OMSTANDIGHEDE SO KENMERKEND VAN DIE LAND
Onlangs is 'n aantal AWB-ledeweer in hegtenis geneem, volgens 'n berig met 'n ongelisensieerde wapen en ammunisie onderweg na De Doorns om te keer dat De Doorns se boere weer die slagoffers van die lamsakkige polisie word deurdat daar nie behoorlik deur die polisie teen plunderende bendes wat hulle as stakende plaaswerkers voordoen, opgetree word nie.
Dit, hierdie prysenswaardige optrede van die ongelukkige Afrikaners, maak hul uiteraard reeds die slagoffers van omstandighede, omstandighede so kenmerkend van die land waarin ons leef met die behoorlike handhawing van reg en orde verreweg nie een van hierdie kenmerke nie.
Al wat daar vir hierdie ongelukkige mense wat in die hande van die spesiale ondersoekeenheid, die sogenaamde Valke, geval het, gesê kan word is dat die provokatiewe omstandighede waarin hulle opgetree het, in alle waarskynlikheid 'n heel laaste, indien hoegenaamd, in aanmerking sal kom in die oorweging van hul skuld.
Hierdie provokatiewe omstandighede mag dalk as oorweging ná skuldigbevinding in die strafhof te berde gebring word.
Hierdie saak, die provokatiewe omstandighede, dit is spesifiek ook die verval van reg en orde, en dan - binne hierdie klimaat van verval - tarting en uitlokking om tot een of ander daad van verweer en ordeskepping oor te gaan soos die groepie AWB's gister onderweg na De Doorns op die oog af wou doen, skort dringende oorweging.
Dit noop egter ook om die aangeleentheid van die gehele provokasie wat die Afrikanervolk in besonder en die Blanke in die algemeen in die land moet verduur, onder die loep te neem. Ons bedoel hier dat provokasie soos ons dit ervaar nie net die gevolg is van wrywing tussen Suid-Afrika se eerste- en derdewêreld, sy besitters en besitloses, Moslem teen Christen, Swart teen Wit en een ongelyksoortige teen 'n ander is nie. Ons bedoel dat in die hele provokasieklimaat wat in die land, en dan in besonder onder die Afrikanervolk heers, 'n diaboliese bedagte opsetlikheid teenwoordig is bedoel om die Afrikanervolk te verlam en die ANC en sy rewolusie nog vryer teuels onderweg na die Swart kommunistiese heilstaat te gee.
Oor die opsetlikheid waarby die ANC-regime en sy meelopers en insypelaars in behoudende Afrikanergeledere binne die groter raamwerk van provokasie verantwoordelik is, is genoeg bekend. Die bekendste is seker die goedgekeurde staatsprovokasie wat deur middel van die polisie geskied het wat die lede van die Boeremag oor die afgrond gehelp het.
Daar was ook 'n berig in 'n Engelstalige Johannesburgse koerant oor miljoene wat deur die ANC-staat toegedeel is ten einde sekere gewese vooraanstaandes binne die AWB voort te help op hul pad as beweerde provokasie-agente.
En nog meer.
Het die Afrikaner egter al die heel slinkste metode van provokasie behoorlik oorweeg, daardie provokasie wat uit die gees, die gebied van die godsdiens, opereer?
Dis onnodig om te verklaar dat die Afrikanervolk en die Blanke op 'n mespunt in ons land beweeg. 'n Opmerking wat hierdie onsekerheid goed beskryf is dat die toekoms duister is.
Die voor-die-hand-liggende om in hierdie onsekere toekoms in te kyk, is om op een of ander wyse die toekoms te probeer verklaar en dit te begryp. Want dan kan die Christen-Afrikaner hom immers op hierdie toekoms, hoe onaangenaam dan ook al, voorberei.
Die verantwoordelike deel van die Afrikanervolk weet al lankal hy kan nie staat maak op inligting, veral dan inligting wat betrekking het op toekomstige politieke en veiligheidsverwikkeling, wat deur die ANC-regime en sy inligtingsagentskappe verstrek word nie, hierdie inligtingsbedryf is een onheilige gebroedsel daarop bereken om te bedek en te mislei en te versluier en te provokeer.
Daar was al pogings in die behoudende Afrikaner-gemeenskap om die insameling van veiligheidsinligting op 'n verantwoordeliker wyse te bedryf, internetwebwerwe deur behoudende Afrikaners bied die getuienis van daardie pogings.
Dit ter syde want daar is 'n saak in die groter provokasie-scenario wat nou aangeraak móét word. Dit is die saak wat bes moontlik vasgevat kan word deur dit as die “profetiese provokateur-bedryf” te bestempel.
Die eerste opmerking oor die “profetiese povokateur” is dat internetwerwe vir behoudende Afrikaners wat kniediep in die beveiliging van die Afrikanervolk staan en ook inligtingspogings bedryf, in die afgelope sowat 20 jaar dat die Swart kommuniste regeer, herhaaldelik met allerhande oordeelsdagscenario's vorendag gekom het.
Hierdie scenario's het dikwels en oënskynlik in 'n Christelik-geestelike bedding gestaan. Dit is gewoonlik van Christelike gesag voorsien deur dit te koppel aan veral Siener van Rensburg maar ook Johanna Brand se mededelings. En weens die ongegrondheid van daardie voorspellings wat betref hul toepassing op die kwesbare sowat 20 jaar wat verby is, het 'n eerbiedwaardige gelowige volksfiguur soos Siener van Rensburg dalk 'n slegte naam gekry.
Daar was al pogings om die veiligheidsinligtingscenario van die behoudende Afrikaner te suiwer deur dit 'n verantwoordelike, wetenskaplike begronding te gee wat die ernstige aard van die Afrikanervolk se veiligheidsbedreiging in ag neem. 'n Beoordeling van in hoe 'n mate daar op hierdie weg gevorder is, is egter 'n saak wat afsonderlike en indringende beskouing verg, selfs in hierdie laat uur.
So 'n beskouing sal onvolledig wees as daar nie deeglik ingegaan word nie op wat flussies bestempel is as die “profetiese provokateur”.
En om te verstaan wat bedoel word met 'n “profetiese provokateur” sal die Protestantse Afrikaner weer moet stilstaan by die “profetiese amp” in die lig van die Skrif en dan kan dit, hopelik, help met die skei van die kaf van die koring.
Kom ons steek lig op by wat dr. Steve Botes van die Afrikaanse Protestantse Kerk in 2007 geskryf het onder die opskrif, Profetiese verkondiging (dagstukkie in die APK-jaarboek vir 3 Desember):
Lees 1 Kor. 12:12-31 “...ander as profete” - Efés. 4:11
Die profete in die Nuwe Testament het nie profetiese voorspellings oor die toekoms gemaak soos in die Ou Testament nie. Hulle het die wil van God aan die gemeentes bekend gemaak. Daarom was hul boodskap die resultaat van die leiding van die Heilige Gees. Hulle prediking was woorde van stigting en bemoediging (1 Kor. 14:3). So het hulle die gemeentes opgebou (1 Kor. 14:4). En in hierdie prediking en opbouing van die gemeentes was die gelowige vrou ook betrokke (Hand. 21:9).
Hulle het geleidelik uit die vroeë kerk se geskiedenis verdwyn.
Eerstens, omdat hulle 'n gevaarlike werk gehad het, want tydens vervolging was hulle meestal die eerste wat vir hulle geloof gesterf het. Tweedens, soos die vroeë gemeentes 'n meer permanente bediening ontwikkel het, met die ouderlinge en die diakens en verskillende helpers daarin, het hulle oorbodig geword. Derdens, sommige het op die gemeentes geteer, wat kritiek en weerstand teen hulle uitgelok het.
Laastens, toe die HERE se Woord meer bekend geraak en norm vir die gemeentes geword het, het gelowiges daarin God se wil in Christus beter leer ken en nie meer profete daarvoor nodig gehad nie.
So waarsku die oudste Nuwe Testament-geskrif ná Openbaring, naamlik die Didaché of Leer van die Twaalf Apostels, gedateer 100 nC byvoorbeeld dat as 'n wandelende profeet meer as twee dae by 'n gemeente vertoef, is hy 'n valse profeet (Did. 11:5); wanneer hy vertrek, moet hy niks anders as brood neem, genoeg tot waar hy gaan oornag nie; as hy geld vra, is hy 'n valse profeet (Did. 11:6); elke profeet wat die waarheid leer en nie doen wat hy leer nie, is 'n valse profeet (Did. 11:10).
Die profete het verdwyn, maar die profesie, die verkondiging van die Woord, duur vandag nog voort tot opbou van die gemeente.
As daar in hierdie verband ‘n aanbeveling moet kom, dan is dit met nadruk, Afrikaner, lees u Bybel met aandag en bestudeer hom dag vir dag want dit is daarin waar ons rigting aangedui word!