1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9964573

Besoekers aanlyn

Ons het 100 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Godsdiens

SAL EK HOM VERLOËN?

altLukas 22:54-62  Vers 61:”En die Here het Hom omgedraai en Petrus aangekyk, en Petrus het die woord van die Here onthou wat Hy vir hom gesê het:  Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” Dit is vir ons maklik om Petrus te verkwalik wanneer ons hierdie gedeelte lees.  Ons sal maklik by onsself dink dat as ons maar die geleentheid gehad het om dag vir dag saam met Jesus te kon wandel en al Sy wonderwerke en kragte met ons eie oë te kon sien, ons Hom in der ewigheid nie sou verloën het soos wat Petrus gedoen het nie.  Is dit werklik die geval?  Het ons nie al elkeen in ons eie lewens gesien hoe die beloftes van God wat Hy aan ons maak in Sy Woord waar word in ons eie lewens nie en daar is nie een van ons wat kan spog daarmee dat ons Hom nog nooit verloën het nie.  Hoeveel maal het ek myself nie al in ‘n geselskap bevind waar Sy Naam ydellik misbruik word en dan maar eerder geswyg om myself die hoon van mense te spaar nie?  Hoeveel maal moes ek maar beginsels en waardes prysgee om mense ter wille te wees, al sou dit veroorsaak dat ek doelbewus aan God ongehoorsaam moet wees? 

 

Hoeveel maal het ons Meester al na ons omgedraai en na ons gekyk soos wat Hy na Petrus gekyk het nadat hy Hom drie maal verloën het?  Steeds is Hy aan ons net so getrou soos wat Hy aan Petrus en al die ander dissipels was wat Hom in die steek gelaat het.  Hy het hulle nie na Sy opstanding verwyt dat hulle Hom in die steek gelaat het nie en net so verwyt Hy ons nie wanneer ons in menslike swakheid Hom in die steek laat in ons lewens nie.  Ons het egter ook die keuse of ons berou sal toon daaroor soos wat Petrus gedoen het en of ons van Sy genade misbruik sal wil maak om ‘n lewe van ongebondenheid te leef en daarmee Hom openlik en herhaaldelik, doelbewus te verloën? 

Petrus het na Jesus se hemelvaart ‘n baie kragtige instrument in Sy Hand geword en ook my ywer vir Hom gewerk hier op aarde om Sy Evangelie te verkondig.  Petrus het gekies om nie weer sy Meester te verloën nie en het selfs in baie moeilike omstandighede die Evangelie verkondig volgens Jesus se opdrag.  Hy het besluit dat hy Hom nie weer sou verraai nie en het toe inderdaad aan Hom getrou gebly in Sy koninkrykswerk op aarde, al het dit dan ook Petrus se eie teregstelling beteken.   Volgens oorlewering is Petrus ook tereggestel en is daar opdrag gegee dat hy ook gekruisig moes word waarop sy enigste versoek was dat hulle hom (Petrus) asseblief onderstebo moet kruisig, aangesien hy homself nie waardig ag om op dieselfde wyse as sy Meester, Jesus Christus, te sterf nie. 

Wat is die keuse wat ek en u vandag maak wanneer ons voor hierdie besluit te staan kom?  Sal die wêreld met sy begeerlikhede ook maar vir ons te belangrik bly om daarvan af te sien, al is daar dinge in hierdie wêreldse lewe wat ons weet ons verhouding met Christus laat skade ly of sou ons ook die keuse maak om waarlik berou te toon oor die menige kere wat ons Hom al verloën het in ons lewens en kies om elke dag ons bes te probeer om getroue volgelinge van Hom te wees?

Dalk bevind ons onsself nie huidiglik in ‘n situasie waar ons voel dat ons Hom verloën nie, maar word ons, soos Petrus, vroegtydig gewaarsku dat ons op die vooraand staan van ‘n daad wat Hom diep sal teleurstel in my lewe?  Dit is belangrik dat ons nie ook dieselfde fout as Petrus sal begaan om te trots te wees in ons self en in ons geestelike lewens om sodoende te dink dat ons nie kan faal nie.  Ons eie trots en eie eer is tog nie vir ons belangriker as ons Meester se welbehae nie?  Ons keuse moet veel eerder wees om ons eie eer, trots en begeerlikhede te kruisig as wat ons meedoen daaraan om ons Verlosser met ons eiesinnige dade van ongehoorsaamheid weereens te kruisig in ons eie lewens.

Mag ons elkeen wat vir Jesus Christus, ons enigste Verlosser en Saligmaker, waarlik liefhet, aan Hom getrou bly soos wat Hy aan elkeen van ons getrou gebly het – tot die dood toe!

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie