Spreuke 3:1-35: Vers 5:”Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” Dit klink tog so eenvoudig en eintlik lekker. Ek kan maar rustig agteroor sit en net glo, want dit is al wat God van my vra. Was dit maar net vir ons so maklik om waarlik onvoorwaardelik te glo en op God te vertrou! In ‘n lewe waar die samelewing voortdurend gedryf word na groter, beter, meer, is dit soms moeilik om die pas vol te hou. Kort voor lank bevind ons onsself op ‘n weg waar ons so ingestel is op ons eie vermoëns, insig en bedrywighede dat ons vergeet dat ons ‘n hemelse Vader het wat vir ons deur genade voorsien in dit wat ons nodig het. Ons is sò besig om met ons eie insig te probeer om dinge uit te redeneer en te verklaar, dat ons deur ons foutiewe redenasies en gebrekkige menslike insig, menigmaal situasie vererger i.p.v. om ‘n verbetering teweeg te bring. Enige kind van God het egter daardie wonderlike gerusstelling en voordeel dat ons net ons beste hoef te probeer en dit wat buite ons vermoë is, na ons God kan vat in ons gebede – en onthou, by Hom is geen ding onmoontlik nie.
Wanneer ons ons probleme na Hom gevat het, beteken dit nie dat ons Hom gaan voorskryf hoe en wanneer Hy ons probleme moet oplos nie – onthou Hy is God – nie jy nie. Ons neem ons probleme juis na Hom wanneer ons radeloos is daarmee en nie meer weet waarheen. Hy sal nie noodwendig ons probleme oplos soos en wanneer ons verwag nie, maar ons kan gerus wees dat Hy wel weet wat om daarmee te doen – beter as wat ons sal weet. Dit is presies wat dit beteken om Hom te vertrou – wanneer ons ons probleme voor Hom neerlê en VERTROU dat dinge presies sal uitwerk soos wat Hy weet dat dit goed is en nie noodwendig soos wat ons verwag nie.
Ons is egter ook veronderstel om te leer uit ons foute wat in probleme ontaard, deurdat ons besef dat ons Vader altyd die oplossing vir ons probleme het; daarom sal dit raadsaam wees om Hom te raadpleeg alvorens ons belangrike besluite maak wat vir ons probleme kan veroorsaak, want Hy sal die beste advies vir ons hê. Vers 6:”Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Wanneer ons vertroue in ons God toeneem namate ons sien hoe Hy die probleme wat ons na Hom neem hanteer, moet ons leer om Hom van so ‘n aard dat ons Hom raad en goedkeuring vra alvorens ons besluite neem, aangesien ons weet dat Hy die beste weet. Die meeste van ons probleme word veroorsaak deur ons eie, selfsugtige gejaag na ons menslike begeertes en daarom dat die Here ons waarsku om weg te bly van hierdie verkeerde begeertes en van die kwaad af, want om weg te bly daarvan is baie makliker en veiliger as om daaruit te kom.
Die feit dat God ons nie oorlaat aan ons eie slegte begeertes en dwaalweë nie, bevestig juis Sy liefde vir ons. Wanneer ons die verkeerde rigting inslaan kan ons verseker weet dat Hy ons sal tugtig om ons terug te bring na die regte weg. “want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ‘n vader die seun in wie hy behae het.” Ons vertrou ons aardse ouers na die vlees, aangesien ons al met ondervinding geleer het dat hulle tugtiging en teregwysing juis is uit omgee en liefde vir ons en dat hulle ons probeer beskerm teen die kwaad en hartseer van die lewe van bogenoemde.
Wanneer ons besef dat ons ouers se vermaning en teregwysing hier op aarde bloot is om ons te beskerm omdat hulle vir ons lief is, besef ons skielik dat God vir ons Sy Woord gegee wat vol is van teregwysing, vermaning en tugtiging – omdat Hy vir ons liefhet en weet dat dit tot ons eie beswil is dat ons hierdie riglyne moet navolg! Dit is alles behalwe om ons lewens in te perk en ons die vreugde van die lewe te ontneem, inteendeel sal dit jou veel eerder baie onnodige hartseer en pyn in die lewe spaar.
Laat ons ophou om eiewys en opstandig te wees en te glo dat ons beter weet as die Woord van God. Wanneer ons in nederigheid en gehoorsaam aan Sy Voorskrifte vir ons lewe leef in die vaste vertroue dat Hy die weet, want Hy het die aarde en die volheid daarvan geskape en hou dit daagliks in stand en weet dus derhalwe hoe alles in die heelal in mekaar pas, sal ons in Sy rus en vrede kan leef en daagliks Sy liefde vir ons ervaar.
Wanneer ek Sy liefde daagliks as ‘n werklikheid in my eie lewe ervaar, sal ek nie anders kan as om op Hom te vertrou met my hele hart nie!