GALÁSIËRS 5:16-26 Sommig mense wil die onderhouding van die wet tot die uiterste neem om daardeur regverdiging te probeer kry, terwyl sommige mense die verlossing van Jesus Christus en die genade wat ons daardeur ontvang, probeer misbruik om ‘n lewe van ongebondenheid te leef, sonder ‘n gewetensaanklag.Dit is juis omdat geen mens in staat was om ‘n lewe van regverdigheid voor God te lei nie, dat Jesus Christus na die aarde gekom het om ons los te koop van die mag van sonde. Wanneer ‘n mens waarlik tot die besef en aanvaarding kom dat Christus waarlik die Seun van God is en waarlik vir jou sondes gesterf het aan die kruis en jou sodoende losgekoop het van die mag van sonde, sal jy nie weer deur sonde gebind wil word nie! Jy sal deur ‘n oorweldigende dankbaarheid gedryf word om God te probeer gehoorsaam en die verordeninge wat Hy vir ons in die Ou – sowel as die Nuwe Testament gegee het, probeer onderhou uit dankbaarheid. Jy sal tot die besef kom dat jy nie die heerser en lotsbepaler van jou eie lewe is nie, maar dat jou lewe, soos alles op hierdie aarde, ondergeskik is aan God se Wil.
Vers 24: “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.” Hierdie versie uit die Nuwe Testament, laat die hele humanistiese afgodediens in duie stort. Hierdie versie leer vir ons opnuut ‘n baie groot kernwaarheid in die lewe – Die lewe gaan nie net oor jou en jouself en jou begeerlikhede nie. Jou lewe, as ware gelowige, is veronderstel om ‘n instrument in God se Hande te wees om diensbaar te wees in Sy Koninkryk, ook op aarde. Ons kan nie besluit wie die Koninkryk van God beërwe nie, maar ons kan ons beywer om ‘n lewe te leef wat tot eer van Sy Naam sal wees. ‘n Lewe wat sal getuig van ‘n ware geloof in Hom – daardie lewe en optrede wat mense tot bekering kan bring! Dit voel soms na ‘n verlore stryd in ‘n land en ‘n wêreld waar dit lyk asof mense nie meer vir God ken nie en nie meer waarlik in Hom glo nie. Ons moet onthou dat die ligte van ons lewens soveel helderder skyn in donker plekke.
Alhoewel dit waar is dat ‘n lig helderder vertoon in donkerder omstandighede, moet ons nie pasifisties terugsit totdat die duisternis die lig oorweldig nie. Ons het ‘n stryd om te stry as gelowiges hier aan die Suidpunt van Afrika in hierdie donker tye waarin owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge (verwys na verse 19-21) hoogty vier. Indien Paulus vir ons sê dat mense wat laasgenoemde doen die koninkryk van God nie sal beërwe nie, waarom wil ons hulle toelaat om tussen ons op aarde te woon? Indien dit nie God se Wil is vir die Koninkryk nie, sal dit Sy Wil wees dat ons dit hier op aarde toelaat en gelate aanvaar?
As ons die Woord van God noukeurig bestudeer en ook ons volk se geskiedenis in oënskou neem, dan besef ons opnuut dat ons as ‘n volk geroep was om te leef en te stry vir die behoud van die Evangelie. Ons is nie geroep om maar net die Woord van God oraloor aan mense te gaan verkondig nie, maar om te leef volgens die eis van kinders van God wat gekoop is deur die dure bloed van Jesus Christus om die vrugte van liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing voort te bring. Ons geloof in God is nie veronderstel om lippediens te wees nie, maar ‘n keuse om jou selfsugtige “eie-ek” en vleeslike begeertes te kruisig en sodoende ons eie wil ondergeskik te stel aan God se Wil vir ons lewens. ‘n Lewe wat daagliks getuig van erkenning dat jy aan Hom behoort is tog ‘n lewe van selfversekerdheid en ‘n vaste vertroue op die loon en die be-erwing van die ewige lewe hierna!
Dit sal moeilik gaan om ‘n lewe van ootmoed te leef volgens Sy Wil vir jou lewe met ‘n gebrekkige Skrifkennis, aangesien Bybelstudie die antwoord bied op wat Sy Wil vir jou lewe is. Alhoewel ons as ‘n uitverkore Verbondsvolk klaaglik misluk het daarin om te leef soos ware gelowiges, kan ons ons sondes voor Hom bely en daadwerklik begin om “geestelike offers” te bring voor God. Hierdie geestelike offers wat ons sal help om onsself los te maak van die wêreldse begeerlikhede waarin ons dalk verstrengel geraak het. Dit sal aanleiding gee daartoe dat ek my meer toespits daarop om ‘n God-welgevallige lewe te leef as ‘n lewe waarin ek mense probeer tevrede stel. Laasgenoemde kan dalk aanleiding gee daartoe dat ek opnuut bereid sal wees om te stry vir my beginsels, vir reg en verkeerd, vir die eer van God, al is dit dalk nie voor mense aanneemlik nie, want ek sal nie ‘n soeker van ydele eer wees nie (vers 26).
“En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” (Gal. 6:9&10).