Die ontstaan en bestaan van die Gelofte van Bloedrivier word in talle geskrifte in besonderhede beskryf. Oor die geskiedkundige werklikheid daarvan bestaan geen twyfel nie. Daarvan getuig geskrifte van ooggetuies en ander betroubare persone, ook van Zoeloe kant. Dit is egter noodsaaklik om oor die inslag van die Gelofte te besin ten einde die saai van twyfel teen te werk.
Die Gelofte was deel van die gebed van Sarel Cilliers op Sondag 9 Desember 1838 te Waschbank tydens die aand erediens. Later, en tot vandag toe, word dit as 'n verklaring herdenk. Dit kan nie weer in ‚die gebed opgeneem word nie, aangesien dit op 16 Desember 1838 volbring en die belofte van jaarlikse herdenking tot in die opkomende geslagte bevestig is. Meestal word dit vandag tydens 'n erediens herhaal en bevestig en word in die gebed en prediking op die onderhouding daarvan in die volkslewe klem gelê, tot bemoediging en aansporing van die Afrikaner. Die nakoming van die Gelofte is en bly 'n vereiste vir elke Afrikaner, hetsy van bloedafkoms of dat hy uit vrye wil hom by die Afrikanervolk gevoeg het en voeg.