In die onderstaande artikel wat in Nuus 24 verskyn het, is ‘n paar waarhede en ook ‘n paar feitlikhede verteenwoordig.
Die waarheid: Die ANC –regime se kaders, vanaf die president tot by die onbenulligste amptenaar, feitlik sonder uitsondering, is oneerlik, onbevoeg en ambassadeurs van dié twee stellings!
Die Feitlikheid: Dat die waarskuwings van dr. D. F. Malan, adv. Hans Strydom, drs. H.F. Verwoerd en Albert Hertzog, mnre. Jaap en Willie Marais en huidig die Afrikaner Volksparty, dat rasseintegrasie in niemand se belang is nie maar tot getalleoorheersing sal lei met gevolglike verval van infrastruktuur, wet en orde, standaarde en uiteindelik oorheersing van die swart meerderheid.
In die lig van hierdie twyfelagtige toestand en skynbare donker toekoms op die vooraand van die gebruiklike feesviering van die geboorte van Christus op die 25ste dag van Desember, wat ‘n okkultiese oorsprong het met die vernederende ho,ho, ho, maar deur die Christendom wêreldwyd as ‘n Christelike feesdag aangeneem is, bly geloof, hoop en liefde steeds die gelowige se anker in hierdie troebel tyd.
Terwyl die verval rondom ons plaasvind, laat ons Afrikanervolk nie in sak en as verval nie maar in geloof en ootmoed voor God-Drie-Enig, met ons oë gevestig op Hom, met goeie moed die toekoms tegemoet gaan met die wete dat die hoop nie beskaam nie! Getalle bedreig slegs diegene wat hulleself en hulle voorspoed aan getalle meet!
Húlle klim weer by ’n ander stasie op
Oneerlik? Onbevoeg? Word ’n ambassadeur!
Terug op die soustrein
Deur Charl du Plessis Sondag 21 Desember 2014 1:00 vm.
Net wanneer dit lyk of korrupte kaders of leuenaars soos die SAUK se Ellen Tshabalala weens bedrog of oneerlikheid van die soustrein geskop word, klim hulle weer by ’n ander stasie op.
En die gewildste bestemming vir dié onteerdes is ambassadeursposte.
Vernietigende bevindings teen hulle – oor bedrog, korrupsie, dronkbestuur of onetiese gedrag – is ook nie genoeg om die kaders uit poste in die kabinet of munisipale rade te hou nie.
Na aanleiding van Tshabalala se bedanking het Rapport vasgestel minstens vyf Suid-Afrikaanse ambassadeurs is vroeër direk of indirek geïmpliseer in van die land se grootste skandale. Dit sluit in:
■ Bruce Koloane, ambassadeur in Nederland, wat die hoof van staatsprotokol was tydens die Gupta-straler-debakel, toe ’n vliegtuig vol bruilofsgaste van pres. Jacob Zuma se Indiese vriende en sakevennote toegelaat is om in April 2013 op die Waterkloof-lugmagbasis te land.
Ko¬loane is eers gedemoveer voor hy in Augustus aangestel is as ambassadeur in een van Suid-Afrika se sleutel-handelsvennote.
■ Geoff Doidge was minister van openbare werke en persoonlik betrokke by vergaderings oor die opknappings by Zuma se Nkandla-woning. Hy is in 2011 as ambassadeur in Sri Lanka aangestel.
■ Sandile Nogxina, ons ambassadeur in Mexiko, is die voormalige direkteur-generaal van minerale bronne. Hy was aan die hoof van die departement toe dit in 2004 ’n 21,4%-belang in die Sishen-steenkoolmyn aan Impe¬rial Crown Trading (ICT) toegeken het, ’n maatskappy met noue politieke bande. Die besluit is later deur die konstitusionele hof omver gewerp.
Jagdish Parekh, ’n vennoot van die Gupta-familie, het ’n 50%-belang in ICT gehad deur ’n ander maatskappy. Hy het dit intussen verkoop.
“ Dit wys die regering maak ’n bespotting van die land se reëls. ”
- Prof. Adam Habib
■ Obed Mlaba, oudburgemeester van Durban, is deesdae hoë kommissaris in Brittanje. Mlaba was as burgemeester verantwoordelik vir grootskaalse wanbesteding en korrupsie, is in die Manase-verslag bevind.
■ Ebrahim Rasool keer vandeesmaand terug na Suid-Afrika ná vier jaar as ambassadeur in Washington DC. Daar was bewerings dat joernaliste betaal is om sy loopbaan te bevorder. Rasool het dit ten sterkste ontken.
Ook in die beleërde nasionale vervolgingsgesag oorleef kwaaddoeners.
Twee van Suid-Afrika se top-aanklaers, Lawrence Mrwebi, hoof van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid, en Nomgcobo Jiba, ’n adjunkdirekteur van openbare vervolging (adjunk-DOV), het albei herstel van skorsings voor Zuma in 2009 ingehuldig is. Die dissiplinêre prosesse teen hulle is intern afgehandel.
In Augustus het Mxolisi Nxasana, die DOV, Zuma versoek om Jiba en Mrwebi te skors, maar albei is nog in hul poste.
Menzi Simelane, Zuma se eerste keuse van DOV in 2009, werk tans as spesiale raadgewer vir die minister van menslike nedersettings, Lindiwe Sisulu. Dit het Sisulu klaarblyklik min geskeel dat die konstitusionele hof Simelane se aanstelling tersyde gestel het en beslis het dat Zuma nie genoeg gewig verleen het aan die destydse bevindings van die Ginwala-kommissie van ondersoek nie. Ginwala het bevind Simelane was oneerlik.
“ Die diplomatieke diens moet juis ’n neutrale diens wees sodat amptenare die waarheid kan vertel aan die gesag wat hulle gestuur het en hulle moet behoorlik opgelei wees om die land te verteenwoordig. ”
- Pik Botha
Die ANC vergewe ook maklik:
■ Tony Yengeni, wat tronkstraf uitgedien het weens bedrog en nou wag om te hoor of ’n klag van dronkbestuur teen hom voortgaan, is tans die hoof van die ANC se politieke skool.
■ Bheki Cele, wat in 2012 as polisiekommissaris afgedank is nadat adv. Thuli Madonsela bevind het hy was skuldig van onbetaamlike gedrag in verband met die onreëlmatige huur van die polisie se nuwe kantore, is sedert Mei adjunkminister van landbou en onder meer belas met veiligheid op plase.
■ John Block staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog, maar dien tans as die ANC se voorsitter in die Noord-Kaap en is ook LUR vir finansies. Die uitslag van ’n ondersoek deur die ANC se etiek¬komitee oor Block is nog nie gefinaliseer nie.
Pik Botha, voormalige minister van buitelandse sake, het aan Alicestine October gesê ’n land móét profes¬sionele diplomate hê.
“In my tyd het ons net vyf ambassadeurs aangestel wat nie in die professionele diplomatieke diens was nie. Nét vyf, nooit meer nie. Al die ander is daarvan ontmoedig om enige politieke partye te steun. Dit het beteken ons het betroubare verslae gekry, want amptenare hoef nie te gehuiwer het om die waarheid te vertel nie.
“Die diplomatieke diens moet juis ’n neutrale diens wees sodat amptenare die waarheid kan vertel aan die gesag wat hulle gestuur het en hulle moet behoorlik opgelei wees om die land te verteenwoordig.”
Ook prof. Adam Habib, politieke ontleder en visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand, sien gevaarligte flikker.
“Dit wys die regering maak ’n bespotting van die land se reëls. Dit wek die indruk dat vertroue en bevoegdheid nie meer die grondslag is vir besluite nie en ondermyn ons demokrasie ten aanskoue van die wêreld.
“Ons kan met reg besorg wees. Dit wys hoe noodsaaklik politieke wil is om die regte ding te doen en hoe dit vandag in die regering ontbreek.”