FW De Klerk uitgevaar het teen "doemprofete" wat die ondergang van die land voorspel.
De Klerk het gesê "afro-pessimiste" erken nie die vooruitgang wat wel in Suid-Afrika en Afrika gemaak word nie.
De Klerk het erken dat Suid-Afrika "ernstige internasionale beeldprobleme" het, maar hy het gesê die land het 18 jaar van bykans ononderbroke ekonomiese vooruitgang beleef.
Hy het bygevoeg dat aansienlike vooruitgang gemaak is in die stryd teen armoede, die verbetering van toegang tot behuising, water en elektrisiteit.
Sy uitlatings sluit aan by dié van Zuma en die ANC, wat onder skerp kritiek deurloop oor korrupsie, arbeidsonrus en werkloosheid.
De Klerk het egter nie net goeie woorde vir die regering gehad nie.
"Ons vaar swak in daardie areas van nasionale aktiwiteit wat die verantwoordelikheid van die regering is," het hy gesê.
"Ons is in die onderste 20% met betrekking tot die gehalte van onderwys, die sakekoste van misdaad; die voorkoms van MIV; en die doeltreffendheid van die arbeidsmark."
Hy het egter gesê die regering is bewus van dié probleme, en werk daaraan om dit op te los.
"Afrika en Suid-Afrika is op pad vorentoe," het hy gesê.