
Ons begin die tweede aflewering met enkele briewe van wyle mnr Jaap Marais, om perspektief te gee op waar kom die VF Positief vandaan en wat is hulle oogmerk met die Afrikanervolk. Daar is letterlik duisende Afrikaners in die draaikolk van liberale politieke knoeiery ingesuig sonder dat hulle bewus was van die beoogde uitkoms daarvan. So was daar sekerlik ook Afrikaners fisies betrokke uit oortuiging dat hulle in belang van ons vryheidstryd optree, en het hulle in baie gevalle téén hulle eie mense en in ‘n sin teen hulleself opgetree. By ander weer, was daar bepaald kwaadwilligheid aanwesig. Wyle mnr. Jaap Marais, voormalige leier van die Herstigte Nasionale Party, was soos dr. H.F. Verwoerd, ‘n begaafde politieke leier met ‘n ingebore vermoë om gebeure in hulle samehang nugter en klinies te beoordeel en dan die uitkoms en gevolge akkuraat te voorsien.
Dit was hoofsaaklik hierdie kwaliteit van beide dr. Verwoerd en mnr. Marais wat hulle politieke opponente met hulle meelopers grensloos frustreer het. Daarmee saam was die moed en onwrikbare standvastigheid waarmee hulle die waarheid en werklikheid vreesloos verkondig en verdedig het, ‘n ondeurdringbare struikelblok dat moord en karaktermoord, op die oog af, hulle vyande se enigste effektiewe wapens was.
In die Afrikanerkoerant van 7-13 Februarie 1997, verskyn daar twee briewe aan mnr. Marais waarop hy deur die redakteur, volledig reageer het. Dit is betekenisvol om te let op hoe dit wat ooglopend besig was om verkeerd te loop en deur mnr. Marais in die openbaar gebring is sodat Afrikaners ingelig kan wees om sinvolle besluite te kan neem, telkens deur ander Afrikaners probeer vergoeilik en beskerm is, somtyds om hulle eie betrokkenheid te probeer regverdig en somtyds om die uitkoms van duistere beplanning weg te hou van die openbare oog af.
Die twee briewe het verskyn onder die opskrif: KP EN PATRIOT VEG VENYNIG NA REGS
31 Januarie 1996
Die Redakteur
Die Afrikaner
Meneer
As gevolg van die feit dat u my by name uitsonder in verband met die reëlingskomitee vir die Afrikanervolkskongres wat op 1 Maart in die C saal van die Pretoriase skougronde sal plaasvind, gun my net enkele opmerkings na aanleiding van berigte in u blad oor die kongres.
Eerstens het Sammajoor Sooibrand in ‘n oomblik van selfbejammering gekla dat die Reëlingskomitee Die Afrikaner nie na die mediakonferensie waar die kongres aangekondig is, genooi het nie. Ons het ‘n uitnodiging gestuur na die enkele grootste sentrale buro wat daarvandaan die boodskap elektronies na die media uitsaai. Dit is seker nie die Reëlingskomitee se skuld as Die Afrikaner nie op daardie netwerk ingeskakel is nie?
U haal mnr. Jaap Marais aan as waar hy sou praat van die kongres wat op 1 Maart deur mnr. Henk van de Graaf gereël word. Baie dankie vir die kompliment, maar ek is maar ‘n een en twintigste deel van die Reëlingskomitee. As mnr. Marais ‘n probleem het met kontakte wat joernaliste onder mekaar het, soos dié tussen my en mnr. Jan Taljaard, kan daardie selfde argument seker van toepassing wees op nadere verhoudings soos in familieverband. In dié verband verneem ek dat mnr. Marais se seun met ‘n vorige NI-Hoof, Mike Louw, se dogter getroud is, en sou die verhouding insgelyks bevraagteken kon word. Sarel Super tokkel ook op mnr. Marais se wanvoorstelling voort dat die Volkskongres ten doel het om verraaiers te beskerm. Pogings om u anders te oortuig sal verkwisting van kosbare tyd wees. Daarom wil ek liewer ‘n konstruktiewe voorstel maak: U reël ‘n kongres waarin gekyk word na die verlede en waar verraaiers dan een en almal aan die kaak gestel word. Ons sal so ‘n kongres selfs ondersteun en dit bywoon.
Die kongres wat ons reël, kyk egter na praktiese stappe, toekomsgerig, oor hoe die Afrikaner weer by sy vryheid kan uitkom. Op dié manier kan elkeen sy kongres hou op sy manier, en kan ons mekaar met rus laat.
Henk van de Graaf
(Redakteur van Patriot)
ANTWOORD OP SY BRIEF:
Mnr. van de Graaf is sigbaar in die moeilikheid. Hy het oor die HNP geskinder by mnr. Jan Taljaard, as gevolg waarvan mnr. Taljaard in die ver linkse Mail & Guardian geskryf het dat mnr. van de Graaf gese het dat daar nog gesien moet word of die HNP sy kantore in 1997 sou oopmaak. So ‘n skinderpraatjie kan net spruit uit gewone kwaadwilligheid- en dit teen die HNP, teenoor wie mnr. van de Graaf nogal rede tot dankbaarheid behoort te hê vir sy toetrede tot die joernalistiek as loopbaan.
Wat die gehalte van die geskinder vererger, is dat dit gedoen is teenoor ‘n politieke instansie wat vir die ver linkse pers skryf en reeds in die openbaar bestempel is as “a broker in rightwing information”, dus ‘n soort joernalistieke sentrum van spioenasie op regse politiek, en dat by dié instansie ook bes moontlik ‘n koppeling is met een of meer van die intelligensiedienste van die regering, kan nie uitgesluit word nie in die lig van die gevestigde praktyk van intelligensiedienste om joernaliste vir spioenasie te huur.
Lees gerus mnr. Jaap Marais se stuk “Behind the Boerehaat” in “How they Hate us”, wat deur Bienedell uitgewers gepubliseer is.
Omdat mnr. van de Graaf hom in dié bedenklike geselskap geplaas het en die aandag daarvan wil aftrek, probeer hy mnr. Jaap Marais onder verdenking bring weens ‘n aangetroude verwantskap met ‘n voormalige hoof van Nasionale Intelligensie, mnr. Mike Louw, wie se dogter met mnr. Marais se seun getroud is. Mnr. van de Graaf gee te kenne dat daar ooreenstemming is tussen sy joernalistieke verhouding met mnr. Jan Taljaard en mnr. Marais se familiale verhouding met mnr. Louw! Indien mnr. van de Graaf hiermee iets regkry, is dit om te toon tot watter vlak hy bereid is om te daal ten einde sy skinderverhouding met ‘n ver linkse politieke instansie te regverdig. Mnr. van de Graaf het blykbaar nie goed nagedink oor wat hy doen nie. Sy opmerkings in dié verband moet impliseer dat òf mnr Marais inligting aan Nasionale Intelligensie sou verstrek, òf mnr. Louw inligting aan die HNP sou verstrek! Hoe geklik kan geredeneer word as die onverdedigbare verdedig moet word?
Miskien moet mnr. van de Graaf daaraan herinner word dat verraad niks met familiale betrekkinge te maak het nie. Dit het te maak met gebrekkige trou. Genl. Piet de Wet, die Boereverraaier, was ‘n bloedbroer van Genl. Christiaan de Wet. En Genl. AP Cronjé, ‘n ander Boereverraaier, was ‘n eie broer van Genl. Piet Cronjé. Willem en FW de Klerk is die seuns van Sen. Jan de Klerk. Die skoonseun van PA Malan het bely: “ My pad sal die pad van Hendrik Verwoerd wees” en toe het hy begin om dr. Verwoerd te verraai.
Mnr. van de Graaf moet oppas dat hy nie in die dampkring van verraad rondom Idasa se Conservative Dialogue Program en die pogings om dit te verdoesel of te verdedig, sy morele waardes en gesonde verstand nog verdere geweld aandoen as wat hy reds deur sy geskinder by mnr. Jan Taljaard en ook deur hierdie brief gedoen het nie. wat die ander dinge betref wat hy in sy brief aanroer, kan maar net gekyk en verbygegaan word, behalwe dat die “volkskongres” steeds as ‘n item op ‘n verskuilde politieke agenda aandag sal kry.