GALÁSIËRS 5:9
’n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur.
I KORINTHIËRS 5:6
Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie?
Ons plaas ‘n paar berigte soos wat dit in die Beeld koerante van die afgelope week verskyn het, net om lig te werp op die geduldige maar onverbiddelike wyse waarop die wêreldmagte werk om hulle doel te bereik en om uiteindelik daarin te slaag om die hele wêreld agter die dier te laat aanloop, soos wat die Bybel ons waarsku. En dit gebeur alles onder die dekmantel van “christenskap”.
“Die besluit is ná ’n debat van sowat twee uur op die sinode en ná 25 jaar van kerklike toutrekkery in die NG Kerk self en in die familie van NG Kerke geneem.”
Die saad word 25 jaar gelede geplant, daarna heimlik vertroetel en nou tot wasdom gedryf. Steeds word daar egter voorsiening gemaak vir die hardnekkige gelowiges deur die benadering van: “ ’n Peiling drie jaar gelede het egter ook getoon daar is by ander mense groot weerstand teen Belhar. Die kerk sal met albei dié sentimente rekening moet hou.“Die sinode het ook vroeër as deel van sy beleid oor kerkeenheid besluit dit sal nie van almal verwag word om Belhar te onderskryf nie, al is dit deel van die belydenisgrondslag van die kerk.”
Strauss het gesê die moderamen bring ’n voorstel na die algemene sinode wat vir albei kante voorsiening maak.” Nie omdat dit reg is nie, maar omdat almal nou daartoe oortuig moet word?
Want as die beswaardes die kerk verlaat, kan hulle nie bestuur word nie en is die verlies aan inkomste ‘n probleem? Feit is egter dat daar telkens meer “gelowiges” bygevoeg word by dié wat reeds die knie gebuig het en geleidelik word die hele deeg suur!!
Kerklui opgewonde oor Belhar-besluit
2011-05-11 23:11
Neels Jackson
Goudini. – Talle kerklui uit die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) het hul opgewondenheid uitgespreek nadat die NG Kerk van Wes- en Suid-Kaapland vandeesweek die belydenis van Belhar aanvaar het.
Dr. Allan Boesak, destydse moderator van die NG Sendingkerk toe dié kerk Belhar aanvaar het, het gesê die sinode se besluit is “vreeslik verblydende nuus”. Hy was onlangs in die VSA waar Presbiteriaanse kerke dié belydenis nou “hartlik aanvaar”.
Boesak wou egter weet wat die volgende stap is. Hy hoop die Wes- en Suid-Kaapse NG Kerk is nou ook bereid tot aktiewe en werklike eenheid op plaaslike vlak as voorbeeld vir die res van die NG Kerk. Dis die eintlike toetssteen vir die besluit.
Prof. Nelus Niemandt, assessor van die algemene sinode van die NG Kerk, het gesê hy is “baie, baie opgewonde”. Hy hoop dis die begin van ’n proses waardeur die hele NG Kerk die belydenis kan aanvaar.
Prof. Piet Strauss, moderator van die algemene sinode van die NG Kerk, het gesê daar is klaarblyklik steun vir Belhar in die NG Kerk. ’n Peiling drie jaar gelede het egter ook getoon daar is by ander mense groot weerstand teen Belhar. Die kerk sal met albei dié sentimente rekening moet hou.
Strauss het gesê die moderamen bring ’n voorstel na die algemene sinode wat vir albei kante voorsiening maak.
Verskeie leiersfigure uit die VGK het die sinode bygewoon en die besluit verwelkom.
Dr. Mary-Ann Plaatjies-Van Huffel, assessor van die algemene sinode van die VGK, het gesê sy is opgewonde oor die toekoms. Die NG Kerk het nou deel van belydenisvorming geword en sy is bly dat sy tydens dié historiese oomblik by kon wees.
Sy is ook bly dat die sinode die besluit nie op die VGK se aandrang geneem het nie, maar omdat hulle self by daardie punt gekom het.
Ds. Lucas Plaatjie, moderator van die VGK se Kaapse sinode, het gesê met dié besluit dui die sinode die koers vir die hele NG Kerk aan. Hy meen die sinode het nou getoon hy is ernstig oor Belhar en oor eenheid.
Prof. Nico Koopman, direkteur van die Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch, het gesê hy voel “so bemind deur die NG Kerk”.
Hy besef die pad is nog lank vorentoe, maar dis ’n groot gebaar. Hy sien dit as ’n verbintenis tot ’n gesamentlike pad van eenheid, versoening en geregtigheid.
Dr. Coenie Burger, vorige moderator van die NG Kerk se algemene sinode, het gesê dis fantasties dat die sinode die besluit kon neem. Hy hoop dit help op die pad na kerkeenheid.
Redes en konteks vir belydenis
Die belydenis van Belhar is vanjaar 25 jaar gelede deur die destydse NG Sendingkerk as belydenisskrif aanvaar.
Dit behandel drie groot temas: versoening tussen mense, die eenheid van gelowiges en geregtigheid teenoor ander mense. Deur dit as belydenisskrif te aanvaar, wou die Sendingkerk destyds sê dat versoening, eenheid en geregtigheid wesenlike elemente van die evangelie van Jesus Christus is en dat Christene dit moet uitleef.
Dit het ontstaan in die konteks van apartheid toe die Sendingkerk wou sê waarom dié beleid en enige ander soortgelyke vorm van onderdrukking, vir Christene onaanvaarbaar is.
Sedertdien was daar kerke in Europa en Noord-Amerika wat Belhar ook as belydenisskrif aanvaar het.
Die NG Kerk het jare gelede al gesê dat Belhar se inhoud Skriftuurlik korrek is. Tot dié week wou geen NG sinode dit egter as belydenisskrif aanvaar nie. Die Verenigende Gereformeerde Kerk, waarin die NG Sendingkerk opgegaan het, het weens dié weiering nog altyd gewonder of die NG Kerk werklik afgesien het van apartheid.
Reuse-ja vir Belhar
2011-10-13 22:54
Afgevaardigdes na die algemene sinode van die NG Kerk stem, deur oranje kaartjies op te steek, vir en bloues teen, oor die voorstel dat die belydenis van Belhar deel moet word van die belydenisgrondslag van die NG Kerk.
Die NG Kerk se algemene sinode het gister in Boksburg met ’n oorweldigende meerderheid gevra dat die belydenis van Belhar deel van die kerk se belydenisgrondslag moet word.
Die besluit, wat na skatting deur meer as 90% van die afgevaardigdes gesteun is, beteken egter nog nie Belhar is nou ’n belydenisskrif van die NG Kerk nie.
Daarvoor moet ’n lang en uitvoerige proses nou eers gevolg word waarin gemeentes, kerkrade en streeksinodes hul instemming moet gee.
Die algemene sinode het egter baie duidelik aangetoon watter koers hy dink die NG Kerk moet inslaan.
Die sinode het ook vroeër as deel van sy beleid oor kerkeenheid besluit dit sal nie van almal verwag word om Belhar te onderskryf nie, al is dit deel van die belydenisgrondslag van die kerk.
Die besluit is ná ’n debat van sowat twee uur op die sinode en ná 25 jaar van kerklike toutrekkery in die NG Kerk self en in die familie van NG Kerke geneem.
In gister se debat was daar enkele stemme wat ou verwyte van bevrydingsteologie teen Belhar geopper het.
Vir die oorweldigende meerderheid van sprekers was Belhar egter ’n dokument waarin hulle hoor wat die stem van die Here oor kerkeenheid, versoening en geregtigheid sê.
Verskeie ondersteuners van Belhar het ook aangedui dat hulle die belydenis nie in die eerste plek ter wille van kerkeenheid ondersteun of om die Verenigende Gereformeerde Kerk ter wille te wees nie.
Hulle doen dit omdat hulle oortuig is van die inhoud van die belydenis.
Ds. De la Harpe le Roux van Bloemfontein het byvoorbeeld gesê hy werk onder arm en gemarginaliseerde mense van alle rasse – “die stukkendes wat niemand anders wil hê nie”.
Sy noodkreet was: “Ek het Belhar verskriklik nodig ... ”
Prof. Piet Meiring van Pretoria het gesê die NG Kerk se lidmate sal nog dankie sê, want Belhar het ’n boodskap oor mense wat verstoor voel en arm is.
Dr. Francois Wessels van Kaapstad het gesê Belhar se boodskap van versoening is nou van wesenlike belang vir Suid-Afrika.
Versoening tussen God en mense kan nie van versoening tussen mense geskei word nie.
Dis hoekom Jesus mense aangeraai het om hul offer by die altaar te los en eers verhoudinge met medemense te herstel voordat hulle die offer bring.
Wessels wou weet: Kan ons sonder die belydenis lewe?
Ná die debat moes afgevaardigdes oranje kaartjies opsteek as hulle die voorstel steun of blou kaartjies as hulle daarteen stem.
’n See van oranje met enkele blou spatseltjies het bo alle twyfel getoon dat die algemene sinode vir Belhar gekies het.
In die gesprekke binne die NG Kerkfamilie is daar in ’n stadium gesê die aanvaarding van Belhar sal die lakmoestoets wees op die vraag of die NG Kerk werklik van apartheid afskeid geneem het.
Veldtog begin om Belhar te aanvaar
2010-11-07 22:11
Die NG Kerk in Wes-Kaapland begin vandag met ’n nuwe reeks gesprekke met sy lidmate in verskeie dorpe en stede wat gemik is daarop dat die NG Kerk die belydenis van Belhar moet aanvaar.
Dr. Braam Hanekom, Wes-Kaapse moderator, sê Belhar praat in ’n helder stem oor die teologiese kwessies van eenheid, versoening en geregtigheid.
Die wêreld het dit nodig.
Die Wes-Kaapse moderamen het besluit om Oktober aanstaande jaar se algemene sinode te versoek om Belhar as volwaardige belydenis van die NG Kerk te aanvaar.
Dié versoek gaan ook in Mei aan die Wes-Kaapse sinodesitting voorgelê word.
Hanekom sê hul moderamen, wat uit sowat 70 mense bestaan wat al die ringe in hul sinode verteenwoordig, het dié besluit met ’n meerderheid van sowat 80% geneem.
Hierdie week gaan hulle in Vanrhynsdorp, George, Caledon en in die Kaapstad-omgewing inligtingsvergaderings hou waartydens lidmate die saak met die moderamen kan kom bespreek.
Hanekom hoop op “nie-emosionele en ingeligte gesprekke” oor Belhar, oor die aard en rol van belydenisskrifte in die kerk en oor die relevansie van Belhar vir die huidige tydvak.
Hy sê hy het lankal geleer jy kan nie mense boelie of bloot oor hulle loop met sulke kwessies nie.
Hy dink egter daar gaan ’n dag kom wat mense Belhar gaan aanvaar en gaan vra waaroor al die bohaai was.
As moderamen het hulle die stil oortuiging dat die aanvaarding van Belhar die regte ding is vir die kerk. (My beklemtonings)
Die AVP stel dit onomwonde dat Belhar in die eerste plek gaan om die verwydering van apartheid, dat dit dus polities gemotiveer is, horisontaal gerig is, en absoluut geen bydrae sal maak tot die saligheid van die gelowige nie. Laat die Bybel onder leiding van die Heilige Gees gelowiges rig, en nie die skrifgeleerdes van die “bevrydingsteologie” nie.