Gén. 32:1-32: “En Jakob het gesê: o God van my vader Abraham en God van my vader Isak, o Here, wat my beveel het: Gaan terug na jou land en na jou familie, en Ek sal aan jou goed doen — ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het; want ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword.” (:9&10).
Jakob word gebore en word groot in ’n welgestelde familie. Sy oupa, Abraham, was ’n welgestelde man. “En die HERE het my heer baie geseën, sodat hy groot geword het, en aan hom kleinvee en beeste, silwer en goud, slawe en slavinne en kamele en esels gegee.” (Gén. 24:35). En Abraham het hierdie welvaart van hom aan sy seun, Isak – die vader van Jakob, gegee. “En Sara, die vrou van my heer, het vir my heer ’n seun gebaar nadat sy al oud was; en hy het aan hom alles oorgegee wat hy besit.”
(Gén. 24:36). En benewens hierdie welvaart wat Isak van sy vader ontvang het, was hyself boonop ook baie suksesvol en baie welvarend. “Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die HERE het hom geseën. En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot was: hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Fillistyne hom beny het.” (Gén. 26:12-14).
Nadat Jakob vir Esau bedrieg het, vlug hy egter uit sy ouerhuis. Ek veronderstel dat hierdie beslis ’n beproewende tyd vir ’n man sou wees wat in so ’n welvarende familie grootgeword het. Hy het ewe skielik niks – geen diensknegte wat tot sy hulp gereedstaan nie. Hy het nie meer die voorreg van ’n oorvloed van kos en lewensmiddele nie. Jakob se woorde uit Gén. 28:20&21 bevestig vir ons dat hy oor die basiese versorging van kos en klere besorg was. “En Jakob het ’n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.”
Geliefdes, ons het veel te leer deur na die gesindheid van Jakob te kyk. Hierdie man was aan ’n goeie lewe gewoond. En tog, wanneer hy uit sy ouershuis gaan, is sy bede tot God om vir hom in die basiese – kos en klere – te voorsien. Jakob beskou homself nie as geregtig daarop om buitengewone seën uit God se Hand te ontvang nie. Hy bid net in afhanklikheid van God om hom te onderhou. En met hierdie voorsienigheid uit God se Hand is hy tevrede. Hierdie vergenoegdheid is goed in God se oë. “Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.” (1 Tim. 6:8).
God het dan ook later vir Jakob ryklik geseën. “En die man het buitengewoon uitgebrei en baie kleinvee en slavinne en slawe en kamele en esels gehad.” (Gén. 30:43). Maar tog het Jakob nie ’n gesindheid ontwikkel asof hy op enigiets hiervan geregtig sou wees nie. Inteendeel, ons lees van die nederige dankbaarheid waarmee Jakob God hierin geëer het. “...ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het;...”(Gén. 32:10). Jakob was nie die enigste man in wie se lewe hierdie mooi eienskap na vore gekom het nie. Hierdie mooi gesindheid was ook in die lewe van die baie bekende koning Dawid duidelik sigbaar. Hierdie man het vir die eer van God sy lewe gewaag toe hy Góliat die stryd aangesê het. “Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.” (1 Sam. 17:45).
Daarbenewens het Dawid vele oorloë vir Israel geveg en boonop die ark van God na Jerusalem teruggebring. Hierna het Dawid ook begeer om verder ’n groot tempel vir God te bou, maar God het hom dit ontsê. Dawid vererg hom nie hieroor nie, maar berus ootmoedig by God se besluit. Ten spyte van al hierdie groot werk en opofferings in Dawid se lewe het hy ook nie vir een oomblik ’n gesindheid openbaar wat daarop dui dat hy verwag het dat God enige guns aan hom verskuldig sou wees nie. Inteendeel, ons lees in 2 Sam. 7:18 van die nederige dankbaarheid waarmee Dawid God se guns in sy lewe aanneem. “Koning Dawid het toe ingegaan en voor die aangesig van die HERE gebly en gesê: Wie is ek, Here HERE, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het?”
Hierdie gesindheid van nederige dankbaarheid wat vir ons deur die lewens van Jakob en Dawid openbaar word, staan in skrille kontras met ’n gesindheid wat ongelukkig ook baie geil, soos ’n onkruid, in ons volksakker opgeskiet het. Hierdie gesindheid wat die mens van ons tyd het om op voorspoed, geluk en allerhande seën “geregtig” te wees. Ja, tot so ’n mate dat mense in verwaandheid uitsprake maak wat klink asof hulle bevele aan God uitdeel om hulle met hierdie of daardie te “seën” asof hulle op al hierdie dinge geregtig sou wees. Hierdie verwronge siening verskuif die fokus van ’n mens se diensbaarheid aan God en dankbaarheid teenoor God na een waar God aan die mens ondergeskik sou wees en moet handel om gedurig die mens se begeertes te bevredig – of dit in ooreenstemming met Sy wil sou wees, al dan nie. Dĺt is beslis geen ware Godsdiens nie.
Dit is tog vir ons duidelik uit die lewe van Christus wat self Sy eie wil volkome aan God se Wil onderwerp het eerder as om God voor te skryf om na Sy wil te handel. “Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?” (Matt. 26:53&54). Geliefdes, selfs nie die vlekkelose, die geliefde Seun van God, het Sy begeertes as bevele tot God gerig nie, maar met diepe nederigheid en volkome onderworpenheid aan die Vader se wil. “En Hy het ’n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt. 26:39).
Mag hierdie voorbeelde uit God se Woord opnuut by ons die bewustheid bring van die verwerplikheid van ’n lelike eienskap wat in ons samelewing algemeen sigbaar word. En mag ons daarna streef om ook met nederige dankbaarheid ’n lewe van vergenoegdheid voor God te leef. Laat ons nie leef as mense wat op die guns, seën en goedheid van God geregtig sou wees nie, maar eerder as onverdienstelike diensknegte – mense wat fokus op die eer en dank wat ons aan Hom verskuldig is eerder as op die verwronge gedagtes van Hom wat aan die mens iets verskuldig sou wees. “So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Luk. 17:10).
Amen.