Ek sit en prewel saggies “soos ons vadere vertrou het” terwyl my oog val op ‘n half-opgerolde Republiekvlaggie wat op die kant van my lessenaar lê.
Ek peins oor die lewe wat nog in ons volk oor is. Ek wonder in hoeveel volksgenote se huise is daar nog simboliek van ons volkie se roemryke en heldhaftige geskiedenis? Ek wonder in hoeveel volksgenote se huise is daar nog plek vir die huisaltaar – is daar nog plek vir God se gesag. Ek wonder in hoeveel van ons volkshuishoudings is Hy nog welkom? Ek wonder in hoeveel volksgenote se harte is die vryheidsug soos ‘n bruisende storm om hul geloofsvryheid te mag handhaaf, te behou vir opkomende geslagte en op ‘n daaglikse basis uit te leef? Ek wonder hoeveel volksgenote nog bereid is om te stry vir die behoud van laasgenoemde volgens die opdrag van Judas:3: “GELIEFDES, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.”
Ek vra myself die vraag af of die Afrikaner opgehou het om te leef opgehou het om te stry vir dit wat werklik van belang is? Ons moet onthou dat daar ‘n groot verskil is daartussen om te bestaan en om te leef. Daar is ook ‘n groot verskil daarin om met mekaar te stry oor kleinighede en om saam met mekaar te stry oor sake van belang. Daar is soveel hartseer verhale van mense wat gebonde was weens siekte en vir jare lank maar net ‘n bestaan gevoer het totdat die dood ingetree het, maar nie meer geleef het nie. Ek kan nie help om te wonder of die Afrikaner tans ook maar eenvoudig besig is om te bestaan nie? Is ons nie siek aan die verleiding van die wêreld en desperaat opsoek na genesing nie? Onthou, die afwesigheid van doelgerigtheid het noodwendig ‘n doellose bestaan tot gevolg. . .
‘n Groot oorsaak van die Afrikaner se doellose bestaan vandag is myns insiens te wyte aan leiers wat die verkeerde doelstellings voor oë gehad het en dalk steeds het. Dit is vir ‘n leier wat nie die siel van ‘n volk verstaan nie, feitlik onmoontlik om ‘n volk doelgerig te lei. Die leiers van die Afrikanervolk het ontaard in mensebehaers wat elke geleentheid aangegryp het om op te tree op ‘n wyse wat mense se goedkeuring sou wegdra weens die polities-korrektheid daarvan. Die hartseer ironie is dat ‘n leier wat leef om sy volgelinge ter wille te wees, ‘n volgeling in plaas van ‘n leier is. Die leiers van die Afrikaner het vergeet van die siel van ons volk en ons lewenslustige volk neergewerp in ‘n put van doellose bestaan. Die leiers van die Afrikaner het VERGEET:
Vergeet van die wonderbaarlike ontstaan van ons volk deur God se Hand;
Vergeet van die roeping van ons volk as God se volk;
Vergeet van ons Gelofte teenoor God om te leef as Sy volk;
Vergeet dat ons beloof het om ‘n huis vir Hom te stig waar Hy sou woon;
Vergeet dat God hulle as herders aangestel het om Sy kudde op te pas en nie in selfsug en gierigheid aan hulself weiding te verskaf nie.
Dit was egter nie net die leiers wat vergeet het nie – die Afrikanervolk het ook VERGEET:
Vergeet van God se wonders aan vorige geslagte;
Vergeet van God se opdrag om nie ‘n ander regering as ‘n Godvresende regering oor jou aan te stel nie – selfs nie eers in koalisie nie;
Vergeet van ons verantwoordelikheid om die huisaltaar in huise staande te hou, want ons word gewaarsku dat ons volk ten gronde sal gaan weens ‘n gebrek aan kennis.
Vergeet van ons roeping om vir God te leef ‘n lewenslange verbintenis is en nie ‘n bysaak wat vinnig afgehandel moet word sodat ek kan aangaan om die wêreldse begeerlikhede na te jaag nie;
Vergeet dat ons lewe in Hom, deur Hom en tot Hom aan ons geskenk is.
Hoe kan ‘n mens so maklik VERGEET? Hoe kan jy vergeet waar jy vandaankom – dit vorm tog ‘n groot deel van wie jy is? Ek gaan sit buite om vars lug te skep en hierdie saak te oordink. Ek voel die koue briesie wat beweeg en verlustig my aan die pragtige voëlgesang in die tuin. Tydens my soeke na die voëltjie wat hierdie pragtige lewensklanke voortbring en daarmee sy Skepper verheerlik, val my oë op die vars lentebloeisels wat heeltemal voortydig uitspruit. Ek kyk strak na hierdie teken van nuwe lewe en dink daaraan dat hierdie teken van nuwe lewe na ‘n droë en trietsige winter sommer ‘n hernieude opgewondenheid bring oor die komende lente. Nuwe lewe is altyd mooi, altyd welkom! Dit is asof die wonder van nuwe lewe die mistroostigheid van die omringende landskap eensklaps laat verdwyn.
My gedagtes word teruggebring na ‘n volk in 2015 wat beswadder, verkneg, beledig, vertrap en uitgemoor word. Ek dink aan die waarskuwings en profesieë hieroor en dink aan die steeds-toepaslikheid van die Woord van God se riglyne ter hantering van hierdie krisis-situasie. Ek wonder by myself hoe arm, verneder, honger en dors ons volk sal moet raak alvorens ons na Hom sal gaan en vra na die lewende water uit Sy fontein? “maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Joh. 4:14). Dit is hierdie water wat ons in die lewe sal hou.
My hoop is dat ons volk sal gaan na Hom om ons dors te les met die wil om te bly voortleef as Sy volk! Mag Hy ons oorgenoeg gee om te drink sodat ons siel verkwik kan word en ons kan onthou dat Hy die Bron van ons volkslewe is!