1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9964254

Besoekers aanlyn

Ons het 92 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Media

OORLOGSKREET TEEN GELOWIGES IN CHRISTUS?

altIs dit toevallig (iets waaraan ek nie glo nie) dat die opspraakwekkende “lied” van die sogenaamde musiekgroep, Dookoom, juis getoonset is op die wysie van die liedjie “vader Abraham” wat menige van ons as kindertjies op skool gesing het? Ek wil u verseker dat hierdie wysie nie toevallig gekies is nie, maar juis só gekies is om vir ons as Christelike gelowiges aan die Suidpunt van Afrika ‘n verskuilde boodskap uit te stuur.  Wanneer ons kyk na die wekroep wat gemaak word in hierdie lied om te verwoes en te verniel, kan ons dit as ‘n aanvalskreet bestempel.  Is die aanvalskreet teen landbouers (boere) alleen gerig en gelowige Afrikaners in bv. die sakesektor staan dus veilig teen hierdie kreet?  Dit is verseker nie die geval nie.  Die enigste rede waarom landbouers (boere) uitgesonder word en die aanvalle op grond en dies meer op hulle toegespits word, is omdat die grootste konsentrasie van die Afrikanerbevolking hoofsaaklik ‘n lewe gemaak het uit die landbou en dit was nog altyd ‘n lewensaar van ons volk.  Hier is die grootste konsentrasie van die Afrikanervolk waarteen die aanval dus gerig kan word, maar moenie glo dat dit daar gelaat sal word nie. 

 

Ons verkeer die afgelope paar dekades al in ‘n geestelike oorlog en dit het haas tyd geword dat ons moet begin bid vir wysheid om die tekens van hierdie aanslae te kan identifiseer.  Met ‘n naïewe pasifisme en afskuwelike misplaaste skuldgevoel, laat ons as Afrikanervolk toe dat die Christelike geloof in ons Vaderland vertrap word terwyl ons gedurigdeur om verskoning vra vir “onregte” wat nie gepleeg is nie.  Met laasgenoemde bekragtig ons die wapen van leuens wat teen ons gebruik word en dan wil ons huil wanneer daardie wapen hou-vir-hou op ons rug die straf toedien om ons al verder te verneder en te verdruk. 

Die sorgvuldig-gekose wysie van hierdie “lied” is gekies om die boodskap mooi duidelik aan ons deur te stuur dat die kreet nie gerig is teen landbouers nie, maar teen die Christelike Afrikaner wat homself aan die Suidpunt van Afrika bevind.  Wanneer hierdie goddelose verwoesting oor die plase voltrek is, sal dit aanbeweeg na die sakesektor en private huise en eiendom.  Dit is die verloop wat die geestelike aanslag geneem het – daar is begin op die staatkundige terrein en die Christelike geloof is aangeval in die grondwet, kerke, skole, selfs in die ouerhuise d.m.v. die televisie.  Die intensiteit van hierdie geestelike oorlog word tot op die spits gedryf, waarna opnuut oorgegaan kan word na ‘n fisiese aanval, want as die vyand (die Christelike Afrikaner in hierdie geval) geestelik gebreek is, kan jy min teenstand verwag.

Terwyl hierdie goddelose verwoesters hul besig hou met die rumoer en anargie wat hul gewoonlik kenmerk, wil ek ‘n luide wekroep aan elke ware Afrikaner Christelike gelowige stuur om opnuut erns te maak met u Skepper – die Enigste ware God van hemel en aarde, die God van Bloedrivier, die God wat ons as volk hier aan die Suidpunt van Afrika geplant het.  (Joël 2:1&2:  “BLAAS die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg!  Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die HERE kom, want hy is naby – ‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ‘n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.”)  Die aanslag teen ons lyk inderdaad oorweldigend, en met oorlogskrete wat uit die stof begin verrys, gaan menige se harte begin versmelt en mense wat nie weet in Wie ons anker lê nie, sal verward begin rondkyk en selfs op die vlug slaan.

Ons moet egter besef dat hierdie oorweldigende vyand bloot as tugroede deur God gebruik word om ons te straf omdat ons van Hom vergeet het en van Hom afgedwaal het.  Wanneer ons terugkeer na Hom, sal Hy hierdie tugroede wat Hy gebruik om ons te straf, verander in ‘n voorwerp van vernietiging omdat hulle hulself grootgemaak het oor ons volk, maar ook teen Hom.  Ons het egter die verantwoordelikheid om vir die behoud van ons Christelike geloof hier aan die Suidpunt van Afrika ons man te staan en nie op vlug te slaan nie.  Asof ons nie alreeds die eer van Sy Naam die afgelope paar dekades genoeg oneer aangedoen het nie, durf ons dit nie met kleingelowigheid verder doen nie.  Met ‘n vaste geloofsvertroue in die Almagtige God van hemel en aarde het ons al meer as een oorlogskreet van verskeie vyande afgeweer.  Hierdie keer was ons vyande slimmer om daardie geloofsvertroue te probeer vernietig alvorens hulle die fisiese aanslag loods.  Verder het hulle ook deur geheime organisasies al ons vyande begin verenig sodat ons moeilik kan onderskei tussen ons vriende en vyande, aangesien verraad en misleiding uitkenning feitlik onmoontlik gemaak het. 

Gewikkel in ‘n stryd waar die getalle-oormag oorweldigend lyk, is dit onontbeerlik dat ons onsself sal bewapen met die sterkste wapen wat tot ons beskikking is, nl. ‘n onwrikbare geloofsvertroue in die Almagtige God van hemel en aarde.  Hy was nog altyd ons Hulp en ons Redder en daarom kan ons ook vertrou in Sy belofte in Jesaja 46:13:  “Ek bring my geregtigheid naby; dit is nie ver nie, en my heil sal nie vertoef nie; en Ek gee heil in Sion, aan Israel my heerlikheid.”

Galasiërs 3:29:  “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie