Die Konserwatiewe Party, dit is nou die party wat nooit as “regs” of “nasionalisties” beskou wou word nie, en wat bekend was vir leierskap wat hulle wind na die seile gespan het, leef steeds voort in die drome en verbeeldingsvlugte van sekere mense. Dit ondanks die feit dat die oordeel oor die KP reeds gevel is. Die titel van ‘n boek wat ‘n jaar of wat gelede oor die KP verskyn het, naamlik “Vegters teen Politieke Boelies” is uiters “gepas” op hierdie politieke waterloot. Die KP het deurgaans soos skoolseuns wat “geboelie” is, opgetree en hulle lot by ander bekla.
Tog is daar diegene wat vandag steeds poog om die KP se verraad teen die Afrikanerdom aan ander te wil afsmeer en sekere KP-leiers se “vergeefse verset” te wil blinkvryf.
Dit is bekend dat mnr. Jaap Marais, voormalige leier van die eens vlekkelose HNP, korte mette met beide drs. AP Treurnicht en Ferdi Hartzenberg in politieke gesprekvoering gemaak het. Nie een van hierdie twee KP-leiers het ooit kans gesien om ‘n politieke verhoog met mnr. Marais te deel in ‘n debat nie omdat hulle politieke eierdanse aan ‘n ieder en ‘n elk ontbloot sou gewees het. Mnr Marais was dus hoofsaaklik aangewese op debatwisseling deur middel van die media en skrywes wat aan hierdie twee politieke jellievisse gerig was. Die rekord daarvan is aan almal beskikbaar wat die moeite wil doen om die waarheid vas te stel.
Treurnicht was die man wat nie
Die KP kon die rede vir sy bestaan nooit oorleef nie. Hy is gestig om die opgang van die HNP sedert veral 1980 te verhoed en veral dan om ‘n verenigde Afrikaneropposisie teen die verraad van die NP te verhoed. In die KP het figure gesit soos Koos van der Merwe, Dries Bruwer, Piet Gouws en Chris de Jager, om maar enkeles te noem. Sommige KP’s sou later by die IVP aansluit, ander die volkstaat ondersteun en sommige selfs ANC-lede word. Dit opsigself is bevestiging van die feit dat die KP ‘n sameflansing van politieke opportuniste was wat geen erg aan Afrikanernasionalisme gehad het nie.
Die party het ‘n reïnkarnasie beleef in die AEB (“Afrikaner Eenman Beweging”) van die predikant Cassie Aucamp. Ook hy het ‘n paar politieke randeiers om hom vergader wat hulle rieme teen Jaap Marais sou styfloop net om na Marais se dood baie braaf in hulle kritiek oor Jaap Marais te wees. Vir debatvoering teen Marais tydens sy leeftyd het Aucamp en sy meelopers ook nie kans gesien nie. Ja, soos Jaap Marais in April 2000, enkele maande voor sy dood in Augustus 2000 tereg opgemerk het, lê die spoor van die KP afgemeet in verdeeldheid. Die wesentlike rol van die KP was om politieke verwarring onder Afrikaners te skep. Die AEB se politieke lewensvatbaarheid was daarom van korte duur waar dit die KP as basis daarvan gehad het. Foeitog, en om te dink dat daar selfs mense was wat hulle op die “Wet op Kwelsugtige Vervolginge” wou beroep om Jaap Marais se stem te snoer!
Die verraad van die KP teen die Afrikanerdom, deur hulleself eers by die politieke foefie van ‘n volkstaat en toe by die IDASA-komplot te betrek, het die seël op hulle lot geplaas.