Al wat die liberalisme se fokus op gelykheid en vryheid van almal, vryheid van denke en vryhede soos vervat in die Grondwet vir Suid Afrika gebring het, is “to ghastly to contemplate",... (AVP)
deur Tyl Uilspieël, Pretoria:
2014-02-15 23:29
Tim du Plessis in “Wat sê die DA se Afrikaners?” (Rapport, 9 Februarie) maak die stelling dat die meeste Afrikaners DA stem uit “selfverdediging” om weerstand te bied teen die ANC se meerderheidsdrang. Volgens Tim moet die liberale beginsels van die DA die Afrikaners wat vir die party stem pla. Hy wonder of die 2014-verkiesing die laaste een sal wees waar wit Afrikaners vir die DA stem. Afrikaners is meer liberaal as wat Tim dink. Die NP was sedert sy stigting ’n konserwatiewe party, maar sedert die laat 1970’s het NP-lede reeds begin om die konserwatisme-laer te verlaat en gaandeweg het die stroom al sterker geword. Die meeste konserwatiewes het in die 1980’s by die KP aangesluit en toe dié party vou, by die Vryheidsfront. Tot aan die einde van die NNP was ook dáár nog ’n klein minderheid konserwatiewes.
Tim is reg, Tony Leon het die meerderheid Afrikaners in 1999 in sy kamp gejaag en baie het uit “selfverdediging” DA gestem, maar gaandeweg het die meerderheid tuis in die liberale omgewing gevoel, want Afrikaners is meer aanpasbaar as wat mense dink. Duisende het hul Rubicon oorgesteek deur vir Cope te stem omdat dié party wit, bruin en swart sou kon saamsnoer in ’n nierassige party. Taal en kultuur was nie ’n kwessie nie. Liberalisme fokus op gelykheid en vryheid van almal, vryheid van denke en vryhede soos vervat in ons Grondwet. Liberalisme was een van die “gevare” waarmee my geslag Afrikaners (ek is in my 70’s) bang gemaak is om ideologiese redes. Konserwatisme, wat ek verdrukkend ervaar het, was die kompas vir Afrikaners.
Die DA het sedert 2009 sy steunbasis vergroot en die groterwordende swart komponent is ’n demografiese realiteit. Kiesers stem vir die DA omdat die party die regering se knoeiery deurlopend aan die kaak stel, bewyse kan lewer van goeie regering, die amptelike opposisie is, en omdat Helen Zille sterk leierskap bied. ( Aldus Uilspieël)
Al gun die AVP aan elke mens sy siening en oortuiging, is dit terwille van die werklikheid tog nodig om kommentaar te lewer op Uilspieël van Pretoria se ontleding van die Afrikaner. As Uilspieël met Tim du Plessis verskil oor die feit dat die beginsels van die DA vir die Afrikanerkieser pla omdat Afrikaners meer liberaal is as wat Tim dink, dan redeneer Uilspieël vanuit sy eie verwysingsraamwerk en nie die van die Nasionalistiese Afrikaner nie.
Daar is ‘n verskil tussen Nasionalisme en konserwatisme, wat Uilspieël as verdrukkend ervaar het. Dr. A.P. Treurnicht het by geleentheid in ‘n onderhoud met D’Olivera van die Sunday Star, waarin hy aan Treurnicht gevra het waarom hy dr. Connie Mulder se Nasionale Konserwatiewe Party (NKP) se kop afgekap het en net die KP-gedeelte behou het, aangesien feitlik al die Afrikanerpartye op die grondslag van Nasionalisme, ( wat terloops nie ‘n ideologie is nie), gestaan het. Dr. Treurnicht se antwoord was: “Jy verstaan my politiek verkeerd. My party is nie ’n Nasionalistiese party nie maar ’n konserwatiewe party wat oop is vir Afrikaners, Engelse, Grieke, Jode en ander wat konserwatief is”
Die duisende Afrikaners wat hulle “Rubicons” oorgesteek het na Cope, bestaan net in die verbeelding van Uilspieël. Die bewys setel in die swak prestasie van die VF+ wie se “konserwatiewe” beeld sy werklike baadjie gewys het in die volgende berig.
BEELD van 4 Mei 2011 Gloria Edwards
Die VF+ se besluit om in twee wyke van Soweto vir die verkiesing te staan, is volgens die ANC in Gauteng ’n teken van vordering vir Suid-Afrika.
Só het mnr. David Makhura, ANC-sekretaris in Gauteng, gister gesê.
Die Gautengse ANC is volgens hom “vol vertroue” dat hy alle munisipaliteite in dié provinsie, insluitende Midvaal, gaan wen. Mnr. Franco de Lange, die VF+ se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, het gesê dié party wil bewys hy “is nie meer ’n net-wit-party nie”.
“Ons wil die stigma dat ons ’n ‘ver-regse’ party is, uitwis.” (My beklemtoning)
Die party het mnr. Johannes Lubbe as raadslidkandidaat vir wyk 51 en 52 (Zola, Zondi en Jabulani) aangewys.
“Die swart bevolking raak moeg vir leë beloftes,” het De Lange gesê. “Daar is heelwat mense uit Soweto wat met sekere probleme na ons toe gekom het en waarmee ons gehelp het. Ek glo ons sal ’n paar stemme in Soweto kry.”
NAAMSVERANDERINGE
Die praktyk om te mislei deur naamsveranderinge het nie sy oorsprong by die ANC nie. Dit kom reeds geruime tyd. Na die moord op dr. Verwoerd, het die Nasionale Party nadat hy geskeur het in 1969 en in verkiesings al swakker gevaar het weens sy beleidsverandering, ’n nasaat gebaar en dit die KP. genoem in dieselfde tyd wat die Broederbond swanger was met ’n buite-egtelike baba wat by sy geboorte Toekomsgesprek genoem is en later herdoop is na Volksbond.
Die verloopte NP na die sluipmoord op dr. Verwoerd, die NKP, die KP, die VF+, die DA, Konserwatisme, Liberalisme........
Die name verander dus, maar die politieke “genetika” bly! Telkens ’n ander baadjie, maar die binnegoed bly dieselfde!
As Uilspieël aandag gegee het aan die bangmaakstories oor die liberalisme, sou hy nie nou nodig gehad het om in die skemeraand van sy lewe, sy afwyking na die dekadente liberalisme te probeer regverdig het nie. Al wat die liberalisme se fokus op gelykheid en vryheid van almal, vryheid van denke en vryhede soos vervat in die Grondwet vir Suid Afrika gebring het, is “to ghastly to contemplate", om die liberale John Vorster, wat met die afwyking van nasionalisme begin het se alombekende stelling te gebruik!