‘n Setlaarsuster wat niks van alles verstaan en alles van niks begryp nie, doen n beroep op elkeen van u wat wit is om ..... nou ja, lees dit maar en verstaan dan waarom daar vir sommige siektes gééén medikasie bestaan nie!
(berig in Beeld) Die skrywer Gillian Schutte het ’n gefladder in die kuberruim veroorsaak met ’n brief met die titel “Beste wit mense” wat sy op haar blog geskryf het. Hier is ’n effens verkorte weergawe daarvan.
Ek het besluit om die nuwe jaar te begin met ’n brief wat julle mooi vra om wakker te skrik en Afrika met ’n vars wit neus te ruik.
Voordat julle kwaad raak, beskou dié brief as kits-oorlewingstoerusting om ’n nuwe werklikheid te navigeer, en wees verseker indien julle die oproep in dié brief ernstig opneem, sal jul lewens wonderbaarlik verander.
Laat ek begin deur verskoning te vra vir wat my voorouers aan die mense van Suid-Afrika gedoen het en om julle te nooi om dieselfde te doen.
Ek verwerp die diskoers van wit oorheersing, maar ek erken dat ek in dié bestel grootgemaak is. Hoewel ons enkelma-huishouding nooit ekonomies bevoorreg was nie, is ons bevoordeel deur ons velkleur.
Ek doen ’n beroep op wit mense om na te dink oor wat dit beteken om gebore te word in ’n bevoorregte posisie wat jy nie verdien het nie, om te delf in ons lang geskiedenis van rasse-uitbuiting en veronderstelde meerwaardigheid – om te erken dat ons dit geleer is en dit dan te verwerp.
Ek doen ’n beroep op wit mense om te beken dat witheid onsigbaar vir ons geword het en dat ons dit nie meer as ’n diskoers erken nie wat die verontmensliking van swart mense laat voortbestaan op maniere wat so subtiel is dat dit normaal voorkom.
Ek doen ’n beroep op wit mense om toe te gee dat die reënboognasie ’n mite is en totdat ons nie werklik daartoe in staat is om die menswaardigheid van alle mense raak te sien nie, kan ons nie daarop roem dat ons nie meer rassisties is nie.
Ek doen ’n beroep op wit mense om te erken dat wit oorheersing steeds in die media uitspeel – deur die onderdrukking van swartheid – deur die aanhoudende beskuldiging dat swart mense rassisties is as hulle hul eie waarheid uitspreek.
Ek doen ’n beroep op wit mense om te erken dat deur hulle in te dwing in nasionale debatte wat niks met hulle te doen het nie, hulle ’n platform inpalm wat vir swart stemme bedoel is om hul griewe oor ons leierskap te lug.
Julle het dalk opgemerk dat die swart stemme wat ons nodig het en wat ons wil hoor, gekies het om weg te skram omdat hulle skaam is om die podium te deel met ’n hele boel wit woede oor dieselfde onderwerp, maar vanuit ’n wit, rassistiese perspektief.
Wit mense, bly asseblief stil, en luister ’n bietjie. Alles draai nie daarom dat wit mense van rassisme beskuldig word nie. Soms gaan dit oor die swart middelklas en of hulle verwerplike wit praktyke aangeneem het of nie.
Ek vra julle mooi, wit mense, luister kalm na swart stemme en moenie op die verdediging gaan oor elke belediging wat ’n swart stem verwoord nie. Ek doen ’n beroep op wit mense dat hulle nie die enigste ras is wat geregtig is op woede, seerkry, pyn en om kwaad te wees nie.
Ek doen ’n beroep op wit mense om te erken dat hulle swart mense se emosies vrees – dat dit vrees is wat maak dat hulle swart stemme uitsluit en hulself verdedig teen die veronderstelling dat hulle aandadig is aan die voortgesette onderdrukking van swart mense.
Ek doen ’n beroep op wit mense om te erken dat ons geleer is dat swart mense nie dieselfde emosies en sielkundige instelling as ons het nie en dat dié denkfout gebou is op die tweekantige swaard van oorheersing en vrees. Om mense te verontmenslik, beteken dat hulle uitgebuit word sonder skuldgevoelens. Om hul pyn te erken, is om die skuld te erken en daardeur die menslikheid raak te sien.
Ek doen ’n beroep op wit mense om te erken hoe witheid onbewustelik swartheid as ’n geleiding gebruik het vir sy eie barbaarsheid.
Ek smeek wit mense om hul vrees te besweer dat swart mense daarop uit is om hulle af te maai in ’n grootskeepse, wraaksugtige volksmoord.
Dit het nog nie gebeur nie en daar is tallose bewyse dat dit nooit gaan gebeur in ’n land wat sy ekonomiese beleid gebou het op wêreldwye standaarde wat witheid bevoordeel en op die middelklas steun as ’n buffer tussen die mense op die grond en die elite- korporatiewe en politieke klas. Kry tog net rigting.
Ek doen ’n beroep op wit mense om aan ’n strategie te werk wat die groeiende gaping tussen ryk en arm sal verminder, want, wit mense, dit is die armes wat werklik ly in dié land.
Ek doen ’n beroep op wit mense om te verstaan dat armoede en werkloosheid maatskaplike toestande is. Deur dit te hernoem as “luiheid”, “gebrek aan ambisie” en “onnoselheid” is julle besig om jul eie misleidende dwalinge te bevorder dat witheid niks te make het met die onuithoubare toestande waarin die meeste swart mense gedwing word om te leef nie. Hierdie is die maatskaplike gevolge van ’n koloniale geskiedenis en globalisasie – gepaard met swak leierskap wat teen die armes gekant is.
Asseblief, wit mense, wanneer julle gedwonge voel om (pres. Jacob) Zuma te kritiseer, maak asseblief seker dat julle hom daarvoor kritiseer dat hy voorkeur gee aan wit korporasies en die wit middelklas ten koste van kwessies oor armoede, eerder as om ’n obsessie te hê oor sy penis, sy vroue, sy beheer oor Engels as sy tweede taal en om hom as sondebok te gebruik vir jul stereotipering van swart mense.
Asseblief, wit mense, hou tog net op om vir almal wat nie wit is nie te sê hoe hulle hul moet gedra en wat hulle moet dink en sê.
Wees dankbaar dat julle steeds welkom is in ’n gesteelde land.
Hou op kyf en om aan swart mense te sê hulle moet oor hul geskiedenis kom. Waarom kan julle nie verstaan dat kolonisasie ’n volksmoord was nie en dat dit ’n baie, baie lang ruk gaan neem om die pyn te stil?
In plaas daarvan om jul voorregte te verdedig deur dit te ontken en jul skuld te vertroetel deur dwase woede: Waarom steek julle nie die hand uit die mou nie en help om dié land te herstel tot ’n plek waar daar ruimte is vir respek en waardigheid vir almal?
O ja ... en wit mense, probeer om nie negatief en kwaadwillig op my brief te reageer nie, want ek sal nooit ophou om by julle te pleit om julself te oorkom nie en by die huidige program aan te sluit nie. Dis so maklik soos om jou oë te knip.
Die uwe, Setlaarsuster.
- Die brief het verskyn op Schutte se blog op Thoughtleader van die Mail & Guardian.