Die uitstaande beginsel dus van die werklikheid, is die ongelykheid van die individu. Die struikeling van die moderniste oor die kwessie van die kommunistiese uitgangspunt van gelykheid en vryheid, het meer as een oorsaak. Die artikel van Leopold Scholtz met die opskrif: The Price of Inequality van 13 Maart 2014 wat op ons webblad verskyn het onder die opskrif: “DIE MODERNISTE BEGIN STRUIKEL OOR GELYKHEID,VRYHEID EN BROEDERSKAP”, is interessant en beweer onder andere dat die prys wat vir sosiale ongelykheid betaal word, opstand in die gemeenskap tot gevolg het. (Societies tend to pay a heavy price for inequality in the form of social upheaval.)
Carl Gustav Jung in die boek “The Undiscovered Self” p.8, skryf dat in die beoordeling van die werklikheid vertoon dit oorheersend die karaktertrek van ongelykheid. In A.T.Culwick en J.C.Oosthuizen se boekie, “The Inequality Principle”, word Jung se stelling bevestig met die vergelyking van ‘n sak vol rivierklippe wat geweeg word met ‘n gemiddelde gewig van 145gram per klip. Enigiemand wat die verwagting koester om met die eerste probeerslag ‘n klip uit die sak te haal wat 145gram sal weeg, sal teleurgesteld wees omdat hy selfs mag sukkel om net een klip te kry wat presies 145 gram weeg.
In die beoordeling van die werklikheid waar die statistiese ideaal van gemiddelde ‘n werklikheid is soos verteenwoordig in die bepaalde gewig, is die empiriese werklikheid van die individu verswyg. Die uitstaande beginsel dus van die werklikheid, is die ongelykheid van die individu.
Die grootste probleem is egter die geneigdheid van die mensdom om ons Skepper en Sy riglyne vir geordende samelewing te ignoreer. In die eerste plek is dit ‘n gegewe dat daar altyd arm mense in elke gemeenskap sal wees. Tweedens is dit ook ‘n feit dat daar ‘n verskil in breinkrag en intelligensie bestaan en derdens is dit onomstootlik waar dat daar lui en flukse mense in dieselfde volk voorkom. Laastens kan dit nie wegredeneer word dat al hierdie faktore ook tussen verskillende volke bestaan nie.
Die oplossing lê nie daarin om die ongelykheid wat ‘n gegewe is te probeer verander deur gelykheid af te dwing nie. Dit sal ewig spanning en stryd veroorsaak wat weer geweld vereis om te beheer. Wat benodig word is ‘n gesonde ekonomie wat werk skep sodat almal ‘n inkomste volgens sy vermoë kan verdien.
Prof. P. T. Bauer wat spesialiseer in die ekonomiese ontwikkeling van agtergeblewe, oftewel arm lande, het deur sy navorsing bepaal dat die blote voorsiening van finansiële hulp, geen oplossing bied nie. Klimaat vir ontwikkeling meer as ekonomiese hulp is noodsaaklik vir materiële groei, is sy bevinding.
Hoewel dit waar is dat regeringsbetrokkenheid in die ekonomie beperk moet wees, is dit egter noodsaaklik dat regerings wat verkies word die verantwoordelikheid dra om stabiliteit te skep en te handhaaf deur die verantwoordelike wyse waarop hulle geleenthede skep vir ekonomiese groei wat in verhouding is met die land se vermoë en bevolkingsaanwas.
Aan die anderkant is onbeheerste groei en/of inmenging vanuit die buiteland, in welke sektor van ‘n land se samelewing, ‘n resep vir anargie en uiteindelike chaos. Onderwys en opvoeding wat verantwoordelike landsburgers voortbring is dus onontbeerlik vir ‘n ordelike en wetsgehoorsame bevolking wat op sy beurt ‘n verantwoordelike regering moet daarstel. Om gelykheid en vryheid as grondreël vir vreedsame naasbestaan af te dwing, mag in belang van die Wêreldorde drywers wees omdat dit anargie inhou wat vir hulle voordelig is, bly dit ‘n ontkenning van die werklikheid en nadelig vir die handhawing van nasionalisme en identiteit. Daarsonder is bandeloosheid en verval, tegelyk op sedelike, morele en materiële gebied onafwendbaar.