1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9953871

Besoekers aanlyn

Ons het 98 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Media

DIE KERK AS INSTITUSIE WORD ’N INSTRUMENT IN DIE HAND VAN SATAN!

Inleiding

Soos baie ander beskaafde volke, het die Afrikaner ook die gebruik om  gebeure uit die geskiedenis  as riglyn vir die toekoms  te beskou en selfs daarop voort te bou indien dit iets was wat ’n bydrae tot ons volkswording gemaak het.  In  1986 egter, waar  gelowiges deur ‘n kerkskeuring losgeruk is vanuit hulle godsdienstige ankers in die kerk waarin hulle grootgeword het, was gelowiges verwond en skepties omdat die kerk waaruit hulle gekom het, hulle wou saamsleep in ’n rigting wat vanuit die geskiedenis as onwerkbaar en onheilig  beleef  het en ook omdat dit volksvreemd was en ’n bedenklike oorsprong gehad  het!

Oorsaak van die skeuring:

Om perspektief te kry oor waarom die NG-Kerk geskeur het en of gelowiges die skeuring en deelname daaraan kan verantwoord, is baie belangrik! Net so belangrik is dit vir diegene wat nie deel van die skeuring was nie, maar agterna by die AP-Kerk aangesluit het.  Wanneer laas het u dit vir een van die “skeurmakers”,  doop en/of  volwassenes gevra? U sal u verstom oor die onkunde!  Vraag is, waarom vra ons nie dié vraag wanneer dit tersaaklik is nie?  Steek ons dalk iets weg?  Is ons skaam?  Dwing omstandigheid ons dalk tot lafhartige swye soos met die frase, “onder blanke Afrikaners” omdat die grondwet ons bedreig?

Artikel 28 van die NGB is duidelik dat alle gelowiges verplig is om by die ware kerk aan te sluit en is dit hulle plig om  af  te skei van hulle wat nie aan die ware kerk behoort nie.

Artikel 29 van die NGB verduidelik weer die onderskeid tussen die ware en die valse kerk. Dit is egter skokkend om te sien hoe min finale jaar dooplidmate en selfs belydende lidmate weet waarvan daar gepraat word as jy van die NGB praat. Hulle weet nie wat ‘n belydenisskrif  is, hoeveel belydenisskrifte daar  is, of wat die oorsprong, waarde en doel daarvan is nie. In baie gevalle weet hulle ook nie wat ‘n sakrament is of wat die betekenis daarvan is nie! Nog minder weet hulle wat die oorsprong en bedoeling van die Belhar belydenis is wat nou deur die NG-Kerk aanvaar is! ’n Getuienis wat nie vleiend is vir die wyse waarop die Institusionele Kerk met veral ons dooplidmate omgaan nie!

Dit is dan wanneer die foutiewe antwoord dat ons bloot nie saam met swartes wil aanbid as ‘n antwoord, moeilik verantwoordbaar is teenoor die humanis en liberalis en wie ook al van ons verantwoording vra nie!  Die onmiddellike afleiding is dan dat ons onsself as skepsel, verhewe ag bo die anderskleuriges.

 

WANNEER IS ‘N KERK ‘N VALS KERK?  

 

Wat die valse kerk betref sê artikel 29 van die NGB: Dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf. Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word. 

 

Die antwoord waarom die kerk geskeur het lê in die ontplooiing van die afgelope geskiedenis. Geskiedenis  wat ons so maklik vergeet en dan perspektief verloor oor die besluite wat ons geneem het, soos by voorbeeld om  af  te skei. Wanneer omstandighede dan druk op ons uitoefen, faal ons geloof en word toegewing die maklikste uitweg. Sonder insig van die gevolge van ons gebrek aan  kennis wat vanuit die geskiedenis ons riglyn vir die toekoms behoort te wees, maar  wat ons iewers langs die pad laat lê het, is  kerklosheid en verval onvermydelik! (My beklemtoning)

 

Sedert die moord op Dr H F Verwoerd op 6 September 1966, het die aandrang om weg te doen met apartheid sterk toegeneem en was die toegewing op sportgebied, ten spyte van ons dringende waarskuwings daarteen, die gevolglike invalspoort vir die eise dat die kerk moet oop.

 

20 jaar later in Oktober 1986,  bely die NG Sinode na volgehoue beïnvloeding van lidmate, dan ook  dat apartheid sonde is, dat hulle glo die Heilige Gees hulle so gelei het, dat die kerk nou oop is vir alles en almal en stel hulle die boekie KERK EN SAMELEWING vry. Wyle Prof. Johan Heyns skryf in die voorwoord oa. die volgende: “Dit is ook ‘n program waaraan die kerk hom in sy beskouinge en aktiwiteit met die oog op die toekoms, gebonde wil ag. Aan die hand van hierdie stuk wil ons dus be-oordeel word.”  Hierdie stelling word namens die héle NG gemeenskap gedoen, ongeag of ons daarmee saamgestem het al dan nie. Die geykte ge-institusioneerde samestelling van die kerk, word die instrument waarbinne hiërargies besluit word namens al sy lidmate nadat die struktuur infiltreer, besmet en beheer is, en ons is in die stroom!

 

NUTTELOSE PROTES

Met die stuur van ’n vaartuig in verkeerde hande, het die insittendes van binne geen beheer oor die rigting nie, al is die protes en beswaar hoe groot ook al!

Sowat 200 beswaarde lidmate uit 80 gemeentes kom op  1 November 1986 in Verwoerdburg bymekaar, sowat 8 dae na die NG Sinodesitting en vorm ‘n studiekomitee wat ‘n byeenkoms  reël vir 28 November 1986 waar  meer as 3000 beswaardes in die Skilpadsaal vergader en die VK (Voortsettings komitee) vorm wat ’n  antwoord op KES (Kerk en Samelewing) in die vorm van ‘n boekie genaamd Geloof  en Protes in Mei 1987, namens die beswaardes die lig laat sien. U kan gerus die moeite doen om dié geskrifte weer opnuut te bestudeer. Die ontplooiing van die geskiedenis sedert daardie gebeure, is insiggewend en gee antwoorde op vrae wat in ‘n mens se gemoed ontstaan het, ook oor jou eie besluite en optrede wat deur die gebeure van 1986 beïnvloed was!

 

DIE OORSPRONG VAN DIE AANDRANG TOT VERANDERING.

Dat die oorsprong duiwels is, is na selfs oppervlakkige ondersoek reeds duidelik. Die invloed van Luciferiaanse kultusorganisasies wat hulle be-ywer vir die Nuwe Wêreld Orde, wie se uiterste pogings om nasionalisme te vernietig deur gelykstelling van alles en almal,  wat ondersteun word deur die Wêreldraad van Kerke, Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, Institute for Contextual Theology, Rooms Katolieke Kerk, Anglikaanse Kerk, Belhar Belydenis, Liberalisme, Liberale Media, ens., behoort genoegsame getuienis daarvan te lewer om enige gelowige te oortuig. Die oogmerk vir verandering is een Wêreld kerk met een belydenis. Eiesoortigheid of afsonderlike ontwikkeling staan vierkantig in die pad daarvan en moet ten alle koste vernietig word.  Met die ware Godsdiens het dit niks te make nie! Met die oogmerk van Satan om die Christendom te vernietig, het dit alles te make en het die gereformeerde kerke met die aanslag op apartheid, die aanvaarding van homoseksualisme en die Belhar Belydenis, nou ’n instrument in die hande van die Satan geword en sleep die hele kerkgaande publiek met hulle saam!

 

Die Waarde van  Skeuring

 

My beswaar vandag sal ewe min waarde hê as wat die kerkskeuring sou hê, as die redes vir die skeuring uit die oog verloor word. Juis omdat die kerk in die vorming van ‘n gelowige se lewens-en-wêreldbeskouing, die ingrypendste invloed het! Dit is immers die hoogste vergadering wat ons as skepsele van God kan en behoort by te woon!

Reeds is daar al ‘n geslag kinders wat heeltemal vervreemd is van hulle geskiedenis en die geestelike en sedelike waardes wat eie aan die gelowige Afrikaner is. Die gelowige se plig om te handhaaf wat Godgegewe is in terme van afkoms, kultuur, erfenis, ens., is reeds skrikwekkend vervleg en dus vertroebel met die sinkretisme en humanisme, deur en vanuit die kerk self, sodat afskeiding of  losskeuring daar van die enigste geneesmiddel geword het. Hoe onderskei die gelowige tussen reg en verkeerd as die kerk oop is vir almal en daar geneig word na gelykheid van alle gelowe en rasse en alles en almal jou naaste is met die oog op die Nuwe Wêreld Orde? 

 

Ons is op pad na een wêreldgodsdiens, net omdat ons nie die aanslag op ons volk, ernstig opgeneem het, en nou nog nie opneem  in die kerk en ook in ander opvoedingssfere waar ons Godsbepaalde verantwoordelikhede onontbeerlik is vir die behoud van Bybelgefundeerde waardes  en ons ewigheidsbestemming nie!  Dit is tragies dat die kerk lidmate manipuleer deur sake soos kerkeenheid, die sendingopdrag en evangelisasie as middels om skuldgevoelens op te wek vir ’n  hefboom  om rasvermenging te bewerkstellig. 

Die Skeuring was polities gemotiveerd

 

Laat ons nie wegskram van die feite nie. ‘n Politieke rukwind het kom ruk aan ons geestelike ankers! Het ons met skuld probeer belaai sodat ons koers moes verander!  Dit het ons volksgenote wat swak in die geloof  was met twyfel gelaat oor die verlede, oor wat reg en verkeerd is en selfs oor die werklikheid nie dalk fiksie is nie! Ons moes selfs oortuig word dat al die opheffingswerk en beskerming wat ons aan die swart volke verleen het teen onderlinge uitwissing, ’n euwele sonde was!

Die Rustenburg Deklarasie van November 1990

Is in Engels uitgereik en so vêr bekend nie in Afrikaans volledig gepubliseer nie.

Die Deklarasie adem die gees van revolusionêre politiek, en stem in hoë mate ooreen met die Kommunistiese uitsprake en aansprake wat weerklink in die ANC se Freedom Charter en Harare-deklarasie. Let byvoorbeeld op par 4.2.4.5 (een mens, een stem); 4.2.5 ('n Oorgangsregering); 4.3.2 (oor die oorsake van geweld); 5.1 (skuldbelydenis en herstelling); 5.2 (teruggee van grond).

Dit is dikwels onmoontlik om die inhoud van die verklaring te onderskei van die van 'n politieke manifes van 'n revolusionêre party, soos byvoorbeeld par 1.1, 2.6, 3.3, 4.1.2, 4.2.2, 4.2.5
 Par 4.2.2 lui byvoorbeeld: "Ons verbind ons derhalwe tot die stryd om 'n ... demokratiese, nie-rassige Suid-Afrika daar te stel...", wat uiteraard 'n suiwer politieke revolusionêre strewe beteken, en waardeur die verwerping van apartheid omgesit word in 'n volledige onderskrywing van die ANC-SAKP-beleid en 'n verbintenis om dié strewe te bevorder.

Op 17 Augustus 1991 word ‘n Seminaar gehou oor die Rustenburg Beraad

 

Ek haal Ds Adendorff aan in sy rede in antwoord op die Rustenburg beraad.(Bls12)

 

“Dis nie ek wat ’n holrugperdjie aanhou ry nie.  Die bedreiging van ’n  Kommunistiese oorname in die RSA is ’n nagmerrie wat voor ons oë materialiseer.  Spore daarvan lê reeds ons strate vol, gereelde propaganda vir die eise van die Freedom Charter, die ontbanning van die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party, die rooi vlag met hamer en sekel in betogings, die altyd  teenwoordige agterryer van die leier van die ANC op ons TV-skerms.

’n  Nagmerrie? Erger nog: Dis ’n slang in die gras wat bly kop uitsteek en nie sommerso ‘n slangetjie nie.  Nee, niks minder nie as die slang van Gen. 3 en Openbaring 12.” (My beklemtoning) 

 

Prof  C W H Boshoff, bls, 4.

Die aanslag op die Afrikaanse Kerke:

 

“Met die aanklag geformuleer, is die Afrikaanse kerke, hulle teoloë en hulle kerklike vergaderings voor die tribunaal van die Internasionale Christendom en veral die Wêreldraad van Kerke (WRK) gedaag.  Die spore van die uitspraak, “apartheid is sonde”, is vir die eerste maal by die WRK se vergadering in 1954 in Evanston gevind.  Sedertdien is die aanslag op  kerk en Staat in Suid-Afrika met afgemete doelgerigtheid volgehou.  Die Cotesloe-beraad van 7-14 Desember 1960, opgevolg deur die die Christelike Instituut van Suider-Afrika en Sprocas (a Study project  in an apartheid society) het hierdie aanslag ingelui. Daarna het die sluise oopgegaan en organisasies en publikasies, kerklike resolusies en openbare verklarings het vermenigvuldig. Afvaardigings van kerke uit die buiteland, teologiese geskrifte van ‘bevriende’ teologiese skole en fakulteite gerig aan ons teoloë en fakulteite, het in ’n stroom gevolg.”

 

WAAROM HIERDIE LANG BETOOG?

Dit behoort vir almal duidelik te wees dat die aanslag op ons volk en sy Christelike grondslag nie opgehou het nie maar daagliks sy greep verstewig.

Die verwerping van apartheid deur die Hervormde kerk en die aanvaarding van die Belhar belydenis deur die NG-Kerk, is nie om dowe neute nie!

Met die kerkskeuring in 1986 en nadat die AP-Kerk tot stand gekom het, het die wapens gesak want ons het mos nou die bande gebreek!

In terugskouing wil dit egter voorkom of dit net ’n wapenstilstand was.  Nog erger, dit wil voorkom of die AP-Kerk ook nou deel van die aanslag geword het met ’n aanhoudende verdagmakery van behoudende waardes in Die Boodskapper en ’n bedenklike poging by die afgelope sinode om die kerk se nagmaal oopgestel te kry vir die bywoning van anderskleuriges.

 

Dit is duidelik dat daar ’n gekonsentreerde aanslag op die Afrikanervolk se Christelike waardes geloods word

 

Die Cottesloe-Kerkeberaad

Die Cottesloe-kerkeberaad was ’n beraad van 80 afgevaardigdes van agt Suid-Afrikaanse lidkerke van die Wêreldraad van Kerke van 7 tot 14 Desember 1960 in die gelyknamige Johannesburgse voorstad.

Dit het regstreeks voortgespruit uit die protesoptog van duisende swart mense op 21 Maart 1960 in Sharpeville in die Vaaldriehoek, die sogenaamde Sharpeville-slagting, en het daartoe gelei dat die Nederduitse Gereformeerde Kerk finaal gebrandmerk is as apartheidskerk wat geweier het om standpunt in te neem teen die regering ter wille van geregtigheid.

Agtergrond

Onmiddellik na die opstand, waarin die polisie 69 mense doodgeskiet en 180 gewond het, het dr. Willem Visser 't Hoof, hoofsekretaris van die Wêreldraad van Kerke (W.R.K.) , vir dr. Robert S. Bilheimer, ’n Amerikaner en mede-hoofsekretaris van die W.R.K. na Suid-Afrika gestuur met ’n dringende versoek aan die agt lidkerke van die Raad in Suid-Afrika om in ’n kerkeberaad byeen te kom en die groot gaping in ekumeniese kontakte van die kerke in Suid-Afrika te begin oorbrug, maar om veral ook die eerste keer openhartig met mekaar oor rassespanning in die land te praat, indien moontlik. Die W.R.K. wou van die Suid-Afrikaanse lidkerke weet wat hulle doen om die spanning te ontlont.

In oorleg met Bilheimer is besluit om ’n beraad te hou in die koshuise van die Universiteit van die Witwatersrand in Cottesloe. Die W.R.K het hooggeplaaste afgevaardigdes vanuit verskillende rasse en belydenisse uit talle uithoeke van die wêreld gestuur en hiermee getoon hoe ernstig hy oor die beraad was. Elke kerk moes ’n memorandum oor vyf hooftemas indien: die feitelike situasie in Suid-Afrika; die Christelike interpretasie van die hedendaagse geskiedenis uit ’n Christelike oogpunt; die betekenis van die huidige noodsituasie in die land; die getuienis van die kerk rakende geregtigheid; die sending en samewerking. Die memoranda sou vooraf aan mekaar gestuur word. Daarna sou die agt kerke onder leiding van die hooggeplaaste W.R.K.-afvaardiging vergadering en dit bespreek.

 Week lange beraad

Tagtig afgevaardigdes het op 7 Desember 1960 bymekaar gekom. Onder hulle was 79 mans en een vrou, prof. Monica Wilson, lid van die Anglikaanse afvaardiging. Van die Kaapse NG Kerk was daar onder andere moderator dr. Abraham van der Merwe (leraar van NG gemeente Kaapstad van 1926 tot 1966), ds. W.A. Landman, direkteur van die Kerk se Inligtingsburo, ds. P.E.S. Smith, algemene sendingsekretaris, ds. Attie van Wijk, vier professore van die Kweekskool op Stellenbosch en een van die Hugenote-kollege op Wellington. Die Transvaalse afvaardiging het bestaan uit ds. Arnold Meiring, moderator, Beyers Naudé, assessor, F.E. O'B. Geldenhuys, aktuaris, asook twee professore van die NG teologiese fakulteit aan die Universiteit van Pretoria, vier leraars en een ouderling.

Die afgevaardigdes het op die eerste dag in vier groepe verdeel om die onderwerpe stelselmatig deur te werk. Aan die einde van elke dag het almal weer byeen gekom en verslag gedoen oor die afsonderlike besprekings. ’n Komitee het voorstelle geformuleer uit die groepe se konsensus wat dan aan die einde van die volle vergadering vir stemming voorgelê kon word.

Ook op die eerste dag het afgevaardigdes besluit om vir die duur van die week geen persoonlike personderhoude toe te staan nie. Daar was ook geen voorneme om aan die einde ’n persverklaring uit te reik nie. Die beraad moes self hieroor besluit. Reeds op die derde dag van die beraad, 9 Desember, berig Die Transvaler dat "sommige afgevaardigdes" bedenkinge oor die nut van die beraad uitgespreek het. Die koerant beweer ook dat "Afrikaanse kerkleiers teleurgestel is deur die afbrekende kritiese houding wat sommige andersdenkendes inneem". Drie afgevaardigdes het ’n dringende gesprek met die koerant se redakteur gevoer, maar hy was nie bereid om sy bron bekend te maak nie, hoewel die vermoede bestaan het dat dit prof. S.P. Engelbrecht van die Hervormde Kerk was. Ander koerante het toe gedreig om hulle onderneming te verbreek om nie binne-inligting te plaas nie, maar uiteindelik het hulle onderneem om te swyg, mits hulle aan die einde van die beraad ’n verklaring kry.

Beyers Naudé het jare later geskryf: "As die lekkasie in Die Transvaler nie plaasgevind het nie, sou ’n openbare verklaring aan die einde nie noodsaaklik gewees het nie, en sou die Cottesloe-beraad nie tot die uitbarsting gelei het wat toe in werklikheid gebeur het nie."

Ernstige spanning en selfs wantroue tussen afgevaardigdes het mettertyd plek gemaak vir groter openheid en selfs onderlinge vertroue, veral omdat afgevaardigdes ’n week lank saam in die koshuise gebly, elke môre saam Bybelstudie gedoen en openhartige gesprekke gevoer het. Volgens Naudé was die uitsondering die afgevaardigdes van die Nederduitsch Hervormde Kerk. Hulle het altyd saam geëet en was nie bereid om gedagtes met ander te wissel of gesellig te verkeer nie.

Op die laaste dag van die konferensie het aartsbiskop De Blank van die Anglikaanse Kerk sy kollegas in die NG Kerk om verskoning gevra vir die dinge wat hy dikwels oor hulle kwytgeraak het. Hy het gesê hy stem nie noodwendig met hulle standpunte van die voorafgaande week saam nie, maar dat hy nie die reg gehad het om hulle te veroordeel nie.

 Vernaamste besluite

Uiteindelik neem die beraad 17 besluite, waarvan vier opspraak verwek het:

  • Gemeenskaplike aanbidding: "Niemand wat in Jesus Christus glo, mag uitgesluit word uit enige Kerk op grond van sy kleur of ras nie."
  • Gemengde huwelike: "Daar is geen Skriftuurlike gronde vir ’n verbod op gemengde huwelike nie."
  • Grondbesit: "Dit is ons oortuiging dat die reg om grond te besit waar hy ook al gedomisilieer is en om deel te hê aan die regering van sy land, deel is van die waardigheid van die volwasse mens, en om hierdie rede kan ’n beleid wat aan nie-blankes permanent die reg tot medeseggenskap in die regering van die land waarvan hulle burgers is, ontsê, nie geregverdig word nie."
  • Politieke status van die Kleurlinge: "(a) Dit is ons oortuiging dat daar in beginsel geen beswaar kan wees teen die direkte verteenwoordiging van die Kleurling-bevolking in die Parlement nie. (b) Ons spreek die hoop uit dat oorweging verleen sal word aan die toepassing van hierdie beginsel in die afsienbare toekoms."(my beklemtoning)

Die afgevaardigdes van die NG Kerk het kort voor die einde van die beraad afsonderlik byeengekom. Ds. Bertie Brink, moderator van die Transvaalse Sinode, het hulle gewaarsku dat hulle hulle moes voorberei op ’n baie stormagtige tyd. Die Kaapse moderator, dr. A.J. van Merwe, het gesê dit is noodsaaklik dat hulle moet besef watter gevolge die aanbevelings vir hulle kerke kan hê. ’n Verslaggewer het ook toe die persverklaring aan die einde van die beraad uitgereik is, vir dr. Visser 't Hooft gevra of hy besef dat die verklaring dinamiet bevat.

 Reaksie

Reeds op 16 Desember 1960 saai die Hervormde Kerk ’n verklaring oor die radionuus uit dat die afgevaardigdes van dié kerk hulle nie met die Cottesloe-besluite vereenselwig nie. Die Transvaler skryf in ’n hoofartikel dat, ongeag hoe mooi die besluite van die beraad klink, " . . . die konsekwente toepassing daarvan tot die volledige ineenstorting en verdwyning van die Christendom self hier aan die suidpunt van Afrika moet lei". Die Vaderland het die besluite as "verwarrend" beskryf. Beyers Naudé het in Dagbreek gereageer en gewaarsku "dat oorhaastige en misleidende gevolgtrekkings baie onnodige skade aan die saak van die Christendom en die blywende welsyn van die Afrikaner kan doen".

Die uitsondering onder die Afrikaanse koerante was Die Burger wat op 19 Desember 1960 skryf die Kerk het die reg en plig ". . . om politieke beleid te toets aan morele wette . . . om die heersers van die hierdie wêreld te vermaan en tereg te wys en om dit onbevrees te doen, omdat hy, indien hy suiwer ingestel is op die Werklikheid agter die werklikheid, ’n Hoër Gesag verteenwoordig as regerings, politieke partye of die volkswil."

Dr. Andries Treurnicht, wat daardie jaar redakteur van die Kerkbode geword het, skryf in die kerkorgaan dat veral die besluite oor Kleurling-verteenwoordiging in die Parlement ’n "ontoelaatbare staatsgreep" is. Volgende kom dr. H.F. Verwoerd, eerste minister, aan die woord in sy Nuwejaarsboodskap aan die volk op 1 Januarie 1961. Sy uitlatings verongeluk enige positiewe uitwerking wat die beraad op die NG Kerk kon gehad het. Naudé het gesê: "Veral in die Transvaal het min lidmate dit hierna gewaag om die Cottesloe-besluite te verdedig." Verwoerd het die beraad beskou as ’n poging deur buitelanders om hulle in Suid-Afrika se sake in te meng. Hy voer aan dat ’n organisasie soos die W.R.K. nie ’n blywende indruk op die denke en optrede van die land sou hê nie en sê die finale besluit berus by die kerke wanneer hulle sinodes hulle stem sal laat hoor. Die Afrikanerbond (vereniging) het ook sy invloed laat geld en lede wat aan die beraad deelgeneem het, versoek om hulle van die besluite te distansieer.

Gevolge in NG Kerk

Ondanks herhaalde verduidelikings en verklarings deur die NG afgevaardigdes, het die stemming onder lidmate gou oorgegaan tot algehele verwerping van die Cottesloe-besluite, veral na ’n reeks strategies goed beplande protesvergaderings teen Cottesloe in Pretoria en op die Transvaalse platteland. Van 22 tot 24 Maart 1961 besluit die Federale Raad van Kerke hy kan hom nie vereenselwig met die besluite nie en raai die Kaapse en Transvaalse Sinodes aan om hulle lidmaatskap van die Wêreldraad van Kerke op te sê. Die enigste teenstemme was van Naudé, Frans Geldenhuys, Attie van Wijk en Willem Landman.

Die Transvaalse Sinode van die NG Kerk kom op 5 April 1961 in die stadsaal van Pretoria byeen. Die lidmate en gemeentes het in so ’n mate toegeneem dat die Sinodesaal in Visagiestraat te klein geword het om die 730 afgevaardigdes te huisves. Die atmosfeer was gespanne en almal het gewonder wie tot die nuwe moderatuur verkies sou word, gegewe die Cottesloe-beraad. Ds. Arnold Meiring is met net nege stemme as moderator herverkies. Naudé is sy amp as assessor met 280 teen 450 stemme kwyt en Geldenhuys, wat toe reeds 14 jaar aktuarius was, verloor die verkiesing met presies dieselfde meerderheid.

Die Sinode het Cottesloe twee dae lank gedebatteer en uiteindelik is elke afgevaardigde kans gegee om ’n verklaring voor die Sinode te maak en homself te verdedig. Ds. Meiring het reeds die besluite verwerp en is tot moderator verkies, dus is daar nie van hom verwag om iets verder te sê nie. Naudé het die aand voor sy beurt geworstel oor wat sy verklaring sou wees. Hy skryf later hy het vooraf besluit: "As enigeen van die besluite wat by Cottesloe geneem is in stryd was met die waarheid van Gods Woord en die opdragte van die Evangelie, dan was dit vir my vanselfsprekend dat ek sou moes erken dat daardie besluite foutief was. Hy het laaste gepraat omdat hy die jongste afgevaardigde was: "In my kort verklaring het ek gesê as enige Sinodelid my kon oortuig dat enigeen van die besluite wat ons geneem het nie aan bogenoemde vereiste voldoen het nie . . . ek bereid sou wees om my verskoning aan te bied aan die Sinode en die Kerk. As daar egter nie so ’n bewys gelewer kan word nie, bly ek by my oortuiging om die Cottesloe-aanbevelings te steun. My verklaring is met doodse stilte aangehoor."

Op Saterdag 10 April aanvaar die Sinode met net 150 teenstemme om die besluite van Cottesloe te betreur. Kort daarna besluit die Sinode ook om sy lidmaatskap van die W.R.K. te beëindig. Op 4 November 1961 besluit die Kaapse Sinode ook om ook die Cottesloe-besluite te verwerp en tree terselfdertyd ook uit die W.R.K.

 "Apartheidskerk"

In NG Kerk 350 skryf Johan Botes oor die gevolge van Cottesloe: "Die NG Kerk het, met goeie bedoelings en al, finaal ’n etiket as apartheid vennoot en apartheid kerk gekry. Die getuienis van die kerk is geneutraliseer en het dermate met sy omgewing versmelt dat daar in ’n krisistyd nie genoeg afstand was om werklik rigting te gee nie."

Cottesloe-kerkeberaad

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Ds. Beyers Naudé was só sterk ten gunste van die Cottesloe-besluite dat hy uiteindelik as leraar uit die NG Kerk bedank het.

Dr. Abraham van der Merwe, Kaapse moderator, het nié na Cottesloe teen dr. HF Verwoerd standpunt ingeneem nie en is in November 1961 weer tot moderator verkies.

 

Ds. Attie van Wijk, leraar van Stellenbosch, was een van net vier lede van die Federale Raad van Kerke wat nie teen Cottesloe gekant was nie en lid van die W.R.K. wou bly. Hy en dr. Andries Treurnicht, wat as redakteur van die Kerkbode heftig teen Cottesloe gekant was, was vroeër medeleraars in Rondebosch.

Ds. Arnold Meiring, Transvaalse moderator, het aanvanklik die besluite gesteun, maar was later daarteen gekant sodat hy weer as moderator verkies is.

 

Ds. Willie Landman was een van net vier stemme in die NG Kerk se Federale Raad wat ten gunste van die Cottesloe-besluite was.

 

Wat is die Belhar belydenis?

 

Die belydenis van Belhar het September 1986 sy beslag gekry en is intussen deur die WARC en nou WCRC opgeneem as ‘n 20e eeuse belydenis.

 “The World Communion of Reformed Churches sees itself as part of the universal church. It stands within the tradition of the Reformation, where the historic Reformed confessions and 20th century confessions (Barmen, Belhar) were written in close connection to the word of God”

 

  • ·         Daar is nou lank reeds debat binne die reformatoriese kerke in RSA oor die status van die belydenis.

Al hoe meer stemme binne die NGK gaan op wat Belhar as “die voertuig tot eenheid” verstaan.

Dit kom daarop neer dat die NGK die belydenis moet aanvaar,  onderskryf en bely.

 

Wat staan in die belydenis? 

Die volgende vertaalde opsomming word aangebied: (Hierdie kort opsomming is nie volledig nie, maar lig die sake van belang uit.)

 

1.    Geloof in God Drie-Enig wat die Kerk versorg deur Woord en Gees.

  1. 2.    Geloof in die een universele Christelike kerk,  uit alle volke saamgeroep.  Hierdie eenheid kom na vore in ‘n sigbare integrasie wat aktief nagestreef moet word.   Enige skeiding tussen mense is sondig en moet weerstaan word.  Daar moet saam gebid word,  saam gedien word,  mekaar se laste moet gedra word.  Enige leerstuk wat diversiteit verabsoluteer, word verwerp.(my beklemtoning) 
  2. Die boodskap van versoening is aan die Kerk toevertrou.  Die kragte van sonde en dood is in Christus oorwin.  Die werk van versoening word gekortwiek in ‘n land waar mense op grond van ras geskei word.  Die skeiding perpetueer haat,  vervreemding en vyandigheid.  Die veronderstelling van skeiding is dat die versoenende mag van die evangelie nie die menslike skeiding kan ophef nie.  Enige leerstuk wat die geforseerde skeiding van mense regverdig, word verwerp.
  3. God is die een wat vrede en geregtigheid bring en is op ‘n besondere manier aan die kant van die onderdrukte en die gemarginaliseerde mens.  Die Kerk moet hom ook by hierdie mense skaar.
  4. Jesus Christus se kerk moet teen ongelykheid,  skeiding en onderdrukking getuig,  selfs al maak landswette dit onwettig.  Aan God al die eer.

Die vraag wat dan gestel moet word,  is na die aard van die weerstand teen hierdie belydenis.

Die relevante weerstand het met teologiese verskille te make.

Die bevrydingsteologie kom baie duidelik na vore in die belydenis, die ideologiese humanisme,  asook die histories beperkte aard van die belydenis.

 

Teologies: 

Bevrydingsteologie as agtergrond.

Belhar steun sterk op die bevrydingsteologie wat ‘n vervlakking van verhoudings propageer.  Dit is net die horisontale wat van belang is.

So word God dan voorgehou as aan die kant van die onderdrukte en die Kerk word opgeroep om langs God te gaan staan.

Belhar sien die Kerk as universele instrument om mense van onderdrukking te bevry.

Die ekklesiologie word in die sosiale program gebed,  nie in die Christologie nie.

 

Ideologies: 

Belhar se weerstand teen segregasie kom uit in die integrasie wat as ideaal, roeping en taak van die Kerk voorgehou word.

Integrasie van mense oor alle grense heen word as evangeliese imperatief verkondig.

Histories beperkte aard van Belhar:

Gewoonlik kan ons stel dat belydenisse hulle tyd oorstyg en altyd tot nuwe gemeenskappe spreek.

Belhar is so vasgevang in die RSA van 1980’s dat dit buite daardie konteks nie dieselfde impak kan hê nie. 

 

Hierdie kort bekendstelling het ten doel om Belhar binne konteks te plaas.

Daarmee saam word die aard van die teologie van die WCRC ook ontmasker as bevrydingsteologie. 

Die dokumente van die WCRC is deurspek van hierdie selfde teologiese hoofstroom.  (Belhar: ’n Uittreksel uit die voorlegging van die beswaarde Hervormdes oor die verwerping van apartheid)

 

Openbaring 18:4

En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.

 

Laat die Afrikanervolk opnuut besin oor die werklike oorsake van die plae waarmee ons geteister word en of die kerke waarin ons vasgevang is, werklik ware kerk is!  As ek dít gesê het, bedoel ek dat ons met groter verantwoordelikheid die Woord van God sal ondersoek en nie aanhou om gemeenskap met haar (die vals kerk) se sondes te hê en alles wat op ons afgedwing word te aanvaar nie. Die postmoderne teologiese opleidingsfakulteite  adem ’n nuwe tydsgees wat ewigheidswaardes met ’n “nuwe” lig beskyn!

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie