Daarom vereenselwig Afrikaners hulle maklik met ’n benadering wat etnisiteit verwerp en net op die individu fokus.
Die gesprek oor ons grondwetlike benouenis word van twee kante gestimuleer. Weer eens: Dit is en was die AVP wat dit as sy taak gestel het om op 'n voortgesette grondslag na dié twee sake, dit is wat rofweg “negatiewe” en “positiewe” stimulasie vir die grondwetlike gesprek beskou kan word, te kyk.
Die “negatiewe” stimulasie kom gewoonlik van niemand anders nie as die argitekte van hierdie bedeling uit die ou Nasionale Party en sy magskring soos gerig deur die Broederbond (AB). Maar ook, soos in gister se skrywe opgemerk is toe daar aandag gegee is aan diegene wat die heftigste klaagliedere teen die gevolge van die Nuwe Suid-Afrika (NSA) aanhef, van Naspers.
Gister is die name van klaagliedsangers Pik Botha en FW de Klerk genoem. Dié koortjie kan vollediger gemaak word deur al die medewerkers aan Dirk Hermann van Solidariteit se boek, Regstellende trane, te kyk. Ook Constand Viljoen word onder die lamenterendes gevind.
Maar dan is daar ook 'n groep wat versigtigheidshalwe as die “positiewes” bestempel kan word.
Om hierdie “positiewes” oor 'n grondwetlike bedeling wat op sy laaste bene staan, aan te toon is inderdaad 'n gevaarlike oefening. Want hul eindbestemming, die opkomende grondwetlike bedeling wat hulle sou verkies, se lyne word nie duidelik en ondubelsinnig genoeg getrek nie. Van dié “positiewes” se ontvangenis met die aanbreek van die NSA, was ook alles behalwe onbevlek.
Hierdie grondwetlike gesprek roer al vir die afgelope drie of vier jaar ernstiger. Wat verdag is wat hierdie Afrikaner-gesprekvoerders betref, is dat in die eerste skote van die debat daar gepoog is om aansluiting te vind by Jacob Zuma se sogenaamde Tweede Oorgang van die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR). Met ander woorde, daar sal dus tog iets heilsaam uit grondwet 1996 geneem kan word en daarop 'n politieke toekoms vir die Afrikanervolk gebou kan word.
DIE 1961-GRONDWET
Die AVP voer al sedert sy stigting aan die 1961-grondwet is die grondslag vir die Afrikanervolk vir staatsvorming en hierdie dokument bied ook die gronde vir 'n politieke skikking tussen die Afrikanervolk en die Blankes met die land se buurvolke.
Dus: Die AVP is dit aan sy volgelinge verskuldig om op die grondslag van grondwet 1961 na 'n politieke skikking in die land te strewe en dit na te jaag – daar is eenvoudig geen ander regsgeldige dokument tot die Afrikanervolk en die Blanke se beskikking om die verbysterende onreg wat die afgelpe 20 jaar en langer teenoor die Blankes gepleeg is, te hanteer nie.
'n DEELNEMER AAN DIE “POSITIEWE” GESPREK?
Die AVP bemerk dat Radio Pretoria in vandag se nuuskommentaar hom ook tot die geledere van die “positiewe” gesprekvoerders gevoeg het. Die kommentaar lig verskeie probleme wat met die heersende grondwet ervaar word uit en kla dat 'n “elite” en nie die “massa” nie met behulp van die grondwet regeer. Aan die ander kant is die verwysing in die kommentaar na etnisiteit te onvolledig, indien nie halfhartig nie. Daar word wel gewaag om na Afrikaners te verwys, maar dan bygevoeg dat Afrikaners hulle baie maklik vereenselwig met 'n benadering wat etnisiteit verwerp.
Dis hierdie soort politieke evangelie en sy wollerigheid wat van Radio Pretoria nie net 'n stomp werktuig vir die politieke vryheid van die Afrikaner maak nie, dis iets veel erger: Sulke nog kant, nog klaar-stellings laat die vermoede ontstaan die radiostasie hou sy eintlike missie en visie verborge want die volksgebonde Afrikaner sal dit verwerplik vind.
Die nuuskommentaar lui: 3 September 2013 – Suid-Afrika: Meer as bloot vyftig miljoen individue
Die amptelike bevolkingsyfer van Suid-Afrika staan rondom vyftig miljoen. Die grondwet beskou dit as bloot vyftig miljoen individue, elk met bepaalde persoonlike regte. Die enigste bevordering van verskeidenheid, is die stelling dat sommige in die verlede agtergelaat is en nou bevoordeel moet word. Kragtens hierdie historiese konstruk word nie die arm massas nie, maar ’n klein elite, verryk.
Die ANC se hardnekkige weiering om te erken dat die bevolking uit etniese groepe saamgestel is, kan uit die geskiedenis begryp word. Die Britse koloniale strategie was om ’n deel van die koloniale bevolking sodanig te verwesters, dat hulle mettertyd die gebied kon regeer, soos Britte dit self sou doen. Etniese bande moes met ’n algemene “Britsheid” vervang word. Dit is uit hierdie groep wat die ANC in 1912 in Suid-Afrika gebore is.
Hoewel die ANC vir etlike dekades gematig was en bloot vir opname van “kwalifiserendes” volgens Britse reëls geywer het, het dit tydens die Tweede Wêreldoorlog geradikaliseer. Die eis is aangepas tot gelyke regte, wel wetende dat die bevolkingsamestelling swart mense permanent in beheer sou plaas. Daarmee is standpunt teen die eksklusiewe pan Afrikanisme ingeneem, maar ook teen etnies gedrewe ontwikkeling soos die NP-regering nagestreef het.
As afsonderlike ontwikkeling daarin sou slaag om swart politieke aspirasies te bevredig, sou dit die ANC se doodsteek wees. Daarom moes dit ten alle koste as ’n poging om swart mense permanent te benadeel, voorgestel word. Die feit dat blankes onwillig was om reeds ontwikkelde dorpe en stede aan swart beheer oor te dra, het die ANC se taak vergemaklik.
Die argument kon soos volg voorgehou word: “Julle kan die regering se aanbod om geleidelik volgens die groei van eie vermoëns polities, sosiaal en ekonomies te ontwikkel. Julle kan ook weier om iets daarmee te doen te hê, aandring op gelyke regte en die hele land met al sy hulpbronne en ontwikkeling verkry.”
Wat die meerderheid swart mense verkies het, is geskiedenis. Teen hierdie agtergrond gesien, is dit ook nie verrassend nie. Tog sou dit foutief wees om af te lei dat etnisiteit verval het. By swart mense is pas beskryf hoe dit onder die oppervlak gedwing is. By Afrikaners het dit ook gebeur, maar volgens ’n ander proses. Die oorgang na ’n een mens een stem-demokrasie het talle ekonomiese geleenthede vir Afrikaners geopen. Tog word beweerde bevoordeling in die verlede gebruik om Afrikaners vandag te benadeel. Daarom vereenselwig Afrikaners hulle maklik met ’n benadering wat etnisiteit verwerp en net op die individu fokus.