Rom. 13:8-14 “WEES aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die wet vervul. Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.” (:8-10).
Ek dink dat die meeste van ons nie daarvan hou om aan ‘n ander iets te skuld nie. Dit is vir die meeste van ons hinderlik. Dit is iets waaraan ons gereeld dink. Daar kan so maklik iets onvoorsiens gebeur en dan kan ek nie die skuld betaal nie. En wat ‘n verleentheid sal dit nie wees nie! Hoe sal ek weer die ander party in die oë kan kyk? Ons word dan ook uit Rom. 13:8 aangeraai om nie aan ‘n ander iets te skuld nie, want dit kan so maklik verhoudings versuur wanneer ons nie hierdie skuld kan betaal nie. Daar word egter ‘n enkel uitsondering in Romeine 13 gemaak. En hierdie uitsondering is dat ons liefde aan mekaar verskuldig is. En wanneer ons mooi daaroor dink, besef ons dat verhoudings ook baie skade ly wanneer ons nie hierdie skuld (van liefde) aan mekaar betaal nie.
Hierdie woorde van Paulus aan die Romeine is ‘n onderstreping van die antwoord van Christus aan die wetgeleerde wat van Hom wou weet wat die grootste gebod in die wet van God is. Christus stel dit duidelik aan hom dat liefde tot God en liefde tot die naaste die twee gebooie is waaraan die hele wet hang. “Meester, wat is die groot gebod in die wet? “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” (Matt. 22:36-40).
Kyk ons na die samelewing rondom ons, sien ons dat dinge erg skeefloop. En daar is baie faktore wat ‘n rol hierin speel. Maar een van die grootste hiervan is die feit dat mense verleer om mekaar lief te hê. En omdat mense nie hierdie skuld van liefde aan mekaar betaal soos wat die Woord ons leer nie ly verhoudings onberekenbare skade. ‘n Gebrek aan liefde is ‘n kenmerk van ‘n goddelose samelewing. Ons lees hiervan in Romeine 1:31. “onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig,”. Ons word ook in 2 Tim. 3:1-4 teen hierdie afvalligheid in die samelewing gewaarsku. En ook hierin word ‘n gebrek aan liefde uitgelig. “MAAR weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;”
Geliefdes, die lewe van Christus was vir ons die toonbeeld van ware, selfopofferende liefde. Hy het Sy lewe daaraan gewy om uit liefde aan mense goed te doen. Hy het gesond gemaak. Hy het hulle in liefde in die Woord van God gerig. Hy het vertroos en vrygespreek. En Hy het homself gegee as ‘n offer sodat daar vir ons versoening met God kan wees. Hy het nie net liefde gepraat nie – Hy het liefde geleef! Hy het vir ons gewys hoe ware liefde lyk. Hy vra nie eers van ons om ons toewyding aan Hom te bewys alvorens Hy Sy lewe vir ons aflê nie. Hy lê dit vir ons af terwyl ons nog in sonde verlore is en heeltemal onverdiend teenoor Hom staan. “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Rom. 5:8).
Ons weet ook dat God die Vader deur die lewe van Christus Jesus hier op aarde aan ons ‘n voorbeeld gestel het van hoe ons lewe voor Hom daar moet uitsien. En daarom dat die Woord van die HERE ons met soveel herhaling beveel om in liefde te leef. “Laat alles by julle in liefde geskied.” (1 Kor. 16:14). Hierdie opdrag kom ook na vore in Paulus se brief aan die Romeine. “wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; ...”. (Rom. 12:10). Die brief aan die Kolossense bevat ook hierdie opdrag. “En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” (Kol. 3:14).
Wanneer ons as mense sonder liefde leef, het ons nodig om dringende selfondersoek te doen, geliefdes. Ons is dan nie besig om die voorbeeld van Christus se lewe na te volg nie. “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Joh. 13:35). Ja, liefdeloosheid is ‘n kenmerk van ‘n ongelowige. Dit is ‘n kenmerk van die afwesigheid van God se Heilige Gees in ons lewens. Dit word vir ons duidelik gestel dat die werk van die Heilige Gees aan liefde gekenmerk word. “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Gal. 5:22). Dit word ook in 1 Joh. 4:7&8 onomwonde aan ons gestel dat ‘n mens wat sonder liefde leef God nie waarlik ken nie. “GELIEFDES, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.”
Ek hoop dat die Woord van die HERE my en u ook tot stilstand bring en laat besin of die liefde van God in ons lewens sigbaar is, geliefdes. Dalk is ek en u ook meer daarop ingestel om te bepaal en te beoordeel of ander ons liefde “verdien” as wat ons daarop ingestel is daarop om die liefde wat ons aan ons naaste verskuldig is te betaal. En so leef ons in ongehoorsaamheid teenoor die HERE omdat liefde teenoor my naaste vervulling van God se wet is. Ons is liefde aan ons naaste verskuldig nie omdat hulle dit verdien nie, maar omdat die wet van God dit van ons eis, geliefdes. Mag ons aan hierdie opdrag van God gehoorsaam wees en in woord en daad ‘n voorbeeld vir my naaste wees om ook ander tot gehoorsaamheid hieraan aan te spoor. “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;”. (Heb. 10:24).
Ek groet u met die kosbare woorde en opdrag van die HERE uit 1 Petrus 4:8. “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek.”
Amen.