Suid-Afrika dien as skouspel van die mens se dwaasheid om die leuen te glo dat jy vry sal wees wanneer hy van God en Sy verordeninge kan wegvlug. Die realiteit is egter dat laasgenoemde eerder jou verlorenheid as jou vryheid sal waarborg.
Die satan en sy bose trawante wat die aardbodem bewandel het met groot sukses daarin geslaag om by mense die illusie te skep dat hulle vry sal wees daar waar hulle onafhanklik van God is en van Hom ontvlug het. Hierdie leuen is lynreg in stryd met die mens se totale afhanklikheid en hunkering na God as jou Verlosser en Helper wat regdeur die Skrif verkondig word. Ps. 139:7&8:”Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!”
Die beste alternatief tot die bose se beskikking is dus om God se verordeninge te probeer verbreek ten einde hul “vryheid” daar te stel, aangesien selfs die bose weet dat die aarde en die volheid daarvan aan God behoort en dat daar nêrens heen gevlug kan word om van Hom af weg te kom nie. Ps. 2:2&3:”Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!”
Die Afrikanervolk in Suid-Afrika was ‘n paar geslagte vantevore ook ‘n vrye volk as knegte van die Allerhoogste wat teen die hele wêreld vry was. Ons volk wat homself aan God Drie-Enig onderwerp het as die Hoogste Gesag in ons land, het elke dag vryheidsdag gevier – ons was vry om te leef volgens die regverdige en volmaakte insettinge van God se Woord. Dit het nie vir mense gevoel asof dit feitlik onmoontlik geraak het om ‘n lewe volgens die Gees te leef nie, want eienskappe soos liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing was in ‘n land wat vry was beskou as prysenswaardige- en navolgingswaardige eienskappe (verw. na Galasiërs 5:22). In 2015 word hierdie selfde eienskappe in dieselfde land as swakhede beskou en boosdoeners mik hul aanslae op mense met diesulke eienskappe.
Die werke van staatsamptenary en selfs kerklui asook die algemene publiek weerspieël ‘n lewe van mense wat alles behalwe vry is, maar diensknegte van die vlees geword het. Ongeag die vleitaal wat hulle probeer spreek, word hul dade van owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge die vrugte waaraan ons dié bome ken. (Verw. na Galasiërs 5:19-21).
My vraag aan die kerk- en staatkundige leiers wat voor geloop het op die dwaalweg waarlangs hul die Afrikaner na sogenaamde “groter vryheid” gelei het, is: “Waar is die Afrikaner se vryheid vandag, in 2015?” Jesaja 3:12: “Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. O My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ’n dwaalweg gemaak.” Julle het mense mislei om te glo dat enige konserwatiewe en behoudende siening ten einde die Christendom te beskerm, verkramp en wetties is. Die sogenaamde verligtes het sonder aarseling ‘n vrye volk mislei onder die wet van die vlees in en daarna teruggestaan, hul skaapsklere afgestof en boonop gaan sit die meeste van hulle en smaal aan die opbrengs van regverdige, getroue en hardwerkende volksgenote terwyl feitlik die helfte van ons volk in armoede, ellende en wanhoop vergaan. Die Afrikanervolk sink weg in ‘n kuil van moedeloosheid, maar die kerke kan nie wag om in die media te spog oor die miljoene wat spandeer word aan sending werk bo in Afrika nie! Is dit reg om die brood van die kinders te vat en dit vir die hondjies te gee?
Dit vereis nie die intellek van ‘n kern-fisikus om te besef dat die enigste vryheid en Utopia wat hierdie kerklike- en politieke misleiers geskep het, vryheid vir misdadigers was waar hulle wel in hul Utopia kon leef. Terwyl misdadigers in vryheid selfs hierdie Utopia van hul eie plunder en afbrand, is wetsgehoorsame, Godvresende, beskaafde mense VRY om hulself in hul huise toe te grendel en in vrees te leef. Boonop durf ‘n man nie sy Godgegewe plig nakom om huis-en-haard teen booswigte te beskerm wat deur al hierdie veiligheidsmeganismes gebreek het nie, want hierdie arme booswig was dalk honger en jy moet onthou dat hy nou vry is om in jou huis te kom haal na gelang van sy BEGEERTE. ‘n Mens steel mos elektroniese toerusting )in ‘n huis waar daar wel ‘n yskas vol kos is) omdat jy honger is? ‘n Man is nie vry om die beroep waarvoor hy bekwaam is uit te oefen nie, want iemand anders is VRY om ‘n wet daar te stel wat hom sal laat boet vir sogenaamde onregte uit die verlede. ‘n Man durf nie in liefde en met die nodige gesag sy huis in stand hou en die hoof van sy vrou wees nie, want dan skend hy die een of ander mensereg en onthou dat vrouens en kinders nou die VRYHEID geniet om die huise te regeer, sonder om die verantwoordelikheid te neem vir die gevolge van hul verkeerde keuses.
Die vryheid wat geskep is deur die kerklike- en politieke misleiers kan ook statisties aan u voorgehou word as bewys dat hierdie skrywe nie emosioneel gegrond is ten einde uiting aan ‘n persoonlike sienswyse te gee nie. Hierdie eens trotse land geniet nou die vryheid om:
Aborsies wettig uit te voer en selfs kerke sal probeer verduidelik en Bybelversies gaan opsoek oor hoe ‘n mens hierdie daad van moord moet goedpraat;
Te moor, roof en plunder na hartelus;
Vals aanspraak te maak op ander se eiendom;
Hardwerkende en eerlike mense te verbied om hard te werk;
Dwelmverslawing met rasse skrede te laat toeneem en ‘n Utopia te skep waarin die volgende MISDADE op ‘n DAAGLIKSE basis begaan word:
47 moorde
47 pogings tot moord
172 seksuele misdrywe
502 ernstige aanrandings
375 roof- en aanverwante misdrywe.
Dit is duidelik wie die vryheid onder die huidige bestel geniet wat veroorsaak dat hierdie land mank gaan aan die ongeregtighede wat dit terminaal siek maak. Jes.1:5&6:” Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie.”
Die vryheid wat die Afrikaner gekry het deur sy “ja-stem” uit te bring ten einde ‘n “bloedbad” af te weer is nêrens in ons Vaderland te sien nie. Ek wonder of die eertydse minister dalk vir die Afrikaner kan verduidelik hoe suksesvol die bloedbad afgeweer is wanneer die Afrikaner teen ongeveer 3 500 siele per jaar uitgemoor word? (70 000 mense vanaf 1994 – 2014).
Dit sou seker doelloos en onsinnig wees om enige verduideliking hoegenaamd te eis van die misleier wat daarop roem dat hy ons Vaderland en erfenis weggegee het en dit weer sou doen as hy vir ‘n tweede maal voor hierdie keuse te staan kom. Hierdie mens het dan van die begin af die skaapkraal van die kant af binnegedring deur sy ampsposisie d.m.v. ‘n staatsgreep teenoor sy naaste uit te voer. Hoe mense ‘n man soos hierdie kon volg is menslik moeilik te begrype, maar gee seker ‘n aanduiding van sy vermoë om te bedrieg terwyl sy verligtheid seker al sy volgelinge verblind het?
Myns insiens het die Afrikaner tot die besef gekom dat ons volk se staatkundige mag en vryheid deur roofsugtige wolwe in skaapsklere van ons gesteel is en daarna uitverkoop is. Hierdie besef laat tans ‘n lamheid en moedeloosheid in volksgenote se gees. Die Christen-gelowige Afrikaner moes egter in sy lewe alreeds besef het dat daar vir elkeen wat waarlik in Jesus Christus glo as Verlosser en Saligmaker, ‘n groter, ewige vryheid bewerkstellig is wat niemand van ons kan wegneem solank as wat ons die geloof in Hom behou nie.
Dit is duidelik dat die misleiers van die Afrikanervolk, met sy stewige Christelike-grondwet, se oogmerk is om mense in soveel ellende te dompel en hul diensknegte van die vlees te maak sodat hul sal begin twyfel aan God se liefde en regverdigheid. Hierdie misleiers doen hulself dalk voor as engele van die lig, maar van binne is hul roofsugtige wolwe wat nie ‘n duit vir sy naaste omgee nie. Dit traak hom niks om sy volksgenote te sien vergaan van honger en ellende nie en die werke en vrug van hul handelinge wat ‘n baie wrang smaak het, verklap hul ware oogmerke.
Die Afrikaner is weliswaar baie lank vir die gek gehou om deur die week getrou mooi hard te werk vir die naweek se beloning van bier, brandewyn, rugby en televisie. Dit was voorwaar ‘n volskaalse aanslag wat teen die Afrikaner geloods is terwyl hierdie volk van sy rykdom gestroop is om boonop die aanslag teen homself te finansier. Die Afrikaner was dalk gerat om ‘n oorlog en bloedbad af te weer toe dit gedreig het, maar die diepe verraad het hierdie volk se voete onder hom uitgeslaan. Hierdie aanslag was só haarfyn uitgewerk dat die Afikaner nie eers, getrou aan sy karakter, na sy Bybel kon gryp vir leiding nie, aangesien self ons Bybels met “interpretasie-vertalings” vervang is met oogmerk om die politici in hul oogmerke te steun.
Dit sou egter tragies wees om aan die misleiers van die Afrikanervolk al die “eer” vir hul suksesvolle pogings en die uiteindelike val van die Afrikaner te gee. Dit was immers die volk self wat sy Bybel verruil het vir ‘n interpretasie daarvan en steeds klakkeloos agter nuwe, meer misleidende vertalings aanhardloop. Dit was en is die Afrikanervolk self wat gerieflikheidshalwe sy kinders in kommunistiese skole stop sonder om die leerplan self deur te gaan om te weet wat sy kind en/of kinders werklik geleer word om hul sodoende tereg te wys. Dit was en is die volk self wat ter aanvaarding van mense hul kinders aanmoedig om deur die sportgod opgeëis te word. Dit was en is die volk self wat besluit het om die huisaltaar te verruil vir die televisie sodat daar geen tyd meer vir Godsdiens in hul huise oorbly nie. Pa kla dat hy sukkel om sy huis goed te regeer, maar hy laat dan die televisie toe om die onderrig namens hom te gee! Dit was die Afrikanervolk self wat sy eie doodsvonnis onderteken het in 1983 se referendum toe hierdie volk nee gesê het vir die behoud van ‘n Christelike grondwet en ja om diensknegte van die vlees te word. Dit was hierdie volk self wat sy God die rug gekeer het agter die wêreld aan.
Die Afrikaner is vandag in ‘n toestand van verlorenheid en besig om homself dood te bloei weens die wonde van sy ongeregtighede. Die vrybrief van ons ongeregtighede is reeds onderteken en verseël deur ons Heer en Meester op Golgota. Ons kan dus kies om die werke van die vlees af te lê en om terug te keer na Hom wat ons sal skoon was en genees. Jes. 1:16-18:” Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee. Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” Wanneer ons hierdie keuse maak om as ‘n volk na God terug te keer, kies ons ook om die werke van die vlees af te lê en te laat staan. Vrygemaak van die sonde om ‘n lewe in die Gees te leef, sal ons onsself moet toespits om die vrugte van die Gees voort te bring.
Sal die Afrikaner kies om in sy ongeregtighede verlore te gaan of sal hy kies om vrygemaak te word van ons vleeslike verknegting om sodoende ons God in waarheid en geregtigheid te dien? Hierdie keuse sal bepaal of ons verkies om te bly lê en dood te bloei en of ons as volk uiteindelik sal “JA” antwoord op die Roepstem om onsself waardig die evangelie van Christus te gedra en te stry vir die Christendom!
2 Kor. 3:17: ”Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.”