‘N OPE BRIEF AAN DE KLERK OOR SY BEDOELINGS!
ʼn Aanvanklike onskuldige gesprek met die joernalis Amanpour van CNN ter herdenking van die toekenning van die Nobelprys aan hom, het vir F.W. de Klerk ʼn klip in die skoen geword, tot die mate wat dit hom genoop het om nou weer ʼn beeld daaroor te probeer voorhou en dit die wêreld in te stuur asof hy bloot tot bekering gekom het oor die onreg van apartheid!
In die mate wat dit die waarheid oor die huidige toestand waarin dit die Afrikanervolk geland het, raak en beïnvloed, rig die AVP ʼn ope brief aan hom sodat die wêreld kan kennis neem van die waarheid wat hy verswyg.
Geagte mnr. De Klerk,
Die opskrif in vanoggend se Beeld lui: “Tuislande: FW sê wat hy bedoel”.
Die berig lui voorts dat u ʼn verklaring uitgereik het deur die FW de Klerk-stigting waarin u sê dat u dit baie duidelik wil stel oor waar u staan. U sê:
“Die menings wat ek gelug het, het verwys na die redes waarom ek as jong prokureur en politikus in die 1960’s en 70’s die beleid van afsonderlike ontwikkeling gesteun het. Ek het dit gedoen in die konteks van daardie tydvak en my behoefte om die historiese reg tot selfbeskikking vir my mense te verseker. Ek het toe geglo dat die probleme van Suid Afrika regverdig opgelos kon word deur die vestiging van Volkstate in die gebiede wat oorspronklik deur die verskillende volke beset is”. (My beklemtoning)
Dit was juis vir hierdie standpunt van u, wat u ook in Skietgoed, die propagandablad van die Nasionale Party, wat uitgegee is in Junie 1977,dit onomwonde gestel het, dat mense vir u gestem het! Dit was opgestel deur uself toe u ʼn lid van die Volksraad was (LV.) en wat die AVP weer onlangs in herinnering geroep het, waarvoor u van veral die Afrikaner-blanke kiesers in vertroue verkies is en 'n mandaat ontvang het waarvolgens u hulle moes verteenwoordig.
U sê dan verder in die berig : “Ek het lank reeds hierdie mening as die antwoord op Suid Afrika se uitdagings laat vaar. Ongeag die oorspronklike bedoelings, het ek baie jare gelede tot die slotsom gekom dat apartheid misluk het, dat dit kwetsend en onaanvaarbaar was en dat dit tot pynlike ongeregtigheid gelei het.”
Tot met u verkiesing as leier van die Nasionale Party op 2 Februarie 1989, was daar geen uitgesproke aanduiding van u kant dat u van mening verander het nie. Wat hier betekenisvol is, is die werklike redes waarom u tot ʼn ander slotsom gekom het! Dit was bepaald nie apartheid wat misluk het nie, daarvoor is bewyse tot die teendeel oorvloedig! Om volgens u eie getuienis u geloof dat die probleme van Suid Afrika regverdig opgelos kon word deur die vestiging van Volkstate in die gebiede wat oorspronklik deur die verskillende volke beset is, op kort kennisgewing te vervang met ʼn slotsom dat dit kwetsend en onaanvaarbaar was en dat dit tot pynlike ongeregtigheid gelei het, is alles behalwe geloofwaardig en oortuig niemand nie.
In briefwisseling tussen wyle mnr. Jaap Marais en President P.W. Botha oor Besluit 435 waarin mnr. Marais vir P.W. Botha daarvan beskuldig het dat die aanvaarding van die implementering van daardie besluit deur die Suid Afrikaanse regering, ʼn daad was wat Suid Afrika in ʼn politieke en militêre maalstroom sou inruk, het daar insiggewende feite na vore gekom! Feite waarvan u bewus was, maar wat u verkies om te verswyg.
Wat eerloos van u “bekeerde slotsom” is, is die feit dat u Pik Botha se verklaring in Beeld van 16 Januarie 1978, nadat die regering waarvan u lid was, die 1977-Skikplan van die VVO aanvaar het, verswyg. Volgens Beeld het Pik gesê: “Ons het voldoen aan alles wat die VVO aanvanklik van ons gevra het” Pik Botha het alles wat toegegee is, soos volg uiteengesit: “Die belangrikste is dat ons ons verbind het tot onafhanklikwording vir Suidwes voor 1978; om die gebied as ʼn eenheidstaat onafhanklikheid te gee; om alle diskriminasie op grond van kleur te verwyder; om toe te laat dat ʼn grondwetlike vergadering verkies word op die grondslag van een mens, een stem en om die sogenaamde politieke gevangenes te laat ondersoek deur ʼn paneel van regsgeleerdes om vas te stel of hulle werklik politieke gevangenes is.”
Waarom dit gedoen is het Pik Botha aan ʼn groep Amerikaners verduidelik, was omdat die State Department gedreig het met totale sanksies indien die Skikplan nie aanvaar word nie.
Ek wil dit onomwonde aan u stel dat u nie apartheid versaak het omdat u sogenaamd tot ander insigte gekom het nie, en veral nie omdat apartheid misluk het nie, maar omdat u as politieke leier misluk het deur te kapituleer saam met die regering voor die eise van die buiteland, ten koste van u land en u volk!
U word in 1973 ingesweer as lid van die parlement op sterkte van Nasionale Partybeleid en stel Skietgoed op en gee dit uit in 1977, dieselfde jaar wat die regering waarvan u toe lid was, die VVO Skikplan aanvaar! In u outobiografie, bladsy 113 wat handel oor u verkiesing as leier van die Nasionale party in 1987 skryf u: “My supporters were mainly from the centre. The more conservative members of the caucus also tended to support me because they thought that I would be more sympathetic to their concerns than the three other candidates”. Die ander drie kandidate wat u beskryf as die meer verligtes, synde Pik Botha, Chris Heunis en Barend du Plessis, met steun uit die meer verligte geledere van die 130 koukuslede.
U opmerking dat die meer konserwatiewe lede u in hierdie verkiesing gesteun het, dui ook onteenseglik daarop dat selfs in 1987, u nog as konserwatief beskou was en dat u die vrese van die konserwatiewes oor die linkse rigting waarin die Nasionale Party onder John Vorster en P.W. Botha geneig het, sou kon besweer.
Die verloëning van ʼn beginselstandpunt waarin u sê u geglo het omdat u oortuig was van die regverdigheid daarvan en dat dit nodig was om die selfbeskikking van u mense te verseker, kom uit dieselfde donker dieptes van swakheid wat ook aan die wortel van ontrou aan ʼn voortreflike lewensmaat en gevolglike onbybelse egskeiding lê, in dieselfde mate as u ongeërgde minagting vir die onmeetlike ellende, dood en verval wat dit tot gevolg het!
Die monster wat u in 1994 losgelaat het, wys reeds sy tande vir u soos wat blyk uit die aanvalle deur juis hulle wat u bevoordeel het, na u onderhoud met Cristiane Amanpour van CNN. Ek voorspel dat u voortgesette ontkenning, verharde en onboetvaardige hart, die veragting wat die Afrikanervolk vir u optrede koester, toenemend sal verhoog. Ten spyte van alles wat u uself wysmaak, het u gekies om die belange van die internasionale wêreld te dien en met die hoon van u eie volk, graf toe te gaan. Sterkte vir u reis!!
Danie Varkevisser.
Afrikaner Volksparty.