Die problem met die eleksie is die kandidate en kieswet self. Hulle het lang fingers om op te maak vir hul tekortkominge. Dit is ‘n onverkwiklike psigologiese toestand wat lei tot groter gruwels. Die meeste kinders in die nuwe S.A. se vaders is onbewus van hul geboorte uit ‘n verhouding van ongebondenheid in ‘n niks omgee gemeenskap wat ‘n doellose lewe ly. Nikswetende onkunde is dus die norm, daarom word indoktrinasie opvoeding genoem, kriminele word as leiers verkies, leuens word as waarheid beskou want hulle denke was nooit hul eie nie.
Dit is makliker om mense te bedreig as om hulle te oortuig dat hulle bedreig is. Die ongeletterde in die huidige eeu is nie diegene wat nie kan lees of skryf nie, maar diegene wat nie die leuens kan insien wat hulle ingeënt is nie. Diegene wat verby die bewolking van die onwaarhede kan sien word nie deur die onbewuste massas geglo nie. Mense moenie net leer om te lees nie, jy moet leer om krities te lees en nie jou ore uitleen vir manipuleerders nie.
Waarom sal jy ‘n hanswors blameer omdat hy homself as ‘n nar gedra as dit jy is wat die sirkus bywoon? Dit is wat die DA en VF Positief nog moet leer! ‘n Slang bly ‘n slang al het hy vervel. Die gevaarlikste slang is nie die een wat sis nie, maar jou bekruip asof jy ‘n rot is. As mens dié benadering kan insien is jy naby die antwoord. As jy wil weet wat die mens dink, kyk na wat hulle doen.
Manipuleerders lieg, bedreig, kroek, behandel jou sleg en maak asof jy die probleem is. Dit is tyd om te bely: Ons is nie werktuie vir hul misbruik nie. Ons is nie knegte vir hul strewes nie. Ons is nie pleisters vir hul wonde nie. Ons is nie slagskape vir hul altare nie. Ons het ‘n eie toekoms. Niks en niemand sal ons anders oortuig nie.
2
Waarom sal mens nou fatsoenlikheid gee aan hierdie politieke orgie. Ons is ingeperk, ons mense word vermoor, winkels en vragmotors word geroof en in brande verwoes. Diegene wat sy belange beskerm word aangekla en in die tronk gegooi. Om jou te stimuleer vir hierdie eleksiedisfunksie word babas gesoen, T-hemde uitgedeel, leë beloftes gemaak en agteraf gegiggel oor jou onnoselheid. Gesigte op die pale laat jou gal opstoot tot by jou keel. Iewers tussen die eskatologie en die menslike wetenskap moet jy dit vir jouself uitmaak wie die lewe vir jou hel gaan maak en as jy dom is gaan stem jy vir hom. Hulle gee hulself voor as wonderwesens wat selfs die geskiedenis terugwerkend kan verander. Volgens hulle stink die ou Suid-Afrika.
Kan mens so onnosel wees dat jy na 27 jaar ‘n ander uitkoms verwag van dieselfde parlementêre partye wat smokkel met jou kop? As jy dans met die duiwel moet jy nie hemel op aarde verwag nie. Dit laat mens dink aan skoonlief en die ondier. Raka onteer skoonlief en omskep die mensheid in ‘n boosheid waar almal geslag word todat hy alleen oorbly. Is jy gereed om geslag te word?
As jy nou rêrig wil gaan stem is my voorstel dat jy die stembrief bederf. Hoe meer ek te wete kom van die kandidate, hoe meer hou ek van my hond.
Klaas Waarsegger