“Deesdae kry ons allerhande beloftes van ewe goeie rente wat verdien kan word deur partye wat oorbruggingsfinansiering doen.......
Hierdie protesskrif het op die AVP se lessenaar geland en verskeie ander insidente opgeroep wat daarop dui dat alles wat mooi voorkom, nie altyd so mooi is as wat voorgehou word nie. Dit dan nog ten koste van mede Afrikaners.
Ons onthou die Albert Vermaasbeleggingskema in 1994 wat mense geweldige opbrengste op hulle beleggings belowe het. Hy het die reputasie van ‘n kennis van Pik Botha en Magnus Malan gehad wat mense oortuig het van sy bona fides. Dawie Klopper het by geleentheid in Sake-Rapport geskryf: . “Deesdae kry ons allerhande beloftes van ewe goeie rente wat verdien kan word deur partye wat oorbruggingsfinansiering doen , nadat eiendomstransaksies gedoen is en voordat die geld uitbetaal kan word , teen die transaksie geld aan die verkopers verskaf teen astronomiese rente. En jy kan as verskaffer van kapitaal aan die tussenganger ook deel in die goeie rente wat betaal word deur mense wat nie kan wag voordat hulle fondse uitbetaal word nie.
Of jy word uitgenooi om in die myn van Weskus diamante te belê. Of in melkkulture, of in Krion, of in biobrandstof of in die nuutste piramideskema. En al die stories klink so goed en die opbrengste fantasties.”
Verder is daar behoudende Afrikaners wat in gedinge betrokke raak van plaasbesettings, Arbeiders wat nie wil trek nie, ‘n betreder wat geskiet word ens., wat dan deur “regse” prokureurs en advokate, skaamteloos feitlik finansieel uitgeroei word. As ons as ‘n volk wil oorleef, dan is dit nou die tyd om mekaar by te staan en te ondersteun, in teenstelling daarvan om te kyk hoeveel voordeel ons uit ander volksgenote se ellende en/of behoefte getrek kan word.
Dit is wanneer dinge soos hierdie gebeur, wat ‘n mens noop om na die betrokke bloedsuiers se verbintenisse te kyk en dan glad nie verbaas te wees om te merk dat hulle glad nie is wat hulle voorgee om te wees, veral in verband met hulle gewaande volkskap nie.
PROTESSKRIF MET DIE OOG OP DIE 17 AUGUSTUS 2013 KBK AJV
Hiermee word amptelik verklaar ingevolge die kennisleer:
By ontvangs van die dokumentasie wat betrekking het op die Jaarlikse Algemene Vergadering van Kleinfontein Boerebelange Koöperatief Beperk (hierna KBK genoem) om gehou te word op 17 Augustus 2013, het verskeie aandeelhouers hul bekommernis uitgespreek rakende die inhoud daarvan. Hierdie groepering van KBK se aandeelhouers weerhou hulle uit protes van deelname aan die Vergadering as distansiëring van die onregmatigheid van die bestuur van KBK en die wanaanwending van ledevergaderings in diens daarvan. Dit is ook ons oordeel dat besluite van die vergadering nie regsbindend kan wees nie aangesien geen wettigheid uit onwettige oorsaak kan spruit nie.
Alhoewel daar verskeie besorgdhede bestaan word die volgende redes vir die protesaksie uitgelig:
1. Die voortdurende pleeg van opsetlike wanvoorstelling deur die direksie van KBK aangaande die onwettige status van KBK se bedryf as eiendomsontwikkelaar.
2. Die bemarking van die volgende regte, en die gevolglike neem van kapitaal en kommissie, sonder enige voorneme om sodanige regte wettiglik in die aktekantoor te laat realiseer:
a. Die reg tot ontwikkeling op ’n toegewysde erf.
b. Die verhalingsreg op die volle realiseerbare waarde van die ontwikkeling.
3. Die aanwending van aandelekapitaal, wat op hierdie wyse gevorder word, as inkomste, sonder enige erkenning van- of voorsiening vir- gepaardgaande finansiële verpligtinge deur KBK, ten einde bogenoemde eiendomsregte wat kontraktueel voorgehou was te laat realiseer ten gunste van opnemers van aandele.
4. Die opsetlike pleeg van wanvoorstelling met die finansiële state, deur waardasie ten opsigte van eiendomsreg wat in terme van kontrakte afgestaan is, steeds as ’n bate in KBK se balansstaat te reflekteer.
5. Die beswaring van dieselfde realiseerbare waarde op eiendom wat as kontraktuele teenprestasie aan aandeelhouers voorgehou was vir kapitaal, aan ’n derde party naamlik ABSA.
6. Verdere wanvoorstelling waardeur eienaarskap van lede ontken word en vir KBK opgeëis word met bewerings gemaak teenoor SARS waardeur onder andere voorgehou word “In substance the member enters into an indefinite period lease with KBK Bpk.” en “The true substance of the underlying supply of the right to use the land is a supply of land in terms of a long term lease.“.
Bogenoemde praktyke verteenwoordig gemeenregtelike teenstrydigheid, veroorsaak ’n beletselling teen die sluiting van geldige kontrakte, en skep eensydige voordeel ten gunste van indiwiduele sakebelange ten opsigte van bemarking en ontwikkeling, en ten koste van aandeelhouers.
Gevolge voortspruitend uit bogenoemde protesaksie: Die betrokke aandeelhouers wens ook die volgende op rekord te plaas in verband met aanspreeklikheid:
1. Dat die betrokke aandeelhouers hulself deur hierdie aksie van deelname aan die onwettigheid van KBK se bedryf distansieer.
2. Dat enige besluite wat op genoemde jaarvergadering van KBK geneem word, en wat gerig is op die voortsetting van onwettigheid, nie as bindend op genoemde aandeelhouers beskou sal word nie.
3. Dat waar onwettigheid ter sprake is, die direkteure nie as verteenwoordiger van die prinsipaal optree in terme van die verteenwoordigingsreg nie, maar uitsluitlik in hul persoonlike hoedanigheid.
4. Dat genoemde aandeelhouers gevolglik ook geen toestemming tot benadeling verleen, of aanspreeklikheid aanvaar vir skade of verliese veroorsaak aan enige party (insluitend skade aan hul eie belange), indien sodanige skade voortspruit uit goedkeuring van onwettige optrede deur direkteure, of ander lede van KBK nie.
Finansiële state: Die vermelde aandeelhouers wens ook hiermee te verklaar dat hulle nie die konsep finansiële state, soos voorgehou deur die direksie van KBK vir die 2013 finansiële jaar kan goedkeur nie, weens die volgende redes:
1. Die finansiële state reflekteer nie die aard en wese van die transaksie in terme van eiendomsreg wat kontraktueel voorgehou was ten gunste van aandeelhouers se boedels nie.
2. Behalwe vir summiere onteiening waaraan die direksie hom reeds skuldig gemaak het, maak die state nou ook voorsiening vir gestadigde onteiening asof die lede kontraktueel daartoe ingestem het.
3. Die eiendomsreg van aandeelhouers word nou as “vruggebruik” beskou in die finansiële state. Daar kan geen regsgevolge ontstaan uit die bemarking en verhandeling van daardie komponent van eiendomsreg wat as “vruggebruik” bekendstaan nie.
4. Die gevolglike verdiskontering van waardasie van eiendomsreg ten gunste van KBK, en ten koste van aandeelhouers word verwerp.
5. Die verrekening van aandeelhouers se eiendomsreg as “vruggebruik” dien as bewys dat daar geen voorneme bestaan by die direksie van KBK om enige wettige eiendomsreg te laat vestig ten gunste van aandeelhouers nie.
6. Die vermindering van aandelewaarde van 1000 rand per aandeel na 1 rand per aandeel in die finansiële state, en die gevolglike verrekening van kapitaal as inkomste word ook verwerp.
7. Die aandelewaarde was kontraktueel voorgehou as die koopprys van n erf met inbegrip van die totstandkoming van sekere regte. Die afskryf van aandelewaarde beteken dat die direksie van KBK nou alle finansiële kapitaalverpligting van die ontwikkelaar ontken om daardie regte te laat realiseer soos wat kontraktueel in ruil vir kapitaal voorgehou was.
8. Die gevolglike oorwaardering van bates, ontkenning van verpligtinge, en onregmatige verrekening van aandelekapitaal as inkomste wat nou met verwysing na “vruggebruik” regverdig word, skep ’n wesentlike wanvoorstelling in die finansiële state in terme van solvensie. Dit dui ook op die elemente van ’n onwettige en nie-volhoubare skema, waarby daar geen voorneme bestaan om te presteer soos wat kontraktueel voorgehou was nie.
Die doel van hierdie protes is om aandeelhouers se belange te beskerm en aanspreeklikheid te beperk. Dit moet daarop gewys word dat enige derde party wat kennis dra van bogenoemde agterdogwekkende omstandighede, en steeds voortgaan om nuwe finansiëring daaraan te verskaf, se verhalingsreg ten opsigte van genoemde finansiëring teëgestaan sal word op grond van die kennisleer.