1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
10517017

Besoekers aanlyn

Ons het 43 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

WAAR IS JULLE GELOOF?

BybelLuk. 8:22-25:“En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester, ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het bedaar en daar het ’n stilte gekom. En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is!” (:24&25).

Die uitroep van Jesus se dissipels – “Meester, ons vergaan!”. Dit is asof ’n verklaring, asof ’n uitgemaakte saak. Daar is geen waarskynlikheid tot die teendeel of enige verdere hoop nie. Die aankondiging – ons vergaan.

En dan is dit Jesus se reaksie wat ’n verontwaardiging aandui – “Waar is julle geloof?” Julle besluit sondermeer, sonder om My eers om hulp te vra, dat die onheil vas en seker is. Glo julle dan nie dat Ek julle kan help nie? Julle tree so op asof Ek nie in jul midde is nie?

Geliefdes, die reaksie van Jesus se dissipels hier in die skuit stem geweldig baie ooreen met die reaksie van die volk Israel nadat hulle uit Egipte gelei is en by die Skelfsee vasgekeer word. Hulle vergeet opslag dat die Een wat hulle gelei het tot daar waar hulle hulself bevind by hulle is. Hulle raak ten aanskoue van die dreigende gevaar só verbouereerd dat hulle nie enige hoop of redding kan sien nie – self nie met Hom wat vir hulle so naby is as wat Hy seker kan wees nie.

Hulle besluit terstond dat die onheil vas en seker is en dat daar geen moontlikheid van ’n uitkoms is nie. “Toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, daar trek die Egiptenaars agter hulle aan; en hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die HERE geroep. En hulle het vir Moses gesê: Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saam geneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het? Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.

 

Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie,staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.” (Ex. 14:10-14).Hierdie was ook die eerste van vele benoude situasies waarin die volk Israel hulleself uit Egipte onderweg na die beloofde land sou bevind. Hierna was hulle benoud weens ’n gebrek aan water by meer as een geleentheid. En dan was daar ’n broodsgebrek.

 

En sou God Sy volk in hierdie benoudheid lei omdat Hy behae uit hul benoudheid en angs put? Allermins, geliefdes! So ’n stelling is eintlik verwerplik.Daarom dat God se toorn teen hierdie volk ontvlam wanneer hulle by die grens van die beloofde land daarop sinspeel dat God hulle uit Egipte sou lei net om hulle hier by die grens van die beloofde land te laat sterwe en in die steek te laat. Hoe durf hulle Sy karakter so in twyfel trek. “En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en teen Aäron, en die hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het! En waarom bring die HERE ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal ’n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie?” Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?” (Núm. 14:2,3 & 11).

 

Geliefdes, God wil Sy volk juis deur hierdie beproewinge en benoude situasies onderrig dat hulle in hul benoudheid hul vertroue in Hom moet stel. En dat hulle daardeur sal besef dat daar vir Hom geen situasie is waaruit Hy nie uitkoms kan skenk nie. Die een krisis kan altyd groter en meer dreigend as die vorige lyk, maar tog was Sy uitredding telkens daar. Dit was ook nie met die wonderwerke in die dae van Christus anders nie. Dit was blindes, dowes, duiwel besetenes.

 

 

En dan was daar geleenthede waar daar te min brood of wyn vir die teenwoordiges was. Die krisis was nooit dieselfde nie. Daar was selfs geleenthede waar Christus doelbewus op ’n plek vertoef het sodat die situasie heeltemal hopeloos daar sou uitsien soos in die

geval van die dogtertjie van Jaïrus en ook met Lasarus se siekte. En selfs nadat die dood ingetree het en die krisis heeltemal onomkeerbaar gelyk het, het Christus die aanwesiges herinner om die geloof te behou, want daardeur is geen situasie onomkeerbaar en niks onmoontlik nie. “Terwyl Hy nog spreek, kom daar iemand van die owerste van die sinagoge se huis en sê vir hom: U dogter is dood, moenie die Meester lastig val nie. Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word.” (Luk. 8: 49&50).

Ons moet wel versigtig wees om nie die wanpersepsie te vorm dat ons geloof as ’n instrument kan inspan om altyd ons sin in alles te verkry nie. Dit is nie iets wat ons kan gebruik om voorskrifte aan God te gee asof Hy ons dienaar is wat aan al ons begeertes moet voldoen nie. Alhoewel ons die vrymoedigheid het om in geloof en afhanklikheid ons bedes en begeertes na Hom te bring, is opregte geloof veel meer as net om dit te ontvang waarvoor ons bid of dit wat ons begeer. Dit behoort vir ons duidelik te wees uit Christus se gebed in Getsémané. “En Hy het ’n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt.26:39). Hierdie versoek van Christus dat die beker van lyding Hom sal verbygaan, is nie toegestaan nie. En ons weet dat dit nie was omdat daar iets aan Sy geloof ontbreek het nie. Nog minder was dit omdat Hy ’n sondaar was. Maar uit hierdie versoek van Hom aan die Vader, word juis opregte geloof vir ons onderstreep.

 

 

Die volkome wete dat Hy die mag het om enige situasie te verander, maar meer as dit –dat Hy ook volkome wysheid besit en dat Sy besluit eindelik die beste en volmaakte is – selfs daar waar dit teen ons eie begeerte en wil indruis. Hierdie geloof dat Hy regverdig, goed en volmaak is en nimmer in Sy besluitneming ’n fout begaan nie is die opregte geloof wat ons eerbied aan Hom betuig.

Geliefdes, mag ek en u vandag opnuut weer bewus word van die belangrikheid van’n gesonde geloof. En mag ons ook ons verantwoordelikheid in hierdie verband nakom deur genoeg tyd in gebed en studie van die Woord af te staan om ons geloof te voed en te versterk, want sonder geloof is dit onmoontlik om Hom te behaag. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.” (Heb. 11:6).

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie