Radio Pretoria moet voor stok gekry word oor eienaardige uitlatings wat gereeld in sy nuuskommentare voorkom. Gisteroggend het hy dit teen “neo-apartheid”. Nou wat is dié “neo-apartheid” wat julle dit teen het Radio Pretoria, nou dat Naspers (Naspers op sy beurt weer 'n voetvel van die Geldmag se JP Morgan), se Flip Buys knus in Radio Pretoria se bestuur sit. En ook Ziswe Spies as “tydelike” hoofbestuurder. Vertel die Afrikanervolk ook sommer wat julle weergawe van “ou” apartheid is en al julle weersin daarin. Verskoon tog maar, maar as Radio Pretoria so gal afgaan oor “neo”-apartheid, dan sien jy daardie Prog Colin Eglin weer in sy tirades in die Volksraad waar hy wraak sweer teen apartheid en “petty” apartheid en Afrikanernasionalisme dat die spoeg spat. Net in Radio Pretoria se geval gebruik die Afrikanervolk se vyande die gemoduleerde stem van 'n omroeper om die selfde gif te saai.
In hierdie nuuskommentaar spring een van hierdie buiksprekers weg en praat oor die beste grondwette en hoe hierdie beste grondwette maar net die bros klei blyk te wees waarmee mislukkende samelewings gebou word. Om die luisteraar nog meer op sy gemak te stel hier kom die ANC/NP-grondwet nou op die kapblok, word ook verklaar dit was vir liberáles die “beste grondwette”. Met ander woorde, “vir “konserwatiewe” soos die kommentaarskrywer is dit nie die “beste” grondwet nie.
En dan, daar op die spits van die spiets van hierdie besiger van dubbeltaal, weer 'n versie wat al in vorige onlangse nuuskommentare raak gehoor is en dit handel oor daardie geheimsinnige wonderdade wat die FW de Klerk-stigting besig is om te pleeg. Hierdie kommentaar se weergawe van die versie lui so:
“Instansies soos die FW de Klerkstigting het al telkemale daarop gewys dat die ANC nie respek vir die Nasionale Vredesakkoord toon nie, en dat sommiges ook al aangedui het dat hulle minstens dele daarvan wil opsê.” Daar word deesdae baie deur Radio Pretoria kennis geneem van uitlatings deur hierdie sogenaamde stigting, so baie dat die versigtige sal vermoed Radio Pretoria is besig om sy luisteraars sag te maak vir 'n volledige FW de Klerk-ontbytprogram.
Hoewel Radio Pretoria nog huiwerig is om enige waardeoordele oor De Klerk en sy stigting se standpunte te stel, sal daardie dag spoedig aanbreek. En die kernboodskap daarvan? FW de Klerk, old leader, new drive, right hand drive. Uiteraard weer in 'n motor met twee linkerstuurwiele. Kan enige reggeaarde mens nou sulke pêretwak vir vye aansien.
DIE NUUSKOMMENTAAR:
Leer uit die verlede en bou op die toekoms. Geskiedkundiges wys gereeld daarop dat hul vakgebied baie belangrik is, omdat die mensdom uit gebeure van die verlede kan leer om beter aan die toekoms te bou. Otto von Bismarck het byvoorbeeld verkondig dat jy nie jou verslane vyand moet verneder nie, en kon so eers die Pruisiese en toe Duitse Ryk uitbou. Hy het egter in onguns verval, en sy opvolgers het Frankryk verneder, en later die prys daarvoor betaal.
Pas het die Japannese vise-premier, Taro Aso, die internasionale gemeenskap laat regop sit deur te sê die Japannese kan baie by die Nazi’s leer oor hoe om ʼn grondwet ongemerk te verander, en dat Japan dieselfde moet doen. Sy politieke opponente eis sy kop al het hy dit as misverstand beskryf en om verskoning gevra.
Waarna Aso verwys het, was die Weimar-grondwet van die Duitse Ryk na die Eerste Wêreldoorlog. Dié grondwet word steeds in sommige liberale kringe as die beste grondwet ooit beskryf. Dit het egter teen die agtergrond van die vernederende voorwaardes van die Vrede van Versailles gestaan, wat na die Eerste Wêreldoorlog op Duitsland afgedwing is. Hiervolgens is Duitsland onder meer erg beperk om weer ʼn militêre vermoë op te bou. Die vernederende voorwaardes word dikwels beskryf as een van die redes wat tot Hitler se opkoms gelei het.
Na die Tweede Wêreldoorlog is Japan ook erg militêr beperk, en die regering van premier Sshizo Abe beskryf die grondwet as een wat deur die geallieerde magte aan Japan opgedwing is. Dié grondwet word nou hersien, maar die werklike probleem is dat Japan, as Westersgesinde land, in die Ooste erg blootgestel is. Japan en China is met mekaar haaks oor ʼn groepie eilande naby Taiwan, waar daar waarskynlik ryk olievelde is. Noord-Korea dreig nie net die VSA met kernaanvalle nie, maar dreig ook Japan en Suid-Korea. En Japan het verstaanbaar geen affiniteit om weer onder kernbomme deur te loop nie, met die beste waarborg om dit vry te spring, om voorspring-operasies in Noord-Korea self te kan loods.
Maar dié vermoë kan hy nie onder die bestaande grondwet opbou nie. Pas na die ANC bes gegee het dat hy weens ʼn paleisrewolusie die bewind in Potchefstroom afgestaan het, het ʼn woordvoerder van die ANC gedreig om uit weerwraak die dorp se naam te verander. Dit werp dadelik ʼn skadu oor die motief vir ander pleknaamsveranderings. Is AfriForum reg dat dit die indruk skep dat dit oor die vernedering van die Afrikaner gaan? Instansies soos die FW de Klerkstigting het al telkemale daarop gewys dat die ANC nie respek vir die Nasionale Vredesakkoord toon nie, en dat sommiges ook al aangedui het dat hulle minstens dele daarvan wil opsê.
Malema het sy party se volle steun aan Mugabe toegesê, terwyl Mugabe onlangs oud-president Nelson Mandela gekritiseer het omdat hy te versoenend teenoor die blankes sou wees. Neo-apartheid benadeel wit, bruin en Indiër. Dit is hoog tyd dat die wêreld se oë oopgaan en die ANC aanspreek.