Die outokratiese wyse waarmee die kommissie van die algemene kerkvergadering van die Hervormde Kerk, nadat hy die kerk se koers verander het, ander leraars wat nie wil volg nie probeer afdreig, het tekenend geword van die krag wat kerke aanwend om leraars en lidmate saam met hulle agter die wêreld aan te trek. Dit laat ‘n ernstige vraag oor in wie se diens hierdie kerke opereer. Is hulle werklik van mening dat hulle sal kan bly voortbestaan deur agter die wêreld aan te gaan?
Dié wat loop nie meer leraar, Kan nie sakramente bedien – kerk
Neels Jackson
Vrydag 23 Augustus 2013
Leraars wat uit die Hervormde Kerk bedank het, is nie meer leraars van ’n erkende kerk nie en behoort nie langer die doop en nagmaal te bedien nie. So het die Hervormde Kerk (NHKA) se kommissie van die algemene kerkvergadering gesê na aanleiding van die onlangse stigting van die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes deur gemeentes wat van die kerk weggebreek het. Dié gemeentes word gelei deur leraars wat uit die Hervormde Kerk bedank het.
Die kommissie raai paartjies wat hulle deur sulke leraars wil laat trou ook aan om seker te maak dat dié leraars nog wettige huweliksbevestigers is. Dr. Malan Storm, een van dié leraars, het gesê dit is so dat hulle nie meer leraars van die Hervormde Kerk is nie. Die ware gesag om leraars te beroep, lê egter by die gemeentes. Die kerk is nie ’n franchise wat gemeentes toestemming gee om leraars te beroep nie. Hy het gesê al die leraars in die Geloofsbond is behoorlik opgelei en sal verseker dat leraars wat beroep word ook opgelei en behoorlik georden is.
Die kommissie het gesê die feite dat die Geloofsbond gevorm is deur afgevaardigdes van gemeentes, dat hulle ’n eie kerkorde wil skryf en eie teologiese opleiding wil reël, ’n aparte sentrale bankrekening gestig het en kommunikasiekanale gevorm het, wys dat hulle besig is met die stigting van ’n eie kerk. Dit weerspreek die Geloofsbond se eie siening dat hulle nie ’n nuwe kerk stig nie. Na aanleiding van die Geloofsbond se herbevestiging van die staat van belydenis teen die Hervormde Kerk het die kommissie benadruk dat elke lidmaat wat die staat van belydenis teken sy of haar bande met die Hervormde Kerk opsê.
Die kommissie wil nie welmenende lidmate van die kerk vervreem nie, maar wil orde en eenheid in die kerk beskerm, lui hul verklaring.