1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9948823

Besoekers aanlyn

Ons het 207 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

DIE TEENWOORDIGHEID VAN GOD SE GEES

Bybel2 Tim. 1:3-18:“Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (:7) Hierdie is ’n teksvers wat baie maklik deur dwalende leraars van die voorspoedgodsdiens heeltemal uit verband aangehaal en voorgehou word. Hierdie is nie ’n teksvers wat ten doel het om ons tot ’n onverskillige lewe aan te moedig omdat ons met “krag van God” optree in die najaag van ons eie voordeel en doelwitte nie. Dit leer nie dat ons kan handel na hartelus onder die illusie dat ons in “God se krag” optree en geen gevolge hoef te vrees nie.
Hierdie is myns insiens eerder ’n barometer van ons verhouding met God en die nabyheid van God in ons lewens. Die vermaning om naby God te leef en deur Sy nabyheid en teenwoordigheid in ons
lewens teen vreesagtigheid te waak en bestand te wees. Dit rig ons lewe in die rigting waar ons doelwitte en besluite deur die gebod van liefde en die strewe na God se eer eerder as ons eie selfsugtige begeertes dikteer word.
 
Geliefdes, daar is min dinge so verlammend as vrees. Dink maar hoe verlam die weermag van Israel was uit vrees vir die reus Góliat. “Verder sê die Filistyn: Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my ’n man, dat ons saam kan veg. Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees.” (1 Sam. 17:10&11). En die man wat hierdie reus die stryd aangesê het, was een wat nie deur vrees verlam was nie. Hy het egter nie met ’n misplaaste
selfvertroue in sy eie vermoë opgetree en die Filistyn bestorm nie. Hy het die stryd met oorleg en versigtigheid aangepak. Hy het probeer om eers die wapenrusting wat deur Saul aan hom gegee is aan te trek, maar het besef dat dit hom in hierdie stryd eerder sou belemmer a.g.v. die feit dat hy nie hieraan gewoond was nie.
 
Hy storm dan ook nie met kaal hande op die Filistyn af nie, maar met die wapens waarmee hy
gemaklik is. En die vertroue op God se krag. “Verder sê Dawid: Die Here wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en mag die Here met jou wees!” (1 Sam. 17:37). En dit is hierdie vertroue in God se krag, hierdie geloof van Dawid wat die vrees uit sy lewe dryf en hom in staat stel om in die krag van God op te tree en hierdie reus te verslaan. Maar daar is ook in hierdie optrede van Dawid die liefde vir God en sy volk te bespeur asook die nodige selfbeheersing wanneer Góliat hom smaad.
 
Hierdie selfde man, koning Dawid, tree later weer met krag op, maar hierdie keer uit eie krag, sonder liefde en selfbeheersing. En die gevolg hiervan was die dood van Uría, owerspel met Bátseba sowel as die dood van hierdie kind wat uit owerspel gebore is. Laasgenoemde behoort vir ons die gevaarlike en vernietigende gevolge te onderstreep van gedrag wat spruit uit ’n misplaaste selfvertroue en optrede uit krag sonder liefde en selfbeheersing. En derhalwe kan ons met stelligheid sê dat enige mens wat hierdie tipe gedrag waar mense kragtig, maar sonder liefde en selfbeheersing optree, aanmoedig, nie met God se koninkrykswerk besig is nie.
 
Geliefdes, wanneer ons weer dink aan die verlammende effek van Góliat se optrede oor die hele weermag van Israel, herinner dit ons aan die bekende gesegde – “Al wat nodig is vir ongeregtigheid om te seëvier, is dat goeie mense niks moet doen nie.” En die kragtige wapen wat die Satan menigmaal gebruik om ons te verlam, is vrees. Vrees is die teenoorgestelde van geloof en God het nie ’n behae daarin nie. Hy waarsku ons uitdruklik daarteen. “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” (Jes. 41:10). Wat ’n kosbare belofte is hierdie nie, geliefdes! En deurgaans word dit hierin benadruk dat ons vrede vind in Hóm wat met ons is, Hý wat ons versterk, Hý wat ons help en ondersteun.
 
Hierin lê ons sekerheid en rus – nie in ons eie krag en vermoëns nie. En dit is wanneer ons hierdie soort beloftes van God nie voor oë hou nie dat die Satan geleentheid vind om met die wapen van vrees verlamming in ons lewens te bring. Dit is belangrik om daarop te let dat God ons nie alleen ’n gees van krag gegee het nie, maar ook van liefde en selfbeheersing. Ek dink aan Christus aan die vloekhout. As Hy met krag alleen gehandel het, het Hy Homself seker verlos toe Hy deur die
verbygangers gesmaad is. “En die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud en sê: U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis!” (Matt. 27:39&40). Maar deur liefde vir God en vir ons wat Hy daar met Sy bloed gekoop het, het Hy die marteling, spot en vernedering verduur. En met selfbeheersing het Hy Homself nie aan die mag vergryp wat God die Vader tot Sy beskikking gestel het nie.
 
En het Christus nie vir Jakobus en Johannes in hierdie verband onderrig in Lukas 9:54-56 nie? “En toe sy dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elía ook gedoen het? Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. ...”. En hoe maklik kon Christus nie verkeerd gehandel het toe Hy deur die Satan in die woestyn versoek is nie, geliefdes? Maar met die nodige selfbeheersing het Hy nie die mag wat aan Hom toevertrou is tot Sy eie voordeel misbruik nie, maar eerder tot gehoorsaamheid aan God die Vader.
 
Geliefdes, ek glo dat dit vir u duidelik is dat hierdie gedeelte uit God se Woord derhalwe nie ’n gerieflike aanhaling vir ’n motiveringspraatjie is nie. Dit benadruk vir ons die waarheid waarvan ons ook in Gal. 5:22 lees. “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Al hierdie dinge is goeie deugdes wat deur die werking van God se Gees in ons lewe na vore kom. En wanneer hierdie dinge in ons lewens afwesig is, is dit vir ons ’n aanduiding om met groter ywer en inspanning na God te vra en ons Godsdiens met meer aandag en toewyding te boefen sodat die werking van Sy Gees en krag hierdeur in ons lewens tot Sy eer sigbaar mag wees.
 
“IMMERS, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde. Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie;” (2 Pet. 1:3-8).
Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie