Deur Leonard Van der Dussen
Aan wie behoort ons kinders: aan die staat, of aan die ouers (die gesin)? Die antwoord uit christelike huise is dadelik: “Aan die ouers!”; en tog tree ons Afrikanergemeenskappe met hulle keuses oor onderwys op soos mense wat bereid is om kinders aan die staat te gee in staatskole.
In Suid-Afrika is die rede hiervoor eenvoudig dat – veral vir Afrikanerkinders – staatskool, kerklike lewe en gemeenskapslewe vir baie dekades in die 20ste eeu ‘n eenheid gevorm het. Dit is nou tyd dat daar opgelet word dat hierdie eenheid verskeur is, en dat veral die staatskool “transformasie”-doelwitte nastreef, ideologie bevorder en in die proses onderwys ondergeskik maak aan die kommuniste se humanistiese gelykheidsbeskouings. Die matriekeksamen - in die vorm van die “Nasionale Senior Sertifikaat” (NSS) - is reeds deur hierdie gelykmakingsdoelwitte tot ‘n nuttelose oefening wat sertifikate uitdeel maar nie waarde het nie, afgebreek; en dis nie net die matriekeksamen self nie, maar ook die proses en inhoud wat daartoe opbou wat ernstig onder verdenking is.
Maar Afrikaners plaas hulle kinders steeds in massas gewilliglik in hierdie stelsel wat duidelike kenmerke het wat vir die Christen-Afrikaner op die oog af onaanvaarbaar sou wees:
Wat laasgenoemde betref, moet daar op die stringe A’s gewys word, terwyl die universiteite dit nodig vind om ten spyte van onderskeidings in matriekuitslae, sogenaamde “akademiese geletterdheidstoetse” in te stel. Die Universiteite van Stellenbosch stel dit so:
“En as jy onderskeidings in matriek vir jou tale gekry het?
Daar is nie noodwendig ’n verband tussen die uitslag van die toets van akademiese geletterdheid en jou matriekuitslae vir jou taalvakke (ook nie jou ander vakke nie) nie. Die toets van akademiese geletterdheid bepaal of jy taalmatig in die akademiese omgewing oor die weg sal kom. Die taalvakke op skool het iets anders ten doel.”
Die vraag oor die nut al dan nie van opleiding binne die Suid-Afrikaanse nasionale kurrikulum en al sy doelwitte en vereistes, moet ernstig gevra word. Baie ernstig, as 'n gesiene Suid-Afrikaanse universiteit dit prontuit stel dat jou skoolonderskeidings nie noodwendig akademiese geletterdheid meebring nie; en ander (Afrikaanse) universiteite het soortgelyke opmerkings in hulle pamflette.
Selfs vir ‘n ouer wat nie meer so sterk op die christelike vraagstukke in die onderwys ingestel is nie, moet die rasionele waarskuwing hieruit na vore kom dat sy kind – dalk jou kind – met ‘n soort skoolopleiding besig is wat nie die nodige akademiese skoling vir die lewe as resultaat het nie. Waarvoor gaan die kind dan skool en watter soort liefde is dit om die kind maar te laat akademies veragter en nie na beter opleiding te soek nie?
Hoeveel te meer behoort die christelike gelowige ouer wat waarlik sy kind hoog ag, dan nie op hierdie waarskuwings ag slaan nie?
Die toename in die aantal leerlinge in privaatskole in Suid-Afrika, is dus nie verbasend nie. Dit gaan egter ook nie alles voor die wind nie, en dis veral die Christen-Afrikaner wat tegelyk geloofsomgewing, kultuureie omgewing en gesonde onderwysstandaarde wil handhaaf, wat sukkel om ‘n lewenskragtige en volhoubare onderwysmodel in te stel. Dit is noodsaaklik dat daar meer kapitaal vir hierdie privaatonderwys wat onder eie kulturele en akademiese beheer staan, bymekaargevoeg word om van versplinterde goeie bedoelings na ‘n aantreklike, volhoubare skoolstelsel te vorder wat van pioniersfase na bedryfsfase kan oorskakel.
Dit is ‘n voorvereiste dat Afrikaner-onderwys homself moet befonds en buite die staat se onregmatige wette ‘n moderne korporasie bedryf waartoe leerlinge aangetrek sal word as skool van eerste keuse. Die produk moet losbreek van die onderwysramp wat die huidige regering oor Suid-Afrika bring en die losbreek kan nie gebeur solank enige vorm van die NSS aangebied word nie. Dit maak aansluiting by eerste wêreldse standaarde en benutting van internasionale eksamens noodsaaklik totdat daar ‘n behoorlike, vrye Afrikaanse eksamen wat sy akademiese staanplek in die mark sal moet verwerf, gevestig is.
Daar is al hoe duideliker bewyse dat die regering volledige en harde beheer oor onderwys neem:
Die interessante is dat Umulasi skole wat ander kurrikulums as dit wat onder die raamwerk van die nasionale kurrikulumverklaring val, aanbied, spesifiek uitsluit dat hulle nie onder Umalusi val nie. Dit word duidelik uit die bepalings van onlangs gepubliseerde “Policy for the Quality Assurance of Independent Schools and the Accreditation and Monitoring of Assessment Bodies” waarin afdeling 4 spesifiseer dat die “policy” net van toepassing is op dit wat binne die NSS-raamwerk val. Hulle stel dit ook duidelik in hulle vrae en antwoorde-afdeling (www.umalusi.org.za) dat skole wat nie die NSS aanbied (wat bv CIE aanbied) nie onder Umalusi resorteer nie.
Die strewe na onderwys vry van die kommunistiese gelykmaking is moontlik: bring kapitaal bymekaar daarvoor en bedryf onderwys buite die nasionale kurrikulum en die NSS.