Die nadoodse ondersoek na die Marikana-slagting duur voort en dit vlieg rond van vermeende oorsake.
Helaas. Studies van die belaglike is al wat dit oplewer en weinig daarvan sal deur Jacob Zuma se ondersoekkommissie of in die strafsaakondersoek ter harte geneem kan word. Hierdie waarnemer het egter sy eie siening oor hierdie gebeurtenis.
In een van die koerante word berig dat Mathews Phosa, die beursdraer van die ANC (en bes moontlik ook die houer van 'n hele paar goue kredietkaarte en platinum-tjekboeke - gemaak seker van Marikana se platinum), glo die polisie sou nooit op die Xhosa-mynwerkers geskiet het as almal hul eie tjeks kon uitskryf nie.
Goed, dis 'n afleiding, die deurpunt van Phosa se argument aan 'n joernalis. Maar kom ons voer hierdie soort afleiding vir 'n oomblik na die absurde, al is dit net om te bewys hoe eenvoudig jy moet wees om die ANC se penningmeester te word, met 'n vraag: Sal die land ooit weer 'n spoorwegstaking hê as almal hul eie treine het? Mathews dink klaarblyklik net van binne sy eie beperkende kassie. Of uit sy tjekboek. Tjekboeke het Phosa se heelal geword.
Ongelukkig het tjekboeke en kredietkaarte die heelal geword van al wat kripvreter is in die ANC-regime. Eers het Nelson Mandela se gevolg die geleentheid om die land se skatte te plunder gekry, toe dié van Thabo Mbeki. En nou is dit Jacob Zuma se getroues se kans om, elkeen skynbaar met 'n stel goue sleutels (vergeet gerus maar van Phosa se tjekboeke, dis te omslagtig), om die Suid-Afrikaanse Munt te stroop.
Die probleem is net wat om te doen met die miljoene sogenaamde agtergeblewenes, die armes wat maar altyd – veral in Afrika - daar sal wees. Dis nou Swartes soos die Xhosa-mynwerkers van Marikana. Hulle met tjekboeke toerus?
Daaroor skryf Naspes se kommunistiese direksielid en grootkop in die Nelson Mandela-Stigting, Jakes Gerwel (Rapport, 9-9-2012) die kamtige deelnemende demokrasie laat skynbaar te veel uitgesoektes neem (sou gryp nie 'n beter woordkeuse wees nie?) en te min uit die menigtes wat daarin deel. Gerwel laat ook die jongste advertensieklingel van die linkse establishment hoor: “Leierskap op alle vlakke – ook die hoogste – is van deurslaggewende belang.”
Tim du Plessis laat soos so dikwels blyk hy hoor êrens 'n klok maar kom nie agter waar die klepel hang wanneer hy skryf oor ongelykhede in sy allegaartjie-nasie nie. Soos altyd las hy sy “onregte-van-die-verlede”-versie by maar vra nie of die dispariteit wat Marikana aan die lig gebring het (en steeds elke dag deur Swart protesgeweld aan die lig gebring word), nie die gevolg is van ongelyke rasse (ook Swart stamme en etnisiteit) in een bredie saam te klits nie. Dit alles laat 'n mens natuurlik diep en ver terugdink.
'n Behoudende politieke kommentator, Mike Smith, het sowat 'n week gelede op sy webwerf geskryf oor hoe stiksienig die Suid-Afrikaanse nuusmedia is en nie maklik (maar soms darem uiteindelik) by die klaarblyklike kom.
Voor daar egter by Mike Smith se Marikana-afleidings gekom word is dit dalk nodig vir 'n bietjie opskerping ter wille van wakker waarneming, en daarvoor is 'n ou grappie of twee nodig.
Die eerste een is van die boemelaars wat in hul verstote verdriet Londen se agterlike en nagtelike strate bewandel op soek na iets te ete en, wie weet, dalk te drinke en verby 'n pub met 'n swak verligte ingang, so 'n soort portaaltjie, verby struikel.
Dit was die Fransman onder hulle wat eerste die plassie hier voor hulle in 'n holtejie sien vorm aanneem en hurk, sy vinger daarin steek, sy dowwe oë van dae se min eet en meer as genoeg te drinke, wat ophelder. “Konjak!” sê hy toe hy dit op sy tongpunt druk.
Die Engelsman is die volgende om te hurk, Koos Van der Merwe wat gesien het hoe 'n hond intussen sy lê in die donker portaaltjie op 'n deurmat gekry het, die Engelsman wat na sy tongtippietoets bevind: “Gin. Excellent London dry gin!”
En Koos wat weer na die hond kyk en in sy enigheid wonder hoe 'n ding wat nat is droog genoem kan word.
“Dis 'n Jack...” begin Koos, sy oë op die hond, die Amerikaner, van Tennessee, wat nou by die poeletjie hurk, ook proe en laat hoor: “Ayee, fella, Jack... Jack Dániels!”
“Nee,” sê Koos terwyl hy na die hond beduie. “ Jack Russel.”
Die les uit dié ou grappie?
Seker dat as jy 'n bevinding wil maak oor Marikana jy sal moet agterkom waar die hond gaan lê het.
Daar is egter nog 'n tweede grappie, een wat werklik gebeur het en vertel is deur 'n joernaliste wat lankal nie meer met ons is nie, nodig sodat ons ons instinkte en sin vir waarheid en geregtigheid op maksimale vlak kan kry. Hierdie joernaliste het geskryf oor 'n skilderagtige kerk in ou Kaapstad, die ideale plek om 'n romantiese saak soos 'n huwelik te voltrek. By so 'n troue is daar uiteraard 'n fotograaf, want die heuglike geleentheid moet vir die nageslag bewaar word.
Langs die kerk is/was 'n steeg. In die steeg het jeugdige Kleurling-leeglêers, in ons demokratiese Suid-Afrika bekend as straatkinders, hulle verskans teen die aanslae van die natuur en armoede, seker maar ook op aanmoediging van die Engelse predikant se aalmoese.
Maar deurdat daar nie die nodige kleinhuisiegeriewe beskikbaar was nie het hierdie kwaaddoeners sommer water teen die kerkmuur in die steeg afgeslaan. Hierdie gedrag het met maande en jare se navolging 'n klank afgegee.
Op 'n dag is dit weer troutyd, 'n span leeglêers op 'n versigtige maar tog hoorbare afstand toe die bruid en haar gevolg om die hoek getrippel kom, die fotograaf kort agterna, hulle wil 'n foto neem.
Maar die bruid wat in haar spore gestuit word deur die reuk wat die kerk en steeg se klippe uitskreeu.
Dadelik gaan die bruid en haar gevolg se oë beskuldigend na die leeglêers. Kom dit van die spraaksaamste, seker maar die bendeleier: “Dis nie ons nie! Dis die 'bryde'!”
Toe daar verlede week gehoor is die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) kla die Xhosa-mynwerkers, en nie die polisie wat so onder hulle gemaai het, vir moord aan oor een of ander gedeelde opset, het die gedagtes onwillekeurig na die deursigtige verweer van die leeglêers gegaan.
Terug by Mike Smith se verkenning oor die swak joernalistiek wat betref die Marikana-slagting...
Smith probeer in sy beoordeling 'n nader, verder en oorhoofse prentjie van die slagting kry deur die getuienis van verskillende verslaggewers in verband te bring, of hy daarin slaag is nie nou heeltemal ter sake nie.
Hy skryf oor die wonde van die slagoffers, of dit van agter of van voor is, waar die bloedplasse gelê het, die feit dat die toneel vir kritieke tye deur die polisie ontoeganklik vir nuuskierige oë gemaak is, hoeveel lyke in watter stadium waar gelê het, nogal 'n ingewikkelde oefening as die ondersoeker nie self op die toneel is of was nie.
Hy skryf oor rugwonde, wonde anders as toegedien deur vuurwapens. Agterna het ek gewonder: Nou hoeveel kopwonde was daar? Die rede waarom ek aan kopwonde gedink het? Dis hierdie Swart toordokter, nyanga dink ek noem die Zoeloes en Xhosas hom, sý rol en taak in die hele episode, wat my die klem op kopwonde laat plaas, sien. Kyk, as daar nou 'n onderbeklemtoonde karakter is in die groot Suid-Afrikaanse saga van meer as 300 jaar van geskrewe literatuur, fiktief en histories, is dit hierdie swerkater.
Dis nou al meer as twee weke ná die slagting wat bestem is om Sharepeville in die geskiedenisannale te laat verdof tot 'n vae niks en hierdie nyanga het nog nie eens 'n naam nie.
Nog nie een van die land wat klokslag jaarliks 'n verslaggewer van die jaar lewer se groot joernaliste het daaraan gedink om met hierdie geheimsinnige verskynsel, vir al wat ons weet is hy 'n demoon of die Ruiter van Skimmelperdpan, 'n onderhoud gevoer nie.
Die ergste van alles is dat die NVG dit oor sy hart kon kry om die Xhosa-mynwerkers van moord aan te kla en nie hierdie toordokter se naam ook op die klagstaat te plaas nie. Om nie eens van die polisie-ondersoekers se laksheid te skryf nie, waar gaan misdaadondersoek heen nou dat Piet Byleveld uitgetree het?
Nog 'n tergende vraag wat uit hierdie tergende raaisel na vore kom is of daardie nyanga se toorgoed dalk gewerk het. Hy het mos hul kóppe met sy toorgoed behandel. Hoeveel van daardie mynwerkers is dood weens kopwonde? Is daardie nyanga se reputasie geskaad of versterk deur die Marikana-gebeure? Loop hy byvoorbeeld rond en adverteer op 'n stuk bruin karton dat van die 5000 deelnemers aan die protes is net 34 dood?
O ja, as iemand op 'n dag daaraan sou dink om my een of ander joernalistieke toekenning te beurt te laat val omdat hierdie skrywe tot die aan-die-man-bring van hierdie geheimsinnige nyanga gelei het: Dit was Mike Smith wat my aan die dink gesit het.
En ook die “bryde”. En daai Jack Russel.