LEGITIMERING EN DELEGITIMERING(AFLEWERING EEN)
Daar heers twee standpunte in behoudende volksgeledere oor hoe die ANC-regering benader moet word en hierdie standpunte het onder meer hul neerslag gevind in verskynsels soos stemmers en nie-stemmers, en soekers na Afrikanerselfbeskikking langs grondwetlike en ongrondwetlike weg.
Die grondwetlike selfbeskikkingstrewers moet uit die aard van hul opsie hul werkmetode openlik praktiseer en verklaar. So byvoorbeeld het Vryheidsfrontleier Pieter Mulder op 30 Oktober 2002 in reaksie op ‘n reeks bomontploffings in Soweto verklaar “ons het besluit op die grondwetlike pad”.
Die ongrondwetlike bewandelaars van die pad is weens die ANC se staatsveiligheidsprogramme meer beskroomd oor hul ongrondwetlike weg. ‘n Goeie jaghond, so lui die spreekwoord, loop immers sag! Die grondwetlike opsie verhinder egter nie dat partye soos die Vryheidsfront en die Konserwatiewe Party hul ook kan (ek voer beslis nie aan hulle hét nie), inlaat by ongrondwetlike bedrywighede nie.
Wat die HNP betref het hy kort na die 1994-oorgawe aan die ANC hom uitgelaat ten gunste van ‘n sogenaamde meta-politieke stryd, dié meta-stryd soortgelyk aan die “onsigbare wyse” waarop die Franse hulle laat geld wat hul kultuur- en taalbelange betref.
Histories
Histories het die ANC ‘n onwettige (illegitieme) gestalte vir die gewone behoudende Afrikaner aangeneem weens sy noue verbintenis met die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party en die internasionale kommunisme. Sy terreurstryd (opgeleide gewapendes wat die land ingesypel het vir sabotasie soos die Kerkstraatbom waarin tientalle vemink en dood is en die grensoorlog), het verder gewig aan hierdie gestalte gegee.
Hierdie onwettigheid het ‘n de jure-posisie geword met die aanneming van die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme en die verbod op die ANC as ‘n meeloper-organisasie.
Die sogenaamde vrye Weste (Korporatiewe Sosialiste) se stryd teen die Sowjet-Unie, hoof internasionale borg van Oos-Europese kommunisme, en sy satelliete, het dié standpunt van die behoudende Afrikaner vergemaklik, trouens tot voor mnr. P.W. Botha van die politieke toneel verdwyn het was retoriek soos dat kommuniste doodgewoon satatanskinders is aanvaarbaar, gewis nog in Suid-Afrika en by die meeste Afrikaners.
Waarneming van die doen en late van die VN toon dat dié organisasie reeds so vroeg as toe mnr. Eric Louw minister van buitelandse sake was, gewig aan aansprake van die ANC gegee dat hy in ‘n een-mens-een-stem-verkiesing die regerinsgsleisels sal oorneem. Hierdie aansprake kon weens die standvastigheid van die Verwoerd-regering nóg de jure nóg de facto bevestiging kry. Met Verwoerd uit die weg geruim, het daar egter spoedig krake by die Afrikaner self begin wys wat betref die onomwonde afwysing van die ANC se sogenaamde wettigheid.
Die gangbare internasionale standpunt
In mnr. F.W. de Klerk se Rooi Vrydag-toespraak is die Afrikaner betrek by die gangbare internasionale standpunt van die dag, dat daar ‘n einde van die sogenaamde Stryd van die Ideologieë gekom het. (Hierdie einde-van-die-stryd-standpunt op sy beurt, is weer ‘n weerspieëling van die feit dat Japan die leidende industriële moondheid van die węreld is en dat die Weste (wel onwillig en beslis nie hardop nie!) deur die aanvaarding en nabootsing van die Japanners se werks- en sake-etiek, stille maar gewis energieke volgelinge van die Sjintoe-godsdiens, waar goed en kwaad (jin-jang) as onontbeerlikhede ingebou is, geword het.) Die Afrikaner sou hom volgens mnr. De Klerk se Rooi Vrydag-traktaak nie meer tot ‘n aktiewe oorlog teen enige soort kommunisme en hul meelopers kon wend nie.
Hierdie skynbare legitimering van alle ideologieë om hulle as gelyke maar vreedsame spelers oral in die węreld op die politieke verhoë te bring, is deel van wat vandag bekend staan as die post-modernisme waarin die korporatiewe sosialiste van Londen en New York in die Weste en ook in Suid-Afrika die leiding neem.
Die rol wat die Sowjet-Unie se Mikhael Gorbatsjof met sy glasnost (om kommunisme oop te maak) en perestroika (herstrukturering van die kommunisme in die algemeen), gespeel het, is belangrik in oorwegings oor hoe die kommunisme en in besonder korporatiewe sosialisme hom vir die sogenaamde post-moderne era gerat het.
Met die verkiesing van 1994 het Swart, Indiër, Europese en Joodse kommuniste die de facto-heersers van die land geword. Dit is geen geheim dat kommuniste (weliswaar Afro- én Euro-kommuniste) die meeste sleutelposte in die ANC-kabinet en staatsdepartemente beman (sowat ‘n 100 Parlemetslede en agt ministers). (Afro- én Euro-)Kommuniste beheer ook die grootste Swart vakbond Cosatu.
Balansstaat
Tussen 1994 en nou, skynbaar in pas met węreld-kommunisme se post-moderne gestalte, het die Afrikaner kennis gemaak met ‘n oënskynlik meer aanvaarbare Suid-Afrikaanse kommunisme, trouens daar is baie min openlike naakte staatsgeweld wat die Suid-Afrikaanse kommuniste op die Afrikaner toegepas het. Behalwe, en dit is die groot oorweging wat nie uit die oog verloor mag word nie, as al die afbrekende gevolge van die ANC se sogenaamde transformasieprogram in berekening gebring word.
‘n Balansstaat met vele subtiliteite lê dus voor die behoudende Afrikaner wanneer die gevolge van die kommunisme van die post-moderne tydvak bereken moet word. Dit sluit swaar lewensverlies weens veral terrorisme op die platteland in. Op die oomblik heers ‘n felle stryd oor grondeienaarskap teen die Afrikaner. As die verliese van die Afrikaner in syfers uitgedruk kan word, sal dit die Afrikaner dalk help om hom uit sy rustige slaap wat betref kommunisme en die verliese wat dit reeds vir die Afrikaner gebring het, te ruk.
Selfbesturende sosialisme
Kommunisme soos deur die ANC in sy staatsbestel gepraktiseer, staan bekend as selfbesturende sosialisme. Daarvolgens hou die bestuurders net hul hande oor oorhoofse mikpunte, die kragte inherent (jin-jang se goed en kwaad as noodsaaklike deel van die geheel?); die populis of massa sal vir die res sorg.
Drieledige alliansie
Nog ‘n saak in die balansstaat is dat die drieledige alliansie bestaande uit die ANC, Kommunistiese Party en Cosatu skynbaar toenemend ‘n kwessie van drieledigheid en afkerigheid, en al minder van ‘n alliansie word. Ook binne die Kommunistiese Party tree daar Euro-kommuniste, hoofsekretaris Jeremy Cronin) en in ‘n baie mindere mate Afro-kommuniste (verkose Swart leiers), na vore.
Dit is gewis van belang, maar die permutasies hier is so onvoorspelbaar en aan voorwaardes onderworpe dat ‘n onomwonde afleiding dat hieruit ‘n breuk tussen die sogenaamde nasionaliste (aanhangers van Afro-kommunisme/sosialisme) en die Euro-kommuniste/sosialiste in die ANC kan kom, te gewaag is en in elk geval nie om ‘n strategie daarop te laat rus nie.
Moskou, en Londen en New York
‘n Derde oorweging vir ‘n strategie is dat, hoewel sleutel-(Afro-)kommuniste in die ANC mag glo dat die ANC die dialektiese materialisme nastreef soos Lenin dit uit Moskou beslag laat kry het, die ANC op die oomblik deur die aggressiewe kapitaliste van Londen en New York (groot sakekorporasies met korporatiewe sosialisme as uitgangspunt) gedikteer word. Hierdie aggressiewe kapitaliste het die beursiedraers van die ANC (Trevor Manuel en Tito Mboweni) in die holte van hul hand en dit is skynbaar net openlike revolt (a-la Robert Mugabe wat Afro-sosialisme met Swart bewussyn as die kern nastreef), waarmee bordjies verhang kan word.
Die probleem is dat Cosatu (binne die drieledige alliansie), as die logiese aanhanger van Swart sosialisme, nie oor sterk genoeg leiersfigure beskik om Suid-Afrika se (hoofsaaklik Engelse, Wit) korporatiewe sosialiste teen te gaan nie. Cyril Ramaphosa, voormalige Cosatu-hoofsekretaris, was ‘n sterk kandidaat om as Afro-kommuniste-leier na vore te tree, maar die korporatiewe sosialiste het hom skadeloos gestel deur hom in die sogenaamde Swart bemagtigingsbestel te laat verdwyn. Hierdie (hoofsaaklik Engelse, Wit) korporatiewe sosialiste is uiteraard ook ‘n probleem vir die behoudende Afrikaner, wat ‘n aanhanger en beoefenaar van meelewende kapitalisme is.
Politieke vloeibaarheid
Suid-Afrika en die hele subkontinent beweeg na ‘n tydvak van groter vloeibaarheid.
Dit is so weens die uitwerking van opstande en herskikkings wat in die Groot Mere-gebied gebeur. Tekenend van hoe gebeure dáár ook Suid-Afrika raak is die feit dat soldate uit Suid-Afrika in ‘n sogenaamde vredesmag in die Groot Mere-gebied ontplooi is. Die ANC het ook gasheer gespeel in uitgerekte sogenaamde vredesonderhandelinge van die Kongo. Ook Mugabe en Nujoma bied soldate, logistieke, geldelike en humanitęre steun aan die Afro-sosialistiese faksies in die Groot Mere-gebied.
* Die ouer garde is aan’t verdwyn. Afrika-sosialiste wat in die Oos-Europa en die Sowjet-Unie geskool is, verlaat die politieke toneel. Leiers met ‘n strydgeskiedenis wat uit Afrika se sogenaamde koloniale verlede kom, kan letterlik net op die een hand getel word. In Suidwes is die bejaarde Sam Nujoma reeds in die laaste jare van sy bewind en Mugabe se Afro-sosialistiese sette maak hom gewis nie gewild by Londen en New York se korporatiewe sosialiste nie.
* Botswana, Mosambiek, Zimbabwe en Suidwes sal binne die volgende jare deur die volle geweld van die vigs-epidemie getref word.
* Droogtes en Afrika se onwilligheid/onvermoë om moderne landbou en landbouproduksieprosesse te beoefen, plaas druk op owerhede en bevolkings.
* Korporatiewe sosialiste, of liefs dan reuse-maatskappye uit Amerika en Europa, (met ‘n eie stempel op die lande van Afrika wat hul plunder), se optrede is in hierdie vloeibaarheid van belang. ‘n Kenmerk van hul werkswyse is dat, al is daar burgerlike opstand en selfs bloedige regeringswisseling in Afrika, delfstowwe steeds per trein- en skeepsvragte vol hul weg na produksie-aanlegte in Amerika, Asië en Europa vind. Dus, teenstrydig soos dit mag klink, is politieke vloeibaarheid nie vir hulle ‘n probleem nie: elke diktator het sy prys, ‘n paar miljoen hierdie kant toe of daardie kant toe vir hierdie korporatiewe reuse met begrotings wat die gemiddelde Westerse land na die kroon steek, maak weinig verskil. Of soos ‘n groot en uitgelese kommunis van China eens gesę het, dit maak nie saak of ‘n kat swart of wit is nie, net so lank hy muise vang.
* In Suid-Afrika plaas Afro-sosialiste in Cosatu en die Kommunistiese Party druk op die sogenaamde drieledige alliansie. Nelson Mandela moes as ‘n soort paaiboelie-figuur op die openbare voorgrond gedruk word; so moes hy die onoortuigende Thabo Mbeki se leierskap stut. Mbeki was omstrede by gewone ANC-ondersteuners weens sy toegeneentheid vir Korporatiewe Sosialisme (soos blyk uit sy steun vir die sogenaamde privatiseringsbeleid), en by die internasionale gehoor andersyds oor sy onaanvaarbare vigsbeskouings en die uitoefening van ‘n soort swygreg wat Zimbabwe se grondkwessie betref. Die Korporatiewe Sosialiste vermoed, nee, wéét, hierdie “silence is consent”.
* Ook wat die ANC se direkte Swart mededingers in Suid-Afrika betref, het die geskiedenis die Afrikaner geleer dat daar nie op hierdie prinse en konings vertrou kan word nie. Buthelezi en Mangope is bejaard en Bantu Holomisa van die UDM is ‘n opperste opportunis wat, afhangende van die eise van die omstandighede, ewe tuis by die ANC as by dr. A.P. Treurnicht se begrafnis is.
* Wat Afrika-alliansies betref het ‘n vennootskap met die Afro-kommunis, Jonas Savimbi, getoon dat die Afrikaner se ingeligtheid oor “plaaslike omstandighede” beroerd verby is en dat die Afrika-mens se opvattings oor lojaliteit nie sonder mag (waaraan die Afrikaner in die stadium geheel en al mank gaan), kan gaan nie.
ANC-legitimasie by die Afrikaner
Tot aan die einde van die bewindstyd van mnr. P.W. Botha was die amptelike NP-regeringstandpunt dat die ANC ‘n onwettige organisasie is weens (a) sy verbintenis tot geweld, (b) sy lidmaatskap van ‘n drieledige alliansie waarvan die Kommuniste Party een is, en © die ANC se onderskrywing van kommunistiese beginsels soos vervat in die Freedom Charter. Nie-amptelik het NP-stutorganisasies soos die Broederbond gesprekke met die ANC begin voer (gesprekke van onder meer destydse AB-baas prof. J.P. de Lange).
Daar is heimlik en openlik gehoop dat daar ‘n bres in die ANC geslaan kan word deur hulle te benader as nasionaliste (van die pan-Afrika-soort?) en sosialiste (kommuniste).
Een van die voorstanders van so ‘n gedagterigting is niemand minder as oud-AB-baas prof. Carel Boshoff. Prof. Boshoff van Orania was deel van die Vryheidsfront, in navolging van strategieë wat gehoop het dat daar ‘n durende verstandhouding tussen die Afrikaner en die nasionaliste (Afro-sosialiste?) van die ANC kan kom. As neweproduk hiervan glo hulle skynbaar dat hierdie verstandhouding die ANC sal help om terug te beweeg na sy oorspronklike vreedsame uitgangspunte van 1912 en dat die (Euro-) kommuniste/sosialiste terselfdertyd hulle goedjies sal pak en gaan.
‘n Joernalis soos ZB du Toit het hierdie gedagterigting aanvanklik versigtig in die KP-lyfblad Patriot probeer bevorder en later by die Sondagkoerant Rapport hom kras uitgelaat oor die illegitieme bewind van die NP-regering. Die teenkant van daardie munt is vanselfsprekend dat die ANC-bewind legitiem is.
Dit was in elk geval nie gewaag om te voorspel dat die breëre Afrikanerdom spoedig sou inval by die gedagte dat die ANC-bewind legitiem is nie. Die Groep van 63 het dié verskynsel goed beredeneer deur sake soos parogialisme en konformisme aan te roer en gekla dat soos in die dae van apartheid daar by die Afrikaner opnuut ‘n gekloek agter ‘n nuwe keiser aan is.
Daarenteen is daar steeds ‘n groep behoudende Afrikaners wat betoog dat die oorgawe aan die ANC bedrieglik - en daarom onwettig was. Deel van dié groep se motivering waarom daar nie aan enige verkiesing onder ANC-bewind deelgeneem moet word nie, is dat hierdie deelname net gewig verleen aan die ANC se aanspraak op gesag oor die Afrikanervolk, die Blankes en derhalwe Suid Afrika.
Gunswerwing
‘n Ander oorweging waarom behoudende Afrikaners die ANC as ‘n legitieme mededinger in die politiek aanvaar het, was dat hulle gehoop het dat die ANC-leiers afsonderlik aan hulle ‘n goeie oor sal verleen wanneer die saak van Afrikanerselfbeskikking voor hulle gebring word. ‘n Mens kan jou goed voorstel hoe persoonlikheidsprofiele van ANC-leiersfigure onder die Afrikaner politieke gemeenskap rondgestuur is, hoe hierdie profiele bestudeer is om gewaande swak plekke te ontgin in onderhandelinge en private gesprekke. Omstreeks 1994 was selfs die KP-leier dr. Ferdi Hartzenberg in gereelde gesprek met Nelson Mandela. Op dieselfde patroon was daar gesprekke tussen Mandela en godsdiensleiers, ook Afrikaner-kerkleiers. Pieter Mulder van die Vryheidsfront het, klaarblyklik in navolging van hierdie besondere onderdeel van die beïnvloedingspolitiek (lobbying), van tyd tot tyd met (let wel), die afgetrede Mandela beraadslaag.
Of die ANC nie vir Machiavelli en sy politiek ken nie! Of die ANC nie self met ‘n gros persoonlike politieke profiele van Afrikaners rondloop nie! Die doodloopstraat waarin prof. Carel Boshoff wat betref die erkenning van Orania met die ANC beland het, die feit dat leiers soos dr. Hartzenberg nie uit die staanspoor die vrugteloosheid van hierdie ge-oeloe-oeloe met die ANC ingesien het en dat dit as suurstof vir die ANC (en sy aansprake om wettigheid by gewone Afrikaners), en nie as suurstof vir Afrikanerselfbeskikking dien nie, toon die bedenklikheid van dié persoonlike gunswerwingoefeninge.