1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
8260794

Besoekers aanlyn

Ons het 35 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

NUWEJAARSBOODSKAP VAN DIE LEIER VAN DIE AVP VIR 2023

Danie Varkevisser spreek kongres toeOU BOODSKAP VIR ‘N NUWE JAAR?

Ek herinner my as voormalige onderleier van die Herstigte Nasionale Party hoe daar tydens verkiesingsveldtogte deur Afrikanerlandgenote na ons verwys is as: “Julle hap na pap”, julle ry nog op die ossewa, julle het laertrek mentaliteit, julle sien nie die groter prentjie nie, julle is verkramp, ens.! Was u ook aan die ontvangkant daarvan of dalk het u daaraan deelgeneem? Nietemin het daar sedertdien tyd verloop en het baie van ons volksgenote die veilige laer verruil vir wat as veiliger, beter en polities as kundiger en meer in lyn met die veranderde gees van die moderne tyd voorgehou is. Was die veranderings en deel daaraan die oplossing?

Politieke perspektief

Wanneer jy geloof verloor in jou eie saak, is dit vanselfsprekend dat jy ontvanklik sal wees vir ‘n ander oorweging. Toe die NG Kerk in 1986 apartheid as sonde verklaar het, was dit professor Johan Heyns wat in debat, saam met ander “gelowige” bedienaars van die Woord aan mnr. Jaap Marais verduidelik het dat apartheid “etnosentries en ideologies van aard geword het. Op mnr. Marais se vraag of hulle vir hom kan sê van wanneer af het apartheid só geword sodat hy kan bepaal van wanneer af hy dan nou sondig geword het. “Voordat julle my antwoord, sê dan net eers vir my waarom, as al die jare voor 1986 apartheid onder dieselfde beleid en beginsel, nie etnosentries en ideologies van aard gewees het nie, waarom is dit dan nou so?”

Tenspyte van die feit dat hulle moes erken dat hulle hom nie daarop kon antwoord nie, die NG Kerk en ander kerke almal saam, voortgegaan het om die staat te ondersteun in hulle beleidsverandering om aan internasionale druk toe te gee vir verandering, tenkoste van ons volk!

Mnr Marais se onwrikbare teenkanting teen hierdie noodlottige aanpassings op kerk en politieke gebied is op veragtelike en onbeskofte wyse afgemaak as daar teruggekyk word na bv. Flip Buys se brief in 1997 aan mnr. Marais.

From:  “fbuys” <Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.>

To:  < Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.>

Subject:  Oom Jaap niksdoen

Date:  Thu, 13 Mar 1997   04:04:42   +0200

Oom Jaap,

Jy is so kwistig met die lasterkwas besig teen byna elke mede-Afrikaner wat bestaan, maar jy het selfs niks gedoen om te keer dat die ANC aan bewind kom nie.  Jy skinder, skimp en maak alle Afrikanerleiers verdag, net soos die bekende Kommunistiese strategie.

Dis nie ‘n wonder dat daar nou ook smeerpamlette teen oom versprei word nie.   Ek verag mense wat in hierdie moeilike tye ons volk nog meer verwar en moedeloos probeer maak met leuens en verdagmakery, soos sulke smeerpamlette en soos “Die Afrikaner”.  Dis sekerlik die grootste beswaddering van die Afrikaner se naam om u koerantjie so te noem.  Kry oom nie skaam nie?  Mens kon hom vroeer jare nog lees toe ZB, oom Louis Stofberg en Henk vd Graaff nog daar gewees het.

Om nie met mense soos Dr Hartzenberg,   Genl Viljoen, Mnr Bruwer en andere saam te stem nie is u demokratiese reg, maar om sulke manne wat alles vir hulle volk opoffer weekliks so te belaster en te beledig skree ten hemele. 

Dit is nie ‘n wonder oom het nog nerens gekom in die politiek nie.  Ek hoop die waarheid oor oom se rol in die afbreek van ons volk en geheulery met agente soos Piet Petoors kom in die hof uit en ontbloot jou vir wat jy is oom Jaap.   Moenie die goeie gewone mense van die HNP mislei met jou benepe en paranoise gesanik nie.

Flip Buys.

WAS FLIP TOE REG EN OOM JAAP VERKEERD?

Dr. Hartzenberg, Dries Bruwer, dr. Piet Gous Genl Constand Viljoen, “alles opgeoffer vir hulle volk??”. Van watter volk praat Flip? Al drie, saam met ander linkses, intens betrokke by die Conservative Dialogue Program van Ivor Jenkens, van Zyl Slabbert Alex Boraine, jurgen Kogl en Braam Viljoen in die Idassa Komplot, in belang van die voordeel van die swart regime? ‘n Komplot wat in die geheim beplan en uitgevoer is om ons volk uitgelewer te kry aan die magte van die duisternis!

Steeds is Buys saam met die F.W. Stigting daarby betrokke. Nog nooit het hy verskoning gevra vir sy aanval op mnr. Marais nie en doelbewus gaan hy voort in ontkenning om ons volk besig te hou met sy magsdeling en wy hy “alles” daaraan om ons volk te kry om saam te werk met die swart kommunistiese meerderheidsregime! Op die kommunistiese metode van een ding sê en dan anders te doen soos waarvan hy Jaap Marais, wat veel ouer as hy en bepaald baie wyser was, beskuldig en beledig het! Dit terwyl elke ding waarvoor mnr. Jaap Marais gewaarsku en sý lewe ge-offer het om dit te verhoed, nou sigbaar gebeur het en ons land en Afrikanerbesit in stof en as lê! Is die man dan blind en doof, of is hy maar net bloot van nature ongeskik?

Watter ander afleiding kan daar gemaak word as dat Flip Buys intens betrokke was en steeds is by die ondergang van ons Afrikanervolk, al bewys die geskiedenis hom verkeerd? Al skreeu honderdduisende vermoordes se bloed ten hemele en verkeer ons land in rommelstatus? Al is daar nie krag en water, al lê die Spoorweg, die lugdiens, Denel en Krygkor in stof en as, al het bykans alle dienste van alle munisipaliteite, die poskantoor en staatsdepartemente tot stilstand gekom?

Moet Afriforum dit herstel terwyl hulleself ook ingekoop het in magsdeling wat ten grondslag lê van ons ellende, of is hulle die doek wat oor die Afrikaners se oë getrek moet word??

OPE BRIEF AAN DR. DIRK HERMAN OOR SY OPE BRIEF

Dit is tog wonderlik hoe tydsverloop genesing kan bring. Die tydsverloop waarna ek hier verwys het egter  vir ons volk ook erge benouing gebring wat ons gespaar kon gebly het.

Jou brief handel vanuit Maroela Media se meningsvormingsdebat dat ons ‘n plig het om nee te sê en mekaar te help. Daarmee kan ek nie verskil nie behalwe om te sê dat jou aanvanklike beperking van vriende en makkers, asook die behoefte van waarmee jy wil hê dat “ons” mekaar moet help, beligting benodig.

Jy sal begrip hê dat daar Afrikaners in ons land oorgebly het wat verskil met die woordgebruik en politieke inklinasie van beide Solidariteit en Afriforum.  Julle vermy sover moontlik die term Afrikanervolk wat ons onderskei van ander volke en julle verfoei die beleid van Afsonderlike Ontwikkeling wat deur die woordgebruik “apartheid” gedemoniseer en beklad is met alles wat dit nie is nie.

Ek bemerk egter uit jou brief ‘n weerstand teen onreg en vergryp van mag, wat veral nou in duidelikheid neerslag vind waar die liberale denker  se verwagting van samewerking, hulp en morele handeling in ‘n tyd van nood, besig is om sy grootste knou te kry!

Namate die gebrekkige en vewaande “beter  politieke insig” van die hedendaagse politiek- selfaangestelde politieke leiers, se  wanstaltige moderne politieke ideolgieë in die voorspelde voë van ons eertydse kundige Afrikaner leiers  begin val, waarteen jy nou beswaar het, sal beide Solidariteit en Afriforum  die Afrikanervolk se steun en befondsing  begin verloor en sy leiers soos Jan Smuts en F.W. de klerk as verraaiers verstoot word.

Daar is weinig indien nie elke hofgeding waarin Solidariteit en Afriforum betrokke geraak het, wat nie ‘n simptoom is van die Afwyking van die beginsel  van Afsonderlike Ontwikkeling nie. Magsdeling in ‘n multikulturele samelewing waar getallepolitiek  die “morele” basis vorm, is sekerlik die mees immorele stelsel ten opsigte van die Afrikanervolk waarteen ons eertydsse leiers nog altyd gewaarsku en gewaak het! Rasseskeiding is ‘n natuurlike grens wat God self geskep het en deur geen hof ongedaan gemaak sal kan word wat geregtigheid  tot gevolg moet bewerk nie. Hierin vertoon jy en jou organisasies ‘n teenstrydigheid!

Dit werk nie eers in Afrika waar daar hoofsaaklik homogene rasse in lande betrokke is en konfrontasie as gevolg van onverdraagsaamheid vanweë kultuurverskille heeltydse  gewelddadige konflik die gevolg is! Dit is asof die moderne gees van eenheid in verskeidenheid die jongmens se verstand só benewel het dat nugterheid vir sigbare en onhaalbare politieke maatreëls ‘n ondeurdringbare newel geword het. Dit het selfs deurgedring tot die aanvaarding van die selfdegeslag huwelike en homoseksualisme in die kerk! QUO VADIS AFRIKANER??

Omdat die reg nie meer reg is nie maar gek soos wat jy dit stel Dirk,  daarom kom die groter gemeenskap nie hul plig na om nee te sê en skreeu hulle dit nie van die dakke af nie!  Omdat julle nie saam met ons nee gesê het toe julle moes nie  en  julle dus nie nou  meer  vertrou  word met ons Afrikanervolk se sake  nie! Julle verwerp nie die godlose grondwet met al die onreg en boosheid wat in hom opgesluit is nie. Julle verwys na ons as ‘n minderheid asof ons nikseggend is. ‘n Volk is tog ‘n volk! Ongeag sy getalle! Wat meer is, hierdie land is óns land wat besig is om deur leuens en onreg onder ons uit gesteel word en julle wil dit deel met ons uitgesproke vyande se lakkeie wat ‘n bewese rekord van onreg en magsmisbruik al vir eeue vertoon! Daar is ‘n intuïtiewe Godgeskape gevoel van wat reg en wat verkeerd is wat nie deur wetgewing verander kan word nie. Om die mag van die wet te misbruik om jou eie vertolking van wat jy dink reg is op ander af te dwing, is magsmisbruik en ‘n vergryp aan wat natuurlik reg is.

Dirk, jy verwys na die stelsel wat op julle platgeval het.  ‘n  Regter bevind dat hulp in ‘n krisis op grond van die kleur van jou vel gegee mag word en die stelsel meen dis reg so, skryf jy! .Die stelsel het hierdie saak op morele vlak verloor. Om belastingbetalers se geld te vat om hulp te gee op grond van die kleur van jou vel, is moreel siek, sê jy!

Dit Dirk, is die stelsel waarteen daar sedert die ou Sappe se beleid deur ons Afrikanerleiers gestry en gewaarsku was! Dit is die beleid wat Solidariteit en Afriforum vandag in wese ondersteun! Dít is die onreg wat ons nie moet aanvaar nie, ‘n benadering wat voorspel is dat dit in ‘n rassestaat sal ontwikkel!

Jou erkenning dat:  “Die regering het ons egter nou weer eens laat besef - ons moet ons eie ding meer, en op nuwe maniere doen”,is die bewys dat Afsonderlike Ontwikkeling reg was, reg is, moreel verdedigbaar en in elke betrokke volk se belang! Die doel en betekenis daarvan was en is vandag nog dat elke volk die reg het om volgens sy eie aard, sy eie behoeftes en sy eie vermoë oor homself te regeer binne sy eie grondgebied. Dít is moreel regverdigbaar en die oplossing vir alles waarteen jy  nou  jou makkers en vriende oproep vir samewerking en hulp.

Indien jy in die Afrikanervolk se geskiedenis ‘n bydrae wil maak, verander die koers van Flip Buys en F.W. Stigting se koers met Solidariteit en Afriforum, wat met hoofsaaklik Afrikanergeld tot stand gebring is, om Afrikanersamehorigheid te verkry. Dan sal jy bydra om ons te beveilig, ons kultuur uit te leef en op te pas, saam te leef, te konsentreer en saam  te bid. Dan sal jy voorwaar reg wees as jy sê: “ Dis die wapens in ons hande” - voorwaar kragtige wapens waarvoor ons vyande vrees en hulle bes doen om ons verdeeld te hou deur gebruikmaking van partye en organisasies wat ander se belange hoër ag as ons Afrikaner en ons land se belange.

Reg en geregtigheid setel by ons Hemelse Vader. Mag Hy dit in Sy raadsplan vind om ons Afrikanervolk weer bymekaar te bring! Een van Siel en een van Sin!

Danie Varkevisser

Leier Afrikaner Volksparty

Die Afrikaner Volksparty glo steeds aan die beginsels en beleid soos wat ons dit ontvang het van genl. Hertzog, dr. D.F. Malan, advk. Hans Strydom, en dr. H.F.Verwoerd. Die samehorigheid wat onder hulle leiding in ons Afrikanervolk  geheers het het verval toe daar van hulle toegepaste beginsels en beleid afgewyk is na die sluipmoord op dr. Verwoerd!, Die voormalige leiers van die HNP, tot en met die afsterwe van W.T. Marais, dit is húlle wat hulle alles gegee het om die beleidsafwyking te stop in belang van  ons volk en bepaald nie diegene wat ander volke se belange bo ons eie volk s’n begin stel het nie, en selfs nou nog daarmee besig is!!

Om dit wat vernietig is te kan herstel en instand te hou is daar allereers die slagspreuk van dr. Malan: “Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar tuis hoort”, wat moet plaasvind! Wanneer het ons volk laas saam gesing, saam gebid en saam fees gevier? Die verdeeldheid in Afrikanergeledere moet stop en, samehorigheid wat noodwendig sal lei tot samewerking, gesamentlike verset en uiteindelik volkseenheid waardeur ons ons gedenkdae, ons volksbyeenkomste, ons vryheid weer herstel kan word, dit is die strewe van die AVP!

Om ons Afrikanerhuis wat geval het, soos wat ons in God’s Woord lees onvermydelik is wanneer ons verdeeld is, weer op te rig, moet eensgesindheid nagestreef word waarmee verdeeldheid teëgewerk sal word. Heg saamgebind op beginsel van geloof en politieke beleid, was ons volk nog altyd ‘n gedugte mag en het ons hoë hoogtes en vooruitgang waarin almal kon deel bereik onder die seënende hand van ons hemelse Vader. Laat dit elke Afrikanerman, vrou en kind se strewe vir 2023 word terwille van ons voortbestaan. Teen volkseenheid is ons vyande nie bestand nie! Laat dit dan ons ywer wees, ongeag die weerstand, selfs uit eie volksgeledere wat ons verdeeld wil hou.

Aan elkeen wat hier lees, bid ons die seën van ons hemelse Vader toe vir die jaar wat vir ons voorlê!

Danie Varkevisser

LEIER VAN DIE AFRIKANER VOLKSPARTY

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie