Sedert die moord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966, was Afrikaner kiesers in die duister oor verwikkelinge op politieke gebied. Die vrae in ’n mens se gemoed rondom die wyse waarop hy gedood is en die daaropvolgende verklarings wat eerstens deur John Vorster uitgereik is voordat daar nog ’n ondersoek plaasgevind het en die hele verloop daarna, was soos om voel-voel in ’n donkerkamer te soek na die deur.
Die ontplooiing van die politieke toestand na sy dood is ewe-eens onder ’n dekmantel van leuens en misleiding in ’n rigting gestuur ten spyte van vrae en daaropvolgende beskuldigings dat hulle besig was om die volk te mislei deur ’n gekonkel agter die skerms. Hierdie praktyk is versluier deur misleidende versekerings dat daar nie afgewyk sal word van beleid en beginsel nie, terwyl alles daarop gedui het dat dit wel die geval is.
Lojaal aan kerk en party, gebore uit inbors en geloof aan die integriteit van leraars en leiers, is Afrikaners se weerstand teen verandering, wat noodwendig tot vernietiging moes lei, geleidelik afgebreek en deur die kerke vergoeilik terwyl daar agter die skerms ylings geknoei is om vooraf berekende oogmerke te bereik waarteen die Afrikanervolk in opstand sou kom indien hulle dit geweet het.
Nou, nadat meeste van die oogmerke bereik is en die medewerkers daaraan ook graag sy en haar aandeel aan dié “grootse” prestasies erken wil hê, kom die geknoei en onderduimse gekonkel soos opgeblaasde lyke na die oppervlak deur middel van boeke, outobiografieë, besprekings en artikels. Mense wat dink dat verraad verhef kan word tot voortreflike prestasies omdat hulle van mening is dat dit wat hulle eers in die geheim moes doen, nou as heldedade vertolk sal word.
Prof. Willie Esterhuyse
So verskyn ’n ontboeseming van prof. Willie Esterhuyse van die rol wat NI (Nasionale Intelligensie) gespeel het in die voorbereiding tot die oorgawe in Nasionale Pers se koerante van vroeg Februarie 2010. Hierin verskyn frases soos: “Mense soos Barnard en Mike Louw het selfs in Afrika oop deure op hoë vlakke gehad. Vóór 1990 was Barnard, Louw en die lede van hul span myns insiens die hoofakteurs ter voorbereiding van die onderhandelingsdrama wat van die einde van 1989 in Suid-Afrika sou ontvou.
“Hulle was “vóórspelers” vir 2 Februarie 1990!
“My kontak met dié span het in 1987 begin. Twee senior lede van die NI het my aan huis kom besoek.
“Daar is oorlog gevoer. Mense is gevang. En vermoor. Werklike strategiese kwessies was nie hoog op die agenda nie. Selfs buitelandse sake het aan ’n agterspeen gesuig. Daar was maar baie wantroue.
“Dis ’n verhaal wat seker nou maar vertel kan word, al klink dit dalk meer dramaties as wat dit is. In ’n ‘veilige huis’ van die NI het ek, met die oog op my nie-amptelike en vertroulike kontak met Thabo Mbeki en sy span in die laat 1980’s in Brittanje, opleiding in die hantering van persoonlike veiligheid ontvang.
“Die soort voorberedeneerde optrede veronderstel natuurlik ’n vertrouensverhouding. En veral nie publisiteit nie! Hoe dit vermy is, is ’n storie op sy eie.
Enkele uittreksels om my bogenoemde stellings te staaf!
’n Boek van Esterhuyse genaamd Eindstryd, wat handel oor gesprekke agter die skerms met verbanne ANC-leiers en ’n groepie Afrikaners in die tagtigerjare, sal waarskynlik meer lig werp op hoe die Afrikanervolk deur Afrikanerleiers en akademici om die bos gelei is en om aan te toon hoe ons eerloos uit ons land uitgedruk is. Daar het ’n artikel van Esterhuyse in Saterdag se by verskyn in die rubriek Brandpunt, waar hy bv. Mbeki as ’n intellektuele rolmodel beskryf, “terwyl dit na my mening in Afrikanergeledere ietwat sukkelend onder sy intelligentsia en senior joernalistieke meningsvormers gaan” sê Esterhuyse.
“Thabo Mbeki plant sy vlag as ’n openbare meningsvormende intellektueel en leier in diens van ’n demokratiese bestel waaraan hy sy lewe gewy het. Ja, hy is “terug”. Wat my betref, hopelik as ’n leidende lig binne ’n groeiende nie-rassige korps openbare meningsvormende intellektuele wat kan bydra om ons swaar verworwe demokrasie te verdiep en te verbreed.” Aldus Esterhuyse. Met sulke “patriotte” het die Afrikaner werklik nie vyande nodig nie!
Daar is ’n lang lys van sg. Afrikaners en hulle trouelose optrede teenoor hulle volksgenote en die AVP sal gaandeweg elkeen van hulle “heldedade” in perspektief plaas soos wat dit tot ons kennis kom. Ons sal veral graag diegene wat berou het oor hulle optrede se erkennings plaas as bewys van herstel. Ons verwerp egter met veragting alle pogings om sulke trouelose optrede te probeer regverdig. Ons aanvaar dat daar mense is met wie ons niks in gemeen het nie en waar geen debat oor verskille enige positiewe bydrae sal maak tot samewerking waaruit eenheid moet groei nie!