DIE VORIGE GESLAG AFRIKANERS SE STANDPUNT TEEN 'N GRONDWET WAT DIE AFRIKANERVOLK EN ANDER BLANKES VAN HULLE MAG SOU STROOP.
Met 'n nuwe geslag politiek-verantwoordelike Afrikaners wat sedert die Nasionale Party se oorgawe aan die ANC (1994) opgestaan het, is dit nodig om weer te kyk na die vorige geslag/te se besluit om 'n Swart meerderheidsregering, onafwendbaar onder Swart kommuniste, te verwerp.
Dit volg vanselfsprekend dat daardie verantwoordelike vorige geslag politieke Afrikaners (hulle kan die behoudendes genoem word), ook die grondwet wat uit 'n ooreenkoms tussen die Nasionale Party van FW de Klerk en die kommunistiese ANC sou voortvloei, sou verwerp.
Dit is nodig om vir 'n slag weer noukeuriger te let op die omstandighede in die laat 1980's en die vroeë 1990's ten einde die vorige geslag politiek-verantwoordelike Afrikaners se standpunt teen 'n grondwet wat die Afrikanervolk en ander Blankes van hulle mag sou stroop, aan die nuwe geslag tuis te bring.
Die nuwe geslag politiek-verantwoordelike Afrikaners moet goed besef dat die heersende ongeduld onder die politiek-onverantwoordelike Afrkaners, nie net in die onvergenoeglike en tragiese hede van grondgrypery en volksmoord gesetel is nie, 'n beduidende deel van die Afrikanervolk en ander Blankes het nooit hul waarheids- en werklikheidbesef ingeboet nie, hoe groot en luidrugtig die fanfare ook was toe De Klerk en Nelson Mandela se sogenaamde nuwe Suid-Afrika met 'n “nuwe nasie” gebore is.
Van politiek-onverantwoordelike Afrikaners en ongeduld geskryf... Dis dalk nodig dat daar vir die verstaan van Afrikaners se reaksies in die heersende tydsgewrig, gekyk word na woorde en omskrywings wat hierdie standpunte en emosies kan vasvat, iets baie soos FW de Klerk se broer Wimpie se munt van die terme “verlig” en “verkramp” destyds in 'n berugte toespraak. So onthou baie van die geslag Afrikaners wat in die 1980's en 1990's politieke baard gehad het die uitdrukking “neo-Nat”. En toe daar faksievorming destyds onder die Verenigde Party was, was daar die Ou Garde en die Jong Turke.
Hoewel sulke uitdrukkings en woorde maar vlietend is en verbygaan, wat van “liberaal-ongeduldig” vir ondersteuners van die voortsetting van die heersende grondwetlike bedeling onder ANC-hiel?
Jy staan eintlik verbaas om te merk hoe hoog die ongeduld onder nog gisteraand se liberales loop. Ja, selfs FW de Klerk is een van hulle. Hoe anders verklaar die waarnemers, ook liberales, dan al die steune en kreune en herinneringe deur De Klerk en sy stigting dat De Klerk eens op 'n tyd ook behoudende Afrikaner-standpunte gehuldig het.
In die kategorie liberale ongeduldiges hoort seer sekerlik ook Naspes en sy joernaliste. Kyk net hoe val hulle die ANC-regime aan. Uiteraard sal Naspes gou terugkap en verklaar daar is niks verkeerd met die grondwet en Swart meerderheidsregering onder die ANC nie, dis Zuma wat die vlieg in die apteker se salf is. Die sielkundiges noem sulke deursigtige walgooiery skuldverplasing en onkenning. Dit maak egter Naspes en sy joernaliste se dwalinge nie aanneemliker nie, hoe verduidelik geeste soos Tim du Plessis en Ton Vosloo die lis waarmee hulle Swart meerderheidsregering aan die Afrikanervolk verkwansel het en steeds as 'n uitweg voorhou.
Miskien is daar tog kwalifikasie nodig wanneer hierdie verloopte liberales, nou ongeduldiges, se optrede onder die loep geneem word. Destyds, met die oorgawe aan die ANC en die World Trade Centre-kulkunsies in Kemptonpark en met dr. Izak de Villiers as redakteur van Rapport, het hiedie koerant tog voorbehoude oor die grondwetkontrepsie uitgespreek. Later het dr. De Villiers, weer terug as skrywer van 'n rubriek in 'n vrouetydskrif, nie al die moord en roof van die nuwe Suid-Afrika onvermeld kon laat verby gaan nie, selfs in onskuldige vrouerubrieke.
Maar hoe het die behoudende, of politiek-verantwoordelike Afrikaner van die 1990's op onderhandelinge gereageer? Was dit sommer maar net 'n randverskynsel? Was daar 'n geleentheid waar hierdie behoudendes of verantwoordelikes hulle standpunt kon monster en hoe het daardie standpunt gelyk? Sou hulle standpunt die standpunt van die sogenaamde kritieke massa kon verteenwoordig? Kan daar in die geskiedenis van daardie tyd 'n spesifieke omleiding vir hierdie standpunt gevind word en, net so belangrik, hoe het hierdie standpunt gelui?
Gebeure van 1993 en 1994 het mekaar snel opgevolg en gekulmineer in die 24 April 1994-oorgawe verkiesing.
Dis nodig in 'n ondersoek van die standpunt/e van die behoudende Afrikaner om by 'n paar besondere datums stil te staan, die belangrikste van die datums wat Afrikanerstandpunt betref seer sekerlik 29 Januarie 1994, toe 'n volksvergadering, gereël deur die Afrikaner-Volksfront onder die leiding van Ferdi Hartzenberg, Constand Viljoen en nog ander hoë veiligheidsmagoffisiere, in 'n saal op die Pretoriase Skougronde gehou is.
Die saal was stampvol en die volle kontingent joernaliste in die land, dis uit die buiteland en ook Suid-Afrika, daar ('n Neger-joernalis wat deur die omgekrapte Afrikaners die saal se deur gewys is).
Op daardie dag, voor daar tot die stel van mosies oorgegaan is, is 'n volksraad plegtig deur dr. Tom Dreyer ('n teoloog) ingehuldig. Dr. Hartzenberg was die president.
Ook Radio Pretoria was daar, verteenwoordig deur Johannes van der Walt. Uit hierdie vegadering, die deurslaggewende van 'n reeks waarin die volk vir verset opgevorder is, sou die optredes wat reeds afgehandel is (verset wat sabotasie ingesluit het), na 'n logiese einde gevoer word: vryheid vir die Afrikanervolk. Oor die kant waar die destydse radio Pretoria gestaan het, was daar geen twyfel nie, een van Radio Pretoria se nuuskommentare se opskrif, Ons, die nie-stemmers.
Om met hierdie verkenning voort te gaan is dit nodig om van verwikelinge in daardie stadium (en grootliks agter die skerms) kennis te neem:
DIE AVF/ANC-OOREENKOMS
Een van die fakse wat by Radio Pretoria uitgekom het, was uit die AVF-kantoor. Dit is die "Memorandum of agreement between the African National Congress and the Afrikaner-Volksfront." Die memorandum gedateer vir ondertekening deur genl Constand Viljoen as leier van die AVF-afvaardiging en Thabo Mbeki vir 18 Desember 1993 in Johannesburg, is glad nie deur die aangewese twee onderteken nie.
Op die getikte memorandum is verskeie veranderings in handskrif aangebring deur 'n onbekende persoon.
Gegewe die inhoud van die memorandum kan met reg aangevoer word dat die AVF-leierskap totaal afgewyk het van die Konserwatiewe Party se verklaarde standpunte – soos goedgekeur deur die KP se provinsiale en spesiale kongresse – teen onderhandelings met die ANC en die besluite wat die Volksvergadering op 29 Januarie 1994 sou neem, vooruitgeloop het.
Punt 1.1 verklaar:
"Both parties are commited to the development of non-racial democracies. They both accept that many Afrikaners expressed as desire for self-determination in a Volkstaat. The parties agree that this desire should be addressed expeditiously, without delaying the current process of transition."
Hierdie AVF-afvaardiging onder genl Viljoen het hom dus op 18 Desember 1993 onomkeerbaar tot 'n "process of transition" – die oordrag van mag – verbind.
Beide partye verbind hulle in punt 1.2 tot die soeke "konstruktiewe betrokkenheid by die konstitusionele proses," en dan, in handskrif bygevoeg, "that will satisfy the demands, desires of both the ANC/AVF".
Volgens die dokument moes die afvaardigings op 20 Januarie 1994 op 'n vergadering verslag doen – dus voor die belangrike en, veronderstel ek, deurslaggewende volksvergadering op 29 Januarie 1994.
Amerika
Wat het intussen gebeur? Wie het hierdie diplomasie tussen die AVF en die ANC aan die gang gehou?
Die koerant, Die Afrikaner van 13 – 19 Mei 1994 werp lig op die saak onder die opskrif 'Amerikaanse ambassadeur het proses beheer':
"Die hele onderhandelingsproses wat tot by die magsoordrag aan die SA Kommunistiese Party gelei het, is deur die Amerikaners bestuur. Die Amerikaanse ambassadeur, Princeton Lyman, het nog tot op die laaste alle haakplekke in die onderhandelings- en oordragsproses uitgestryk, elke keer persoonlik ingegryp waar daar haakplekke gekom het in die gesprekke tussen die NP en die ANC, die NP, ANC en die Vryheidsfront, of tussen die Vryheidsfront en die ANC.
"Soos klein dingetjies 'n beter prentjie kan gee van die groot dinge as die beeld daarvan in die koerante geskilder word, het Lyman se optrede in die ondertekening van die ooreenkoms tussen die ANC, NP en die Vryheidsfront, bewys waar eintlik die swaartepunt van die hele onderhandelings- en verkiesingsproses gelê het.
"Die ooreenkoms wat reeds in die middel van Desember bereik was tussen genl Viljoen, Roelf Meyer en Thabo Mbeki oor die Volksfrontraad, kon maar net nie geteken raak nie. Genl Viljoen het dán die ANC, dán die NP gevra wanneer dit geteken kon word, maar Roelf Meyer en Thabo Mbeki het altyd verskonings gehad. Die een dag het nie vir Meyer gepas nie, en die ander dag nie vir Mbeki nie. Dit was duidelik afgespreek.
"Uiteindelik het Viljoen vir Lyman geskakel. Kon die ambassadeur dalk iets doen om die ooreenkoms, waarvan so baie, ook vir Amerika en sy beleid, afgehang het, te red? Dit was Woensdag, 22 April.
"Binne 'n uur het sowel Meyer as Mbeki se sekretarisse genl Viljoen geskakel om te sê die ooreenkoms kon die volgende dag geteken word..."
In 'n volgende aflewering word dieper gekyk na die volksvergadering van 29 Januarie 1994 as 'n aanduider van die Afrikanervolk se verwerping van dan ten minste die voorlopige grondwet ('n finale grondwet sou ers in 1996 die lig sien).