Daar word berig dat kapt. Deon Loots steeds onder kruisverhoor in die sogenaamde Boeremagsaak is Hy het onder andere aangevoer dat daar ernstig met sy beriggewerlêer geknoei is.
Kapt. Deon Loots het voortgegaan en getuig oor hoe Supt. Louis Pretorius, Karen van Vuuren en 'n onbekende persoon wat 'n kenner is van springstof, van Klerksdorp by Loots se huis aangekom het. Die kenners moes die agent/beriggewer JC Smith opgelei het om springstof wat gemeng word te hanteer sodat Smith die mense van die "Boeremag"
kon oplei om later self te gebruik. Loots het vir JC gesê dat dit wat hy doen verkeerd was. Loots het ook op 'n ander geleentheid saam met JC Smith gery om springstof en opleiding vir mense wat in die saak betrokke is te neem in Warmbad omgewing. Loots het voortdurend beswaar gemaak by Genl. Roos, Hankel en sy gewese vrou Kol. Marinda Loots. In sy beswaar aan Supt. Pretorius, het Pretorius aan hom gesê dat Loots rustig moet wees, want dit is hoe die saak teen die ouens gebou word. Dit moet so vinnig en erg as moontlik gebou word sodat die publiek teen die regses en die Boeremag kan draai waarna daar 'n voorbeeld van hulle gemaak moet word.
Loots is gevra om 'n verklaring teen die beskuldigdes in die saak te maak aangesien die staat dit positief in hulle saak wou aanwend. Supt.
Louis Pretorius, Kol. Sollie en Karen van Vuuren het by Hartebeespoortdam bymekaar gekom en Loots versoek om daarheen te gaan.
Volgens Loots is die verklarings deur die polisie self opgestel sodat daar nie weersprekings in die verklarings voorkom nie om te voorkom dat die staat se saak skade kry en dat al die verklarings chronologies moet voorkom. Die verklarings is dan ook van tyd tot tyd aangepas om die getuienis te sinkroniseer. Geen getuie het ooit sy of haar eie verklaring opgestel nie. Later het Supt. Tollies Vreugdenburg ook hierby aangesluit in die skryf van die verklarings. JC Smit het hom vertel dat hy sy getuieverklaring soos 'n papegaai moes leer vir die hofsaak.
Loots is later deur Adv. Paul Fick SC van die staat ingeroep dat Loots 'n verklaring moes maak. In die kantoor was Adv. Pieter Luyt, Supt.
Tollies Vreugdenburg, Adv. Fick en 'n onbekende dame. Hulle, veral adv. Fick wat die praatwerk gedoen het, het op 'n baie aggressiewe en dreigende manier hom probeer beïnvloed om 'n verklaring te maak teen die beskuldigdes. Hy het geweier weens die wyse waarop die polisie die saak gebou het. Adv. Fick het hom verbied om die saak by te woon of om die verdediging te help. Adv. Dries van Rensburg het gestel dat Adv.
Fick wel Loots versoek het om daarheen te kom, maar dat hy slegs van Loots wou verneem het waar sekere bewysstukke was. Loots ontken dit.