Daniël 3:1-30
“…Is dit met opset, Sadrag, Mesag en Abednégo, dat julle my gode nie dien nie en die goue beeld wat ek opgerig het, nie aanbid nie?” Koning Nebukadnéser is klaarblyklik so stomgeslaan dat hierdie drie manne nie in vervoering raak soos die menigte van mense en hul tesame neerbuig voor sy afgodsbeeld nie, dat hy hulle voor hom laat verskyn om ‘n verduideliking te eis van hul versuim om hierdie afgodsbeeld te aanbid. Dalk het hulle nie die opdrag mooi verstaan nie of dalk het die boodskap nie betyds by hulle uitgekom nie? Dit kan tog nie wees dat hierdie manne doelbewus weier om voor die glorieryke beeld wat hy laat maak het, te buig in afgodsaanbidding nie?
Ons sien egter in vers 16 van hierdie gedeelte dat hierdie manne nie skaam is om by hul geloofsoortuigings te bly nie en in ‘n vaste vertroue op God onwrikbaar bly staan in hul getrouheid en gehoorsaamheid aan Hom. Hulle vertrou Hom volkome om hul te verlos uit die hand van die dood, sou dit Sy Wil wees. (Vers 17: “As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos;”).
Hulle is egter ook bereid om te sterf ter wille van hul getrouheid aan hul geloofsoortuiging en dus hul gehoorsaamheid aan God. Hulle weier egter om op te tree op ‘n wyse wat vir die heidendom as teken sal dien dat hulle hul God verloën en saam met heidene in aanbidding neerbuig voor ‘n nietige afgodsbeeld uit vrees vir die dood. Hulle Godsvrees het hul vrees vir enige menslike mag oorskadu en sodoende kon hul aan God getrou en gehoorsaam bly tot verheerliking van Sy Naam.
Hoe lyk my en u lewe vandag? Is ons bereid om tot die uiterste toe weerstand te bied teen die heidense aanslae in ons lewens?
Ons volk verkeer tans in ‘n ellendige toestand waar dit vir ons lyk asof die enigste manier om sukses te behaal of iewers aanvaar te word in die huidige samelewing maar is om alle beginsels prys te gee en saam met die stroom meegesleur te word, want dit is net soveel makliker. Dit is dan net diegene wat bedrieg, lieg, omkoop, steel en afpers wat “bo” uitkom in die huidige omstandighede in ons land? Dit is dalk die makliker manier om die tydelike en vleeslike te bevredig, maar dit kom op moderne afgodery neer. Alhoewel mense hul nie meer fisies voor ‘n afgodsbeeld bevind nie, herken hul nie die bestaan daarvan in hul lewens nie. Om geestelik van God afvallig te raak en te sondig deur aan Hom ongehoorsaam te wees, is ook die pad na ‘n goddelose lewenswandel.
Wanneer ons beginsels prysgee ter wille van geld, sport, genot, vermaak, ens. is ons nie besig met moderne afgodery nie? Kan die mense rondom my wat in ekstase deur hierdie moderne afgode van God vervreemd raak en hulself vrywillig daarvoor neerkniel die beginselvastheid in my lewe raaksien? Kan hulle sien dat ek sal weier om soos die vriende van Daniël te kniel voor hierdie nietige afgode en steeds in gehoorsaamheid aan God bly staan by my geloofsoortuigings? Mense is soms bang om hul nie neer te vlei voor hierdie afgodsbeelde nie, aangesien hulle bang is vir die gevolge van die vuuroond van eensaamheid, bespotting en beskimping of selfs vir die materiële verliese wat hulle deur hierdie beginselvastheid sal ly.
Wanneer ons egter met ‘n opregte gesindheid getrou bly aan Hom, sal ons ons ook kan verlaat op die Almagtige God in die vertroue dat niks met ons sal gebeur tensy dit Sy Wil vir ons is nie. Ons sal die moontlike beskimpinge van mense kan verdra in die wete dat ons Meester ook vir ons die voorbeeld daarin gestel het.
Wie weet hoe lank dit nog vir ons onder die strafgerig van God sal voel asof ons as enkelinge probeer staande bly terwyl almal rondom ons swig voor die druk om te buig onder ‘n goddelose regime en mee te doen aan die goddelose lewenswandel wat onder laasgenoemde bewind seëvier? Die tye en geleenthede kom ons nie toe nie, maar wees verseker dat elke getroue kind van God nie alleen in hierdie vuuroond van loutering is nie. Deur te doen en te staan by wat reg is voor God, het Daniël se vriende aan ‘n heidense koning oortuiging gebring dat God waarlik bestaan en die hoogste gesag en enigste God van hemel en aarde is.
Ons kan deur te volhard in gehoorsaamheid aan en ‘n vaste geloofsvertroue in Hom dieselfde doen in die samelewing waarin ons leef. Staan sterk by u beginsels in ‘n vaste geloofsvertroue in Hom met die hoop op ‘n verlossing uit Sy Hand wat sal lei tot die verheerliking van Sy heilige Naam. Laat ons ook bereid wees om ons liggame oor te gee (m.a.w. baie vleeslike dinge prys te gee) om geen ander God te aanbid nie, behalwe onse God. (Vers 28).