Só melk Eskom jou: 'n Berig wat op die AVP se lessenaar beland het!
2013-03-22 06:01

Eskom verkoop 9% van die totale krag wat hy opwek spotgoedkoop onder kosprys aan BHP Billiton se twee aluminiumsmelters terwyl gewone verbruikers kreun onder hoë tariewe.
BHP Billiton is deur die hof gedwing om dié tot nog toe geheime tariewe aan Media24 bekend te maak.
Terwyl gewone mense sowat R1,40 per kilowatt-uur betaal, betaal BHP Billiton by sy Hillside-smelter by Richardsbaai net 22,65c per kilowatt-uur.
Die hoogs geheime formule wat Billiton by Hillside betaal vir twee derdes van die 1 200 megawatt wat dié smelter verbruik, is reeds in 1992 gesluit.
Toe het Eskom ’n surplus elektrisiteit gehad. Die kontrak strek tot 2028.
Die voorkeurtariewe vir Hillside en Billiton se tweede smelter, Mozal in Maputo, wys hoe die twee verliesmakende smelters aan die gang gehou word met die hoë elektrisiteitstariewe wat die res van die land se verbruikers – huishoudelike en nywerheidsverbruikers – vir krag betaal.
Die omvang van die goedkoop krag is duidelik uit kontrakte wat Eskom aan Media24 bekend gemaak het kragtens ’n hofbevel wat verlede week deur die appèlhof in Bloemfontein bekragtig is.
Billiton het teen die oorspronklike hofbevel geappelleer, maar die appèlhof het die appèl verwerp.
Dis ook ver onder Eskom se koste van verskaffing. Dit kos Eskom gemiddeld 41c per kilowatt-uur om elektrisiteit te verskaf.
Die prys is vir Beeld bereken deur Johan Anderssen, ’n raadgewende elektriese ingenieur van Kaapstad wat al jare die uitwerking van die twee aluminiumsmelters op Eskom se geldsake navors.
Dié formule was tot gister een van Eskom se bes bewaarde geheime. Dis gegrond op die aluminiumprys en die wisselkoers van die rand teenoor die Amerikaanse dollar.
Daar word vir geen prysverhoging voorsiening gemaak nie.
Dis onderteken deur Alan Morgan, destyds uitvoerende direkteur van verkope by Eskom wat in 1996 die kragverskaffer se grootbaas en uitvoerende hoof geword het.
’n Tweede kontrak vir Hillside is in 2001 gesluit toe Billiton die fabriek met ’n derde wou vergroot sodat hy 750 000 t aluminium per jaar in Richardsbaai kon smelt.
Dié keer het Eskom aangedring op ’n klein prysverhogingsmeganisme.
Selfs met dié verhogingsmeganisme beloop die prys vir die uitgebreide deel van Hillside vandag tussen 12,88c en 32c per kilowatt-uur. Dié tarief is volgens die kontrak deur Nersa, die nasionale energiereguleerder, goedgekeur op voorwaarde dat ander verbruikers nie daardeur benadeel mag word nie.
Eskom probeer sedert 2009 om die kontrakte vir Hillside te herbeding, maar Billiton weier om in te stem.
Eskom het laat verlede jaar by Nersa aansoek gedoen om dié kontrakte te hersien, maar die hersiening is teruggehou hangende die hofgeding wat
Media24 teen Eskom en Billiton gevoer het oor die openbaarmaking van die kontrakte.
By Mozal het aanvanklik ’n soortgelyke formule gegeld, maar dit is drie jaar gelede aangepas. Daar geld nou ’n standaardtarief van 22,8c per kilowatt-uur wat aan Eskom betaal word.
Daar word egter ook betalings gedoen aan die Mosambiekse elektrisiteitsowerheid, Motraco.
Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.com, sê dié groep se navorsing wys dat huishoudings in Suid-Afrika gemiddeld sowat R1,40 per kilowatt-uur vir krag betaal. Dit wissel egter baie – in Johannesburg is dit R1,68 plus BTW en in Durban R1,39.
Dié tariewe is eenvoudig onvolhoubaar.
Schüssler sê Billiton verbruik soveel krag dat dit die gemiddelde tarief vir nywerheidsverbruikers afdwing.
“Nywerhede wat regstreeks by Eskom krag koop, betaal gemiddeld 48,87c per kilowatt-uur wanneer die twee aluminiumsmelters daarby ingesluit word.
“Myne, wat ook regstreeks by Eskom koop en dieselfde tariewe as nywerheidsverbruikers betaal, betaal gemiddeld 58c per kilowatt-uur,” sê hy.