EKONOMIESE VOORUITSIGTE IN SUID AFRIKA
Oswald Spengler het by geleentheid gesê: “’n Gesonde ekonomie kan nie in ‘n land bestaan sonder sterk leiding in buitelandse beleid nie. Ommekeer van dié verhouding is getuienis van ‘n siek nasie”.
Die eerste teken van die ongesteldheid van ons ekonomie in die P.W. Botha-de Klerk-era, was toe Pik Botha die buitelandse belange in Suid Afrika begin bevorder het instede daarvan om Suid Afrika se belange in die buiteland te bevorder! Gemeet aan Spengler se definisie, was ons ekonomie toe al reeds koorsig.
As ons vandag dieselfde maatreël aanlê na aanleiding van Jacob en Gordhan se begrotingsuitsprake, gemeet aan die afgelope 18 jaar se prestasie, is Suid Afrika se ekonomie reeds terminaal. Die grondslag vir ‘n gesonde ekonomie is tog vertroue, veral in die politieke vermoë van ‘n regering, waarvan daar by die ANC-regime weinig indien enige, sigbaar is.
Om die werk te kan skep waarna in die begrotings verwys is, moet die ekonomie gesond wees. Dit beteken dat die geld wat beskikbaar is deur belasting wat verhaal word, op uiters kundige en verantwoordelike wyse aangewend en bestuur moet word. Die tempo waarteen amptenare en ministers geld vir eie gewin aanwend, verduister, onwettig en onregmatig bestee, ongekende buitensporige salaris en onthaalkoste as voorkeur bo noodsaaklike dienste beskou en oortreders vir jare teen betaling skors terwyl “ondersoeke” aan die gang is wat nooit afgehandel word nie, is daar nie sprake van vertroue nie en kan daar ook nie wees nie.
Die uiteinde hiervan is afhanklikheid van buitelandse finansiering wat onafhanklikheid in die ban doen en invloed van die buitelandse geldskieters in binnelandse aangeleenthede al hoe meer in die hand werk wat weer stabilliteit van en vertroue in so ‘n regering vernietig.
Ter bevestiging hiervan verwys ons na ‘n toespraak van dr. Verwoerd in die Volksraad op 18 September 1958 toe hy gesê het: “Ons het ons einddoel gestel om Suid Afrika op ekonomiese gebied so selfvoorsienend as moontlik te maak en op geldelike gebied sy kapitaal in sy eie land te verkry, sover moontlik, omdat geen land konstitusioneel onafhanklikheid kan nastreef sonder om ekonomiese onafhanklikheid te soek nie”. Geliewe daarop te let dat dit vóór Republiekwording, sy oogmerk was!
Dr. Verwoerd het in sy toespraak verwys na ‘n gesprek wat hy met ‘n Switserse bankier gehad het wat na sy uiteensetting gesê het: “ Aangesien julle weet wat julle wil, is ons bereid om in julle land te belê…..lande wat weet wat hulle wil, is lande waarin geld veilig belê kan word”
Dus, stabiele regering en doelgerigte politieke leiding wat nie net by praat en hol beloftes bly nie maar sigbaar in die praktyk aangewend word.
Dit is later bevestig deur Harry Oppenheimer wat op 16 Januarie 1959 in die Sunday Times verklaar het: “ Suid Afrika kan met weinig hulp van oorsee die uitbreiding financier wat nodig is om die volksinkomste genoegsaam op te stoot om die groeiende bevolking se lewenstandaarde te handhaaf”. Slegs vyf en twintig jaar na die moord op dr. Verwoerd was hierdie gunstige toestand omskep in ellende van werkloosheid, bankrotskappe en agteruitgang in lewensstandaard wat steeds voortduur en op anargie en chaos afstuur wat nie deur “mooi” begrotingstoesprake opgelos sal word nie!
Redaksie
6 Maart 2012