1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9319318

Besoekers aanlyn

Ons het 105 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

SOOS KLEI IN SY HAND

BybelJer. 18:1-23 “En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk – soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker – maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.  Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:  Sal ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van Israel?  spreek die HERE.  Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o huis van Israel!” (:4-6).

Jeremia gaan in opdrag van die HERE na die huis van die pottebakker.  Hy sien dat hierdie pottebakker besig is om ‘n werk op die skywe te maak en neem die man se werk waar.  En Jeremia sien hoedat hierdie werk misluk.  ‘n Teleurstelling.  Maar die pottebakker staak nie sy werk nie.  Die pottebakker gooi nie die klei na eenkant en storm in ergernis uit nie.  Die pottebakker gaan sit nie op ‘n hopie en kry homself die res van die dag jammer nie.  Die pottebakker ken sy lees.  Dit is hoe dit gaan.  Die klei werk nie altyd saam nie.  Maar die oplossing is dan om die mislukte werk van voor te begin en weer te probeer om ‘n ander voorwerp daaruit te maak soos wat dit in die pottebakker se oë reg is.  Ja, die pottebakker weet presies wat om met hierdie misvormde stuk klei, hierdie mislukte voorwerp te doen.  

Die HERE spreek dan ook deur hierdie gebeurtenis en deur Sy Gees tot Jeremia hierdie kosbare boodskap.  Ja, soos wat hierdie mislukte werk in die hand van die pottebakker weer tot ‘n bruikbare voorwerp hervorm kan word, is dit ook met die volk van God.  Hy kan ons ook in ons mislukte en misvormde staat weer tot ‘n bruikbare instrument in Sy Hand vorm.  En soos wat enige toeskouer wat nie die pottebakker se werk verstaan nie sal dink dat dit gedaan is met die mislukte klei in sy hande, lyk situasies menigmaal hier op aarde ook vir ons na ‘n volslae mislukking – geheel onredbaar!  Dit lyk ook vir ons asof daar nie weer iets goed daaruit na vore kan kom nie.  Maar die feit dat ons dit nie kan raaksien nie beteken nie dat dit vir die Pottebakker nie moontlik is nie.  Dink maar in hierdie verband aan Moses wat al verskeie maal gesien het dat niks vir God onmoontlik is nie.  Wanneer God in Núm. 11 aan hom stel dat Hy vir die volk vleis sal gee dat hulle vir ‘n hele maand lank sal eet, is dit vir hom net gewoon onmoontlik om te sien hoedat dit enigsins kan gebeur.  Hy is in die situasie – in die middel van die woestyn.  Daar is gewoon net nêrens soveel vleis vir so ‘n groot menigte beskikbaar nie!  En God stel dit aan hom duidelik dat dit nie vir Hom onmoontlik is gewoon omdat Moses nie die moontlikheid hiervan kan insien nie.  “Toe sê Moses:  Seshonderdduisend te voet is die volk onder wie ek verkeer; en U het gesê:  Ek sal aan hulle vleis gee, en hulle sal ‘n hele maand lank eet!  Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees?  Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is?  Maar die HERE sê vir Moses:  Sou die hand van die HERE te kort wees?  Nou sal jy sien of my woord vir jou uitkom of nie.” (Núm. 11:21-23).

Geliefdes, ek glo nie dat daar een van ons is wat nie iewers in ons lewe die punt bereik het dat ons soos ‘n mislukking gevoel het nie.  Tewens, die samelewing rondom ons lê besaai met die lyke van mense wat op moedverlore se vlakte sit.  Mense wat gewoon nie kan sien dat dit weer beter kan gaan nie.  Maar in hierdie slegte omstandighede is twee aspekte baie belangrik.  Ons moet ten eerste besin waarom ons in so ‘n staat van moedeloosheid en mislukking beland het.  En ten tweede moet ons onthou dat daar absoluut geen toestand is waar die hand van die HERE te kort sou wees om te help nie.  

‘n Eerlike beoordeling oor ons lewe sal vir ons uitwys dat ons in ‘n situasie van moedeloosheid - waar ons soos ‘n mislukking voel - beland het omdat ons nie in stille ootmoed God wou toelaat om as Pottebakker ons na Sy wil te vorm en te gebruik nie.  Ons sal in retrospek sien, en moet erken, dat ons in eiesinnigheid ons eie wil, begeertes en strewes bo die wil van God wou laat seëvier.  Ons wou nie ‘n instrument in Sy Hand wees nie, maar ons wou die Pottebakker wees.  En kort voor lank eindig ons met ‘n nuttelose, doellose, mislukte voorwerp.  Wel, dit is ten minste al wat ons kan raaksien.  Maar die Pottebakker sien natuurlik wat met hierdie mislukte voorwerp kan gebeur wanneer dit in Sy Hand geplaas word.

Geliefdes, ons het dan natuurlik ook die keuse of ons die hele tyd die oë wil vestig op die mislukte voorwerp op die skywe en of ons eerder verkies om die oë te rig op die bewonderingswaardige Pottebakker wat die grootste mislukte voorwerp tot ‘n bewonderingswaardige en uiters bruikbare voorwerp kan omskep.  Was Paulus nie ook vir ons ‘n uitstekende voorbeeld in hierdie verband nie?  Hy wat sy eie oortuigings en strewes bo die wil van God geplaas het.  Maar deur die genade van die HERE is hy tot ‘n uiters bruikbare instrument van die HERE omskep!  Sy getuienis in 1 Kor. 15:9&10 getuig hiervan dat hy ook sy eie mislukking raakgesien het en daarna die Pottebakker toegelaat het om hom na Sy Wil te hervorm.  “want “ek is die geringste van die apostels, wat nie werd is om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het.  Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.” 

Geliefdes, mag ek en u in ons lewens daarop fokus om met bereidwilligheid ons hele lewe soos klei in die Hand van die HERE te stel.  Ons lewens is veiliger in Sy Hande as in ons eie.  En mag Hy ons vorm tot bruikbare instrumente in Sy Hand.  “As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy 'n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.” (2 Tim. 2:21).

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie