Jesaja 29:1-24
“En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My 'n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.” (:13&14).
Geliefdes, ons sukkel nie vandag meer soos die mense in die tyd van Israel om goedere te vervoer nie. Ons het planne gemaak om iets sommer blitsig van een plek na ‘n ander te karwei. En ons kommunikeer nie meer op so ‘n moeilike manier soos destyds toe ‘n “hardloper” nodig was om ‘n belangrike boodskap weg te bring nie. Ons stuur sommer gou per e-pos of Whatsapp ons boodskap deur. Binne sekondes is die boodskap oorgedra. Die mens het inderdaad met indrukwekkende inisiatief hierdie uitdagings te bowe gekom. Maar tog, wanneer ons luister na dit waaroor die HERE Sy volk in daardie tyd aanspreek en dit na ons tyd projekteer, was daar op hierdie Godsdienstige gebied weinig vordering en verbetering. Tewens, ons kan selfs argumenteer dat daar groot agteruitgang sedert daardie tyd was.
Die HERE spreek die volk Israel oor hul oppervlakkige godsdiensoefening aan. Ja, die HERE stel dit deur die mond van Sy profeet Jesaja aan die volk dat Hy die gesindheid in hul harte raaksien. Ja, ons kan Hom nie met voorgee bedrieg of flous soos wat ons dalk met ander mense kan regkry nie. “...want die Here deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. ... “(1 Kron. 28:9). Die HERE gee dit ook by ‘n ander geleentheid aan Eségiël te kenne dat Hy hierdie gesindheid in die hart van Sy volk raaksien. “En hulle kom na jou toe soos 'n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan. En kyk, jy is vir hulle soos 'n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie.” (Eség. 33:31&32). Ja, Eségiël, hierdie volk hoor My woorde, hulle praat dalk selfs saam, maar hulle leef dit nie. Hulle doen dit nie.
Geliefdes, ons lees dan waar die HERE jare later nie hierdie volk meer deur die mond van een van Sy profete oor hierdie verkeerdheid aanspreek nie. Nee, Hy as God spreek hulle self in duidelike en reguit taal hieroor aan. En Hy spreek die leiers op geestelike gebied hieroor aan. “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.” (Matt. 23:27&28). Hy leer ons self ook hoe belangrik dit is om Sy Woorde nie alleen te hoor nie, maar om dit te doen. “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met 'n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.”
Kyk ons vandag na ons eie volkslewe, ‘n volk toebedeel met indrukwekkende vermoëns, hardwerkend, bekwaam, intelligent. Maar tog ‘n verknegte volk. Dit maak tog nie eintlik sin nie. ‘n Volk wat geval het soos ‘n huis wat nie op ‘n rots nie, maar op sand gebou was! En nie alleen is ons ‘n verknegte volk onder ‘n heindense owerheid nie. Daar is ook in hierdie slegte toestand weinig raad en leiding in ons volkshuishouding. Daar is veel meer twis, tweespalt, misleiding en selfsugtige aanstellerigheid en eersoekery as wat daar sterk en duidelike leierskap wat van integriteit spreek te bespeur is. Is dit nie asof die wysheid van ons volk se wyse manne ook vergaan het en die verstand van ons verstandige mense wegskuil nie? Geliefdes, die HERE hou dit nie vir ons as ‘n geheim waarom dit die geval is nie!
Ons moet dalk een of ander tyd tot die besef kom dat die waarde van die HERE se Woord baie, baie meer is as dit wat ons as mense daaraan heg. Ja, dat die HERE se Woord nie aan ons gegee is om dit te beoordeel nie. Dit is nie aan ons gegee sodat ons net ander se foute daarin kan raaksien nie. Dit is nie aan ons gegee om sekere gedeeltes wat by ons lewens pas aan te neem en ander gedeeltes wat vir ons onaangenaam is met verskonings te probeer ontwyk nie. Die HERE het Sy Woord, Sy hele Woord, aan ons gegee omdat dit vir ons goed is tot ons lering, vermaning en ons teregwysing. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,” (2 Tim. 3:16). En die HERE verwag van ons om hierdie Woord van Hom te oordink en Sy bevele trou te onderhou. “Ú het u bevele gegee om dit trou te onderhou.” (Ps. 119:4).
Ons behaag nie die HERE deur praatjies van geloof en godsdiens nie, geliefdes. Inteendeel, ons vertoorn die HERE om ons met praatjies van Sy Woord en weë besig te hou terwyl ons lewens die teendeel spreek van wat Hy ons in Sy Woord leer. “...Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond — terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp? As jy 'n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers. Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog. Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy. Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel.” (Ps. 50:16-21).
Geliedes, kom ons gebruik ons mond om die HERE te loof. Laat ons die HERE eer bewys deur dit wat ons met ons lippe bely, ook in ons lewens ten toon te stel. Ja, die egtheid van ons liefde vir Hom en die egtheid van ons geloof word nie deur ons mond geopenbaar nie, maar deur ons optrede. “Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.” (Jak. 2:18).
Amen.