Daar is ‘n alombekende spreekwoord wat lui: “As jy nie bereid is om vir iets te sterf nie, het jy niks om voor te leef nie.” Hierdie stelling is nie alleen van toepassing op individue nie, maar soveel te meer op volkere.
My gedagtes neem my terug met ‘n arendsvlug deur die geskiedenis van die Afrikanervolk. Gelowige Christene wat vlug uit Europa om teregstelling weens hul geloof in Jesus Christus te ontvlug en gevestig word aan die Suidpunt van Afrika waar hulle hul geloof verder kon uitleef. Hierdie was mense wat nie in die stilligheid hul geloof in die geheim wou beoefen nie, maar juis hul geloof wou leef! Al sou dit beteken dat hierdie mense huid-en-haard moes agterlaat ten einde hul gelowige lewenswyse te handhaaf, was selfs hierdie prys nie te hoog om te betaal nie.
Ek dink hoedat ‘n volk die vreemde-in moes trek ter behoud van hul geloofsvryheid. Ek dink hoedat suksesvolle plase, familiebande en kinderlewens op die altaar geplaas moes word ten einde geloofvryheid as ‘n lewenswyse vir opkomende geslagte te verseker. Ek dink hoedat dure offers by Wenen, Slagtersnek en Bloukrans gebring is – van hierdie offers wat kleine kindertjies se lewens gekos het en ek wonder of die ouers wat hierdie offers moes bring ook gehoop het op die belofte van ‘n talryke nageslag in ‘n vrye land? Is daar enigiets anders as geloof, hoop en liefde wat ‘n mens kan oorhaal om sulke dure offers te betaal?
My gedagtes slaan ankers vas by ‘n donker dag toe die mag van die duisternis gedreig het om hierdie lewendige volkie te oorweldig.
Ek dink aan ‘n volk wat vasgekeer was in ‘n dal van doodskaduwee – ‘n doodskaduwee wat dreig om alle gedagtenis, alle beloftes, alle hoop te oorweldig en die laaste bietjie asem en lewensbloed uit hierdie volkie uit te wurg. Al wat hierdie volk kon uitroep in sy doodsnikke was die welbekende wekroep by Bloedrivier na sy God om hom te help en te laat leef! Hierdie volk se benoudheid was so geweldig dat hy selfs beloof het om sy bestaan as volk aan God te wy, sou Hy die opdrag vanaf Sy hemeltroon gee dat hierdie volk mag voortleef!
Ek dink aan ‘n volk wat gered is uit doodsgevaar en genade ontvang het om voort te leef op opdrag van God-Almagtig se bevel. Die voorwaarde sou egter wees dat hierdie volk die barmhartigheid van God moes onthou en dit aan toekomstige geslagte moes leer en in dankbaarheid voor Hom leef. “Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.” (1 Petrus 2:9-10). Ek lees hierdie gedeelte en dink aan ‘n volk wat bewus was van die feit dat hy geroep is deur God tot Sy wonderbare lig om die duisternis in Afrika te verdryf.
Ek onthou ‘n volk wat met mening gestry het om die duisternis te verdryf en sy bestaan daaraan gewy het om te leef soos diegene wat skyn as ligte in ‘n donker wêreld. Daar was ‘n volk wat in sy Grondwet God se gesag erken, eerbiedig en omhels het. Dit was ‘n volk wie se vlag-simboliek getuienis gelewer het van sy bereidwilligheid om te stry vir die vryheid om te leef volgens die beginsels en eise van God se Woord. Dit was ‘n volk wie se volkslied met ‘n gewyde gebedstrofe afgesluit is. Dit was ‘n volk deur wie se are die lewensbloed van sy Godsdiens gevloei het en daarom was dit ‘n volk wat nie net maar bestaan het nie, maar ‘n volk wat GELEEF het!
Ek dink terug aan hierdie roemryke tydperk van die Afrikanervolk en voel hoe my hart vinniger klop en kan myself verbeel hoedat ek selfs die weë kan voel waarlangs die lewensbloed deur my eie are pomp. Ek besef dat die lewensbloed van ons voorouers, opregte en diep Godvresende mense, ook deur my are vloei. Ek besef dat ek nog lus in my het, dat ek nog lewe in my het. . .