Terwyl daar by weinig, indien enige gelowige twyfel bestaan dat ons in die laaste fase van die Skepping leef en die voorspelde tekens van gruwelike verval, tekens van oorloë, aardbewings, ens. In oormaat sigbaar is, is dit juis in die sogenaamde Christenlande waar die afvalligheid hand-oor-hand toeneem.
Die omstrede besluit in Amerika om dieselfde geslag huwelike te wettig, het nie alleen in Suid Afrika die moderator van die NG-Kerk daarvoor laat standpunt inneem nie maar ook in Australië het die leier van die opposisie, Bill Shorten in sy verkiesingskampanje die Australiese president, Tony Abbot daarvan beskuldig dat hy Australië kortwiek deur aan die verlede vas te klou.
Die aantal ure wat in debatte spandeer word om mekaar daarvoor of daarteen te oorreed is eenvoudig verstommend. Die mate van minagting wat hierdeur openbaar word vir God en Sy gebod, om veel eerder die goedkeuring van die mens te werf vir iets wat spesifiek deur God verbied word, is vergelykbaar met die toestand voor Noag opdrag van God ontvang het om die ark te bou.
Indien alles wat in die geheim beplan en tot uitvoer gebring word omdat die mense wat daardeur geraak word as onbevoeg beskou word om die “regte” besluite oor hulle eie toekoms te neem saam met die openlike en uitdagende standpunte soos die immorele besluite hierbo in aanmerking geneem word, is ingrypende verandering onafwendbaar!
Die tragiese hiervan is dat diegene wat die besluite neem wat op die kieser afgedwing word, deur die kieser aangewys is om hom of haar te verteenwoordig. Het die kieser so naïef geword dat daar geen oordeelsvermoë oorgebly het nie of is die misleiding so verfyn dat die kieser dit nie kan onderskei nie? Die vraag wat ontstaan is of die kieser sy onvermoë sal kan verantwoord. Al hierdie besluite en geheime gekonkel het gevolge waarvoor die kieser net so verantwoordelik is as die persone wat hy verkies het.
Ons Afrikanervolk moet dringend kennis neem dat daar in die Woord van God hieroor ‘n vermaning bestaan wat ingrypende en vernietigende gevolge sal hê indien ons ons nie daaraan steur nie.
MATTHÉÜS 24:37-42
En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat.
Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.
Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.
LUKAS 17:26
En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: