1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9953195

Besoekers aanlyn

Ons het 115 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Media

VAN VOLKSPLANTING (1652) NA WAARHEEN (2015)?

Op pad waarheenHaggai 1:1-15

“Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas.  Waarom?  spreek die HERE van die leërskare.  Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop.”

Dit was op hierdie dag (6 April) in die jaar 1652 dat Jan van Riebeeck hier aan die Suidpunt van Afrika aangeland het.  Hy het in opdrag van die V.O.C.  (Verenigde Oos-Indiese Kompanjie) ‘n halfwegstasie hier kom vestig en het probeer om hierdie onderneming van hom so spoedig moontlik af te handel sodat hy verder kon reis na die Ooste.

Sake aan die Kaap het egter alles behalwe voorspoedig verloop vir van Riebeeck.  Hierdie stryd en worsteling met sake het hom genoodsaak om homself die vrae af te vra:

  •      Waarmee is ek besig; en Waarheen is ek op pad ?

Die feit dat hy eers twee jaar nadat hy in die Kaap aangeland het, ‘n gelofte aan God Drie-Enig maak, bevestig vir ons dat daar weliswaar ‘n verandering in denkwyse by hom ontstaan het.  Daar het bes moontlik ‘n ingryping in sy lewe plaasgevind wat hom laat besef het dat hy na die Kaap gestuur is deur ‘n Hoër Gesag as die V.O.C. met ‘n groter opdrag as die blote vestiging van ‘n halfwegstasie. 

Na aflegging van die gelofte in 1654 is van Riebeeck se haas om aan te beweeg na die Ooste vervang met ‘n aanvaarding van sy lotsbestemming.  Ten spyte van die feit dat hy opdrag van die V.O.C. ontvang het om hom nie met kolonisasie te bemoei nie, het hy laasgenoemde begin ondersoek en  spoedig hierna word die eerste grond aan Die Vryburgers beskikbaar gestel.  Die Almagtige God van hemel en aarde het tyd en lotgeval dan ook só bestier dat die koms van die Hugenote spoedig hierop gevolg het.  Die koms van die Hugenote was nie net wonderlik omdat dit hierdie nuut ontdekte lappie aarde as toevlugsoord gedien het vir gelowiges in Christus nie, maar die toestroming van mense hierheen het kolonisasie onvermydelik gemaak.  In ‘n ommesientjie is ‘n volk hier gesaai wat uit ‘n verskeidenheid Europese volke ontstaan het en begin het om na hulself te verwys as Afrikaners as ‘n groepering.

Dit blyk uit die geskiedenis dat hierdie nuutgevonde volkie in relatiewe vrede saamgewoon het totdat die Britte hul heerskappy hier kom vestig het in 1806.  Dit was nie lank na laasgenoemde vestiging dat die eerste volksgenote op vlug geslaan het onder die juk van die Britte uit nie.  Dit is belangrik om daarop te let dat die beweegrede vir die Groot Trek juis was om onder die Britse juk uit te kom en nie omdat daar ‘n skeuring in volksgeledere plaasgevind het nie.  Die aanvanklike groepie Trekkers was maar klein, maar namate die vrae waarmee en waarheen in volsgenote se ore en gemoedere begin opklink het, het die getal trekkers spoedig gegroei na vele trekgroepe.

Grootliks versamel op die Natalse vlaktes, begaan die leiers van die Trekkers ‘n fatale fout – hulle laat die vrae – “Waarmee is ons besig en waarheen is ons op pad?” vir te lank onbeantwoord.  Elke leier en trekgroep wil in eiesinnigheid en hardkoppigheid sy eie koers inslaan en nie een koers was op daardie stadium gerig agter die Vader se leiding aan nie.  Was daar maar iemand wat die waarskuwende woorde van 2 Samuel 15:23 van die kranse af uit kon basuin, was gebeure soos Bloukrans dalk vermy!  “Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. ...”  Hierdie wederstrewigheid en hardnekkigheid is deeglik betig deur ons hemelse Vader by o.a. Vegkop en Bloukrans.  Na afloop van hierdie gebeure dring die besef tot volksleiers deur dat die vrae “Waarmee en waarheen” indringend beantwoord moet word.  Die volk soek opnuut die aangesig van God en op 9 Desember 1838 word hierdie vrae beantwoord met die Gelofte van Desember 1838. 

Die Gelofte van Desember 1838 het ons volk onlosmaaklik verbind aan God Drie-Enig as Sy volk.  Dit het die vrae “waarmee en waarheen” van 1838 beantwoord, maar ook terselfdertyd ‘n onderneming aan God gegee waarmee ons as volk onsself in opkomende geslagte sal bemoei.  Ons het onderneem dat ons “’n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die toekomende geslagte.”

Die geskiedenis leer vir ons myns insiens dat ons inderdaad vir Hom ‘n huis opgerig het waar dit Hom behaag het.  Hierdie huis is ingewy op 31 Mei 1961 toe daar met Republiekwording weereens antwoord gegee is aan die vrae – waarmee en waarheen?  Die antwoord hierop is gegee in die aanhef van die 1961-Grondwet wat dit onomwonde gestel het dat God Drie-Enig die Hoogste Gesag van hierdie huis, die Republiek van Suid-Afrika, is.  Hier was ons nie wederstrewig en eiesinnig verdeel in Vryburger, Hugenoot, Boer, Afrikaner of Boere-Afrikaner besig om elkeen net te ywer vir sy eie grondgebied en sy eie siening nie, maar ons was besig om in eensgesindheid saam te bou aan die huis waarvan Hy die Hoogste Gesag was.  Hy het verder vir ons te kenne gegee waar dit Hom behaag om hierdie huis vir Hom op te rig deur self die landsgrense daarvan af te meet en vas te stel.

Hierdie huis wat opgerig is tot eer van Sy Naam het egter spoedig onder aanval gekom.  In eiesinnigheid het die bouers en bewakers van hierdie huis verstrooid en verdeeld geraak en is hierdie huis tot in sy fondasie afgebreek.  Ons volk is gestroop van ons staatkundige vryheid, ons kerke, skole, kultuur, taal, identiteit en ons hegte familiebande terwyl ons stoflike ook nou onder skoot kom.  Waarom?

Die antwoord op hierdie waarom sal ons vind met die beantwoording van twee krities-belangrike vrae, nl.

  • Waarmee is ons besig; en

  • Waarheen is ons op pad?

Die ware antwoorde op hierdie vrae word vir ons gegee in Haggai 1:2-9, of dit is wat ons wil hoor, al dan nie.  Die duidelike aanklag en antwoord van God in vers 9 van die gelese gedeelte is dat hierdie ellende ons oorgekom het t.w.v. Sy huis wat in puin lê.  Dit bring ons by die vraag of die bestemde tyd nie dalk aangebreek het om weer te begin bou aan hierdie huis van Hom nie?  Sal Hy nie ‘n welgevalle aan ons hê wanneer ons ook begin bou verder as net ons eie huise en vir ander volksgenote as net onsself begin omgee en ondersteun nie?  Om ‘n huis en ‘n volk wat in soveel puin lê as die Afrikaner  vandag weer op te rig uit ellende, blyk weliswaar menslikerwys ‘n onbegonne taak te wees.  Ons kan egter nie moed verloor alvorens ons begin het nie, want ons moet onthou dat onse God juis die onmoontlike kan verrig.  Dit is die God waarvan ons lees in Job 5:9:”aan Hom wat groot dinge doen en ondeurgrondelike, wonders sonder getal;” en tot wie ons moet terugkeer met ons hart en siel alvorens ons met ons bouwerk begin, want ons lees in Psalms dat as die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou.  Elkeen wat homself geroepe voel om te begin help om te herstel weer te begin bou aan hierdie huis, moet egter versigtig wees hoe hy/sy daarop bou.  Ons kan nie ‘n ander Hoeksteen lê as wat daar reeds gelê is nie, want hierdie Steen wat reeds gelê is, nl. Jesus Christus, sal die hoeksteen vorm van die herstelde huis wat huidiglik in puin lê.

My indringende vrae aan elkeen wat vandag hierdie boodskap aanhoor, is dus natuurlik:

  • Waarmee is u besig; en

  • Waarheen is u op pad?

Die eerlike beantwoording van hierdie vrae sal in ‘n groot mate u keuses en lewenswyse beïnvloed wat lotsbepalend is vir elke individu, huisgesin en volk se toekoms.

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie