(AVP se kommentaar op die uitspraak in Agri South Africa v Minister of Minerals and Energy [2013] ZACC 9 (18 April 2013) - deur Pieter van der Spuy
Die Mineral and Petroleum Resources Development Act (MPRDA) het in 2004 in werking getree. Die effek daarvan was dat die bestaande houers van mineraalregte van hulle regte ontneem is.
Die vraag het ontstaan of sodanige ontneming op onteiening neerkom en die staat derhalwe aanspreeklik is vir vergoeding. Die konstitusionele hof het verlede week in Agri South Africa v Minister of Minerals and Energy by monde van hoofregter Mogoeng in ’n meerderheidsuitspraak beslis dat die ontneming van bestaande mineraalregte deur die MPRDA nie neerkom op onteiening nie. Die houer van die mineraalreg verloor dus sy reg en die staat kan nou besluit wie kry die mynregte. Nogtans is die ontneemde nie geregtig op enige vergoeding nie, want volgens Mogoeng is dit nie onteiening nie!
Volgens die Grondwet hoef vergoeding nie vir ‘n ontneming van eiendom betaal te word nie as dit nie juridies as ‘n onteiening (wat nie in die Grondwet omskryf word nie) kwalifiseer nie. Volgens Mogoeng speel die konstitusonele verpligting van die staat om die ekonomie te transformeer tot voordeel van die swart mense ‘n belangrike rol in sy uitspraak. Mogoeng bevind in effek dat die staat se verbintenis tot swart transformasie belangriker is as die beskerming van eiendom.
Die rede vir Mogoeng se beslissing is omdat die staat, volgens Mogoeng, nie die mineraalregte verkry het nie; die minerale vestig nou in die “nation” en die staat tree bloot as ‘n sogenaamde “custodian” (bewaarder) op! Verkryging deur die staat self, is volgens Mogoeng, ‘n vereiste vir onteiening en derhalwe het ons nie hier met onteiening te doen nie. Regters Froneman en Van der Westhuizen verwerp in ‘n minderheidsuitspraak hierdie eng interpretasie van onteiening, maar beslis ook, om ander redes, dat vergoeding nie in hierdie geval betaalbaar is nie.
Eerstens is dit belangrik om te let dat hierdie uitspraak van Mogoeng gebaseer is op sy interpretasie van artikel 25 van die Grondwet. Die Grondwet is destyds deur De Klerk en andere voorgehou as ‘n waarborg van eiendomsregte. Hierdie uitspraak toon die teenoorgestelde: Die akte van fundamentele regte in die Grondwet is juis die instrument waardeur mense van hulle regte gestroop kan word – sonder vergoeding! Afrikaners en landbou-organisasies moet nie nou so verbaas wees nie: Baie van hulle het meegewerk tot die implementering van die Grondwet wat hierdie tipe hofuitsprake moontlik maak.
Die uitspraak illustreer ook die belang vir die ANC-regime dat die howe beman word deur regters wat die ANC se transformasiepolitiek goedgesind is. Die konstitusionele hof is al as ‘n derde kamer van die parlement beskryf, want dit moet die bepalings van die Grondwet, wat dikwels, soos in artikel 25, vaag en wyd geformuleer is, interpreteer. Die ANC is grondwetlik in staat om die meerderheid van die regterlike dienskommissie (RDK) aan te stel en beheer tans dié liggaam. Op sy beurt speel die RDK ‘n deurslaggewende rol in die aanstelling van die konstitusionele hof-regters. Met die onlangse ondervraging van aspirant-regters het duidelik geblyk die RDK wil seker maak dat die aanstellings gedienstig sal wees aan die ANC se siening van transformasie. Die uitspraak illustreer hoe die ANC se transformasiepolitiek neerslag vind in die regspraak.
Laastens hou die uitspraak groot gevaar in vir eiendomsreg in die algemeen. Regter Froneman (afsonderlike uitspraak) vra tereg: “If private ownership of minerals can be abolished without just and equitable compensation ... what prevents the abolition of private property of any, or all, property in the same way?”
Om op te som: Deur “slim” wetsformulering het en kan die ANC-regime blankes van hulle regte ontneem in die naam van die Grondwet se eise om “affirmative action” en transformasie - sonder om enige vergoeding te betaal! FW de Klerk behoort te verduidelik hoe sy “wigte en teenwigte” die Afrikanervolk gaan beskerm teen hierdie tier wat hy losgelaat het.