Alhoewel daar verdeeldheid in die HNP is oor dié party se deelname aan die VVK-verkiesing, het die Volksbonders in HNP-geledere tog die hef in die hand en is hulle onverpoosd besig om een en elk te probeer oortuig om aan hierdie verraad deel te hê. Dat hulle in die proses die HNP ook gaan vernietig, skeel hulle duidelik min.
Pas is ook onthul hoe Louis van der Schyff, die hoofsekretaris van die HNP, onder ‘n skuilnaam op die organisasie Boerevolk Vryheidstigting se webblad voorbrand vir die VVK se verkiesing gemaak het. In die HNP verkondig hy nog al die jare dat die hele Suid-Afrika Blanke land is, dat die regime onwettig is en deel hy die HNP se Vryheidsmanifes uit vir elkeen wat hy raakloop. Ja, so het hy selfs ‘n swart joernalis jare gelede by ‘n HNP-kongres verjaag. Op www.boerevryheid.co.za het hy te vertelle dat ‘n “groot genoeg stuk grond” van die ANC “geëis” gaan word! Dit
Die verdeeldheid in HNP-geledere oor sy voortgesette VVK-betrokkenheid het by sy laaste dagbestuursvergadering duidelik na vore gekom, maar is die kaping van die VVK-groepering deurgevoer en kon die klein groepie wat nog klou aan die (amptelike) standpunt van die HNP geen hond haar-af maak om die volkstaters op hulle dwaasheid te wys nie.
Dit blyk ook dat sommige VVK-kandidate bekommerd is dat die HNP reeds die “volksraad” “gekaap” het en blykbaar te veel kandidate het. Met die standpunte wat die HNP-leiding deesdae verkondig, is daar egter niks te vrees vir die ander VVK-ondersteuners en –kandidate nie. Die HNP is nou ‘n volkstaat-party. ‘n Volkstaat wat by die vyand gebedel gaan word en waarvan slegs Alice (van Alice in Wonderland-faam) weet waar en hoe groot dit gaan wees.
Die HNP het die volkstaters in die verlede as verraaiers uitgekryt. En met reg. So ook vir leiers soos Constand Viljoen en Ferdi Hartzenberg. Ja, almal wat met die regime wou onderhandel vir ‘n volkstaat. Vóór en na die 1994-verkiesing. Die HNP het ook die IDASA-komplot as die grootste verraad in ons volk se geskiedenis beskou. Ja, toe weerstand by die volk opgebou het, maar sekere leiers besluit het om eerder met die vyand te onderhandel vir ‘n volkstaat. Noudat Afrikaner-verset weer uiteindelik besig is om op te bou, word dieselfde gedoen. Word ons volk se opbouende verset op ‘n dwaalspoor geplaas. Word ons volk verder voor sy vyand verneder.
Ja, nou is die HNP ook deel van hierdie verraad. Dat hulle deur hierdie stap geen rol meer in die politiek sal hê nie, het die AVP reeds lankal tevore voorspel. Dit is ‘n skande wat die volks verraaiers in hulle midde met die nalatenskap van mnr. Jaap Marais gemaak het. Ja, hulle het dit in die grond vertrap! So ‘n party verdien om van die toneel te verdwyn.