1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9952654

Besoekers aanlyn

Ons het 131 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Media

HET ONS ‘N CHRISTELIKE PLIG OM IN VERSET TE KOM?

Afrikaners deins oor die algemeen terug as hulle met die woord verset gekonfronteer word. Dit is so omdat ons as Christene, en veral gegewe ons Calvinistiese lewens- en wereldbeskouing, wat onder andere voorskryf dat ons gehoorsaam moet wees aan die gesag wat bo jou aangestel is, nie maklik bereid is om ons tot verset te wend nie. Verskeie vrae kom onmiddellik by ‘n mens op: Het die Voortrekkers hulle Calvinistiese grondslag en -beskouing versaak toe hulle in verset weggetrek het uit die Kaap?

So ook: Was die verset teen Brittanje gedurende die tydperk 1881 -1902 dan ‘n daad in stryd met die Boere se Calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing? Indien hierdie optredes dan wel geklop het met ons voorouers se lewens- en wêreldbeskouing, hoe was dit moontlik?  Dit was tog immers dade van verset. Is ons nie maar besig om ons versuim (verraad) te rasionaliseer nie?

 

Vandag is hierdie vrae weer baie aktueel. Ons word dikwels tot verset opgeroep. Ons hoor dat verset die wagwoord van die nasionalisme is. Dit is gevolglik noodsaaklik om te weet of, en indien wel, wanneer, verset jou Christelike plig is.

 

CALVYN SE BESKOUING

 

In sy bekende werk Die Institusie van die Christelike Godsdiens het Calvyn die owerheid beskryf as die vader van die vaderland, ‘n herder van sy volk, ‘n bewaarder van die vrede, ‘n beskermer van regverdigheid en die verdediger van onskuld. Sou ‘n owerheid in sulke terme beskryf kan word, is dit, soos Calvyn tereg stel, waansinnig indien so ‘n regering nie goedgekeur en ondersteun word nie.

 

Calvyn is van mening dat God op sy bestemde tyd ook van ‘n tirannie ontslae sal raak. Hy stel dat ook sulke regerings hulle gesag van God af gekry het en dat dit nie vir mense is om van sulke owerhede ontslae te raak of hulle daarteen te verset nie. Hierdie voorskrif van Calvyn het baie Afrikaners in hulle spore gestuit waar dit oor verset gegaan het. In Romeine 13:1 lees ons immers:

 

Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel.

 

Dit is derhalwe in ‘n sekere mate te verstane dat Afrikaners huiwer wanneer hulle met die oproep tot verset gekonfronteer word.

 

Maar Calvyn stel ook dat wanneer ‘n regering ’n bevel vir onderdane gee wat teen God se woord indruis, so ‘n bevel geen plek of waarde by die onderdane moet hê nie (Vergelyk Handelinge 5:29 in hierdie verband).  Selfs Daniël verklaar dat hy geen sonde teen die koning begaan toe hy sy goddelose bevel nie gehoorsaam het nie.  Die Israeliete word veroordeel omdat hulle te inskiklik was teen ‘n goddelose bevel van die koning. Dit is dus ver daarvandaan dat ‘n dekmantel van onderdanigheid lof toegeswaai moet word. Diegene bedek eenvoudig hulle eie skande en mislei mense deur te beweer dat dit hulle eenvoudig nie geoorloof is om bevele van heersers te verontagsaam nie.

 

Calvyn het dus nie, soos sommiges beweer, verset geheel en al afgekeur nie. Hy het verset in sekere omstandighede geregverdig, alhoewel dit met groot omsigtigheid benader moes word.

 

DIE “CALVINISTIESE TOESPRAAK”

 

In wat bekend geword het as die “Calvinistiese toespraak” (‘n toespraak wat terloops deur John Vorster is sy geheel verwerp is), het dr Albert Hertzog in April 1969 verwys na die kenmerke van die Calvinistiese Afrikaner. Hy het gestel dat ons as Afrikaners geanker is in ons kerk en ons godsdiens en dat ons hoofsaaklik nog Calviniste is. Hy het gesê dat dit deel is van ons lewenspatroon - ons kan nie anders nie.

 

Hy het vier eienskappe van die Calvinistiese Afrikaner uitgelig. In kort kom die eerste drie eienskappe daarop neer dat ons in die eerste plek regskape en regverdig sal optree - ook teenoor ander volkere. Tweedens dat ons die verskeidenheid van die Skepping erken en eerbiedig - ook die volkereverskeidenheid. Die derde eienskap is dat ons verknog is aan vryheid - vir die indiwidu én die volk. Die vierde en wat hier veral van belang is, is dat ons ons aan gesag onderwerp en dit sal handhaaf, solank as wat daardie gesag regskape en regverdig optree. Maar die oomblik as daardie gesag in dwingelandy verander, het die Calvinis nie geskroom om dit te verwerp nie. Dit was deurgaans die waarborg vir die Blanke se voortbestaan in Afrika.

 

IS DIE HUIDIGE REGERING GODVRESEND?

 

Die huidige ANC/SAKP-regime is nie ‘n herder van ons volk nie en ook nie die bewaarder van vrede en die beskermer van regverdigheid nie. Geen van hierdie eienskappe is te bespeur by die regering wat tans in Suid-Afrika regeer nie. Die huidige regering kan derhalwe op alle aspekte afgekeur word. Die vraag is egter of hulle nie meer gehoorsaam moet word nie.

 

Die huidige owerheid van hierdie land stel die Christelike godsdiens gelyk met alle ander godsdienste. Reeds dit behoort min twyfel te laat: Die huidige regering vrees nie die Drie-Enige God nie. Die Tien Gebooie bepaal uitdruklik dat jy geen ander gode voor God se aangesig mag hê nie. Die huidige regering, wat nie een godsdiens as die ware godsdiens erken nie, maar alle gode en godsdienste op gelyke vlak plaas, verontagsaam hierdie gebod. Daarbenewens is daar talle wetgewing (waaronder die Grondwet) wat skreiende aktiwiteite goedkeur, byvoorbeeld homoseksualisme, wat daarop dui dat die owerheid nie ‘n Godvresende owerheid is nie.  Slegs om hierdie rede behoort die owerheid nie gehoorsaam te word nie.

 

Daar kan geargumenteer word dat die huidige owerheid ons nie beveel om ‘n ander godsdiens te onderskryf of om self homoseksualisme te bedryf nie. Wat die Grondwet wel sê is dat onderdane die beginsels in daardie Grondwet moet onderskryf. Dit is ‘n opdrag teen die wil van God. Om kinders in skole aan te sê om begrip en respek vir ander godsdienste aan te leer, is maar net ‘n rookskerm vir die eintlike bevel dat ander gode gedien moet word. Dan is reeds so dat “haatspraak” behels dat homoseksualisme (of die aanbidding van voorvadergeeste?) nie meer gekritiseer mag word nie. Dit is ‘n verdere verloëning van Christelike beginsels.

 

’N VREEMDE MAG

 

Dit gaan verder as dat ons te doen het met ‘n owerheid wat die Drie-Enige God minag. Dit is ‘n volksvreemde mag wat op bedrogvolle en verraderlike wyse die mag oor die Afrikaner bekom het en wat die bestaan van die Afrikaner ontken. Dit is ’n owerheid wat enersyds wette maak om die Afrikaner te ontmagtig en andersyds moord, roof en verkragting van Afrikaners “regverdig” en laat eskaleer om die Afrikaner uit te wis. Agter hierdie owerheid sit magte wat die Afrikaner wil vernietig en die Afrikaner se erfgoed in hierdie land tot niet wil maak.

 

Die Afrikaner is op rewolusionêre wyse van die mag in hierdie land ontneem, in so ‘n mate dat hy dit net op rewolusionêre wyse weer terug sal kan kry. By die stembus, daardie metode wat wêreldwyd erken word, kan dit nie gebeur nie. Die leuen van “Swart verontregting” het die Afrikaner in so ‘n mate ontmagtig dat hy hom waarskynlik in die toekoms tot metodes sal moet wend wat vreemd aan sy aard is.

 

Die Voortrekkers het waarskynlik minder rede gehad (uit talle oogpunte gesien) as wat ons vandag het om in verset te gaan. Hulle was beslis ook nie minder Calvinisties in hulle lewensbeskouing as ons toe hulle wel in verset gegaan het nie. Ook die Boere in Transvaal het in 1880 waarskynlik nie kon kla oor die “tirannie” van Britse besetting nie. So kon hulle ook geredeneer het dat Shepstone se besetting God se wil was. Die meerderheid het nie. Hulle het in verset gegaan daarteen. Hulle het hulle onderdanigheid nie lof toegeswaai nie, maar die Gelofte het hulle tot verset verplig.

 

Wanneer ons vir mekaar sê dat ons ‘n volk is wat deur God gewil is aan die suidpunt van Afrika en waar ons ‘n Gelofte met Hom herdenk wat inhou dat ons hierdie volk en sy land in stand moet hou vir die opkomende geslagte, dan besef ‘n mens dat verset ons Christelike plig is.

 

Al wat moet gebeur, is dat daardie dwepers wat vir ons wil vertel dat verset ons nie geoorloof is nie die rug gekeer moet word. Ons moet net ophou om die dekmantel van onderdanigheid lof toe te swaai.

 

HOE LYK DAARDIE VERSET?

 

Daar is al baie in die verlede klem daarop gelê dat die Afrikaner se geestestoestand reg moet wees alvorens hy met ‘n proses van verset kan begin.  Dit kan nie genoeg herhaal word nie: Wanneer ‘n mens in jou gemoed huiwer oor wat jou te doen staan, sal jy nie gereed wees om ‘n daad van verset uit te voer en op daardie pad te volhard nie.  Dan sal jy telkens wonder of verset reg en “geregverdig” is en of die volgende stap aangedurf moet word. Ook wanneer ‘n mens lees van nog ‘n koelbloedige moord op ‘n Afrikaner en dit vervul jou met afgryse, maar dwing jou nie tot optrede nie, dan is jou gemoedstoestand vir verset nie reg nie.

 

Die proses sal min of meer die volgende behels:-

 

1.         In die eerste plek moet daar ten opsigte van elke bestaande (verrotte) samelewingsverband ‘n aparte Afrikaner samelewingsverband daargestel word. 

 

2.         Tweedens moet passiewe weerstand, dit wil sê lydelike verset, deurlopend getoon en gemonster word. Waar die feite spreek van die ondermyning van volksbelange, die verkragting van die gesinslewe en die minagting van Afrikaner kultuurgoed, moet die Afrikaner om sy gewetensontwil weë van ongehoorsaamheid teenoor die owerheid beraam om die regering te dwing om van sy verkeerde weë af te sien. Daar is honderde vorme van passiewe weerstand. Daar moet organisatories en ordelik te werk gegaan word en deurlopend besin word welke passiewe weerstand gebied moet word teen staatsoptrede of wetgewing. Uiteindelik beteken passiewe weerstand ook dat daar geweier moet word om bevele (wette) na te kom, byvoorbeeld deur die weerhouding van belasting aan munisipaliteite.  Die probleem met sulke aksies is dat, indien dit nie in ‘n groep gemonster kan word nie, enkelinge geteiken sal word.

 

3.         Daarbenewens moet die fisiese weerbaarheid van elke gemeenskap voorrang geniet. Dit moet gepaardgaan met deurlopende politieke propaganda. Mense word vermoor omdat hulle enersyds nie fisies weerbaar was nie en andersyds die prooi van die vyand se propaganda geword het, naamlik dat toestande in die RSA “genormaliseer” het na die “eerste demokratiese verkiesing”.

 

  1. Indien passiewe weerstand nie die gewenste uitwerking het nie, en indien dit geen uitwerking het om Afrikanervryheid te herstel nie, sal as absoluut laaste uitweg oorgegaan moet word tot aktiewe verset. So dikwels is al gesien hoe dit misluk het en die rede ook te dikwels omdat die mense se gemoedstoestand nie reg was nie.

 

Die Afrikaner se gemoedstoestand is vandag nie reg vir aktiewe verset nie. Daar kan immers nie by lydelike verset verbygegaan word nie.

 

VERSET EN NASIONALISME

 

Daar is al dikwels daarna verwys dat verset die wagwoord van die nasionalisme is. Dit is nie net ‘n leë slagspreuk nie. Nasionalisme vereis dat ‘n volk homself sal betuig teenoor andere as ‘n afsonderlike volk met ‘n eie grondgebied, kultuur en geskiedenis. Om homself te betuig moet ‘n volk gesteld wees op sy selfbehoud en beklee wees met selfrespek. Daarom kan ‘n volk met ‘n skuldgevoel homself nie betuig nie omdat hy geen selfrespek het nie. Ten einde kontinuïteit van die volk te verseker moet ‘n volk gedurig waak oor sy vryheid en die gesag binne en vanuit daardie volk respekteer. Die gesin as bousteen van die volk is dié plek waar die godsdiens  geleer, die geskiedenis geëer, gesag gerespekteer en die voorkeur vir die eie gekweek word.

 

Wanneer hierdie waardes aangeval word, moet die volk se leiers wagstaan by die poorte; moet daar in verset gegaan word teen die ondergrawers. Daar is nie een van hierdie waardes, hierdie eienskappe van nasionalisme, wat nie deur die huidige owerheid vertrap word nie. Ons is nie bestem om aan die goddeloosheid uitgelewer te word nie.

 

OPROEP

 

Die AVP se grondslag is die Bybel as die onfeilbare Woord van die Drie-Enige God soos dit verstaan en uitgelê is in die Calvinistiese Hervorming. Die “Calvinistiese toespraak” het die skeiding in volksgeledere weer beklemtoon.

 

Dit verplig ons tot ‘n bereidheid om in volgehoue stryd ons te beywer vir die bewaking van die nasionale identiteit van die Afrikaner en die ontwikkeling van die volkslewe langs Christelik-nasionale weg. Daartóé is ons die stryd aangesê deur ‘n godlose owerheid.

 

Daarvóór sing en bid ons, is ons bereid om te lewe én om te sterwe - vir óns Suid-Afrika.

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie