Openbaring 3:14-22 Vers 14 – 15: “…Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!” Let daarop in vers 14 dat dit nie die woorde of getuienis is van Johannes nie, maar dat die waaragtige Getuie met ‘n hoofletter geskryf staan – dit is dus God se eie getuienis! In vers 15 getuig Hy dan dit wat ons weet – dat Hy alsiende en alwetend is. Ten spyte van die feite dat dit ‘n gemeente is wat aangespreek word, wys Hy die aangesprokene daarop dat sy werke nie pas by die geloof nie. Hy wys die gemeente daarop dat hulle dalk besig is met godsdiensbeoefening, maar die gesindheid is nie reg nie en daarom is die werke wat daaruit spruit ook nie reg voor Hom nie. Die boom dra nie vrugte wat by die bekering pas nie.
In vers 17 sien ons die waarskuwing wat in soveel van ons mense se lewens te bespeur is in vandag se lewe. Hulle ken en aanbid God in tye van swaarkry en nood, maar wanneer finansiële voorspoed ervaar word, is die gesindheid nie veel anders as hierdie gesindheid van die aangeklaagde in die gelese gedeelte nie. Wanneer die vleeslike versorg is, is hulle van mening dat hul nie gebrek het aan enigiets verder nie. Die gelese gedeelte beskryf dit dan ook so mooi wanneer hy ‘n mens daarop wys dat ‘n mens wat net vir die vleeslike en aardse bestaan en weelde leef, beklaenswaardig is. Jy is arm van siel, blind vir ware geluk en ewige saligheid en die naaktheid dui daarop dat jou weelde nie vir jou waardigheid kan koop nie. Jy is so arm, jy het NET geld. Naaktheid dui gewoonlik op skande en mense wat oppervlakkig en weelderig lewe maak hulself dikwels skuldig aan gedrag wat die spot van die samelewing agter hul rug ontketen.
God wil nie hê dat enige van sy kinders die spot van die wêreld word nie. Hy wil nie hê dat ons die ewige saligheid moet misloop t.w.v. die geluk wat die wêreldse begeerlikhede (geld, genot, sinlike vermaak) op die oog af kan bied nie. Hierdie begeerlikhede ontneem mense menigmaal soveel goeie in die lewe, soos hul waardigheid, ware geluk saam met hul families, ‘n ware kennis van God wat vir jou vrede in jou lewe verskaf en ‘n onwrikbare standvastigheid en rigting in jou lewe bied. Wanneer ‘n gelowige ‘n ware verhouding met God het, het ons vrymoedigheid om met ons sondes, probleme, hartseer, behoeftes, drome en met ons hele lewe na Hom te gaan en sal die lewe vir ons sin maak. Ons sal met al hierdie dinge na Hom gaan en Hy sal ons leer wat hiervan nie goed is vir ons nie en wat wel vir my bestem is. Net soos wat ‘n vader sy kind sal probeer weerhou van dinge wat op aarde vir hom skade kan berokken, bv. dwelms, verkeerde maats, ens., so wil ons hemelse Vader ons ook waarsku teen hierdie dinge wat vir ons skade kan berokken. Net soos wat kinders dikwels nie die gevaar sien in “verkeerde maats” nie, so sien ons dikwels nie die verkeerde in “bedekte afgode” in ons lewens nie.
God wys ons nie tereg op ons foute en die verkeerde wat ons uit ons lewens moet uitroei omdat Hy ons geen geluk in die lewe gun nie. Dit is juis omdat Hy ons waarlik liefhet dat Hy ons waarsku teen die kwade wat die deur vir Satan sal oopmaak om ons aan te val en skade te berokken. Dit is juis omdat Hy ons liefhet, dat Hy ons tugtig. (Vers 19). Dit is omdat God wil sien dat ek ‘n gelukkige gesinslewe geniet met kinders wat Hy aan my geskenk het, dat Hy beveel dat die duiwelsdoos (televisie) nie die plek van die huisaltaar in my huis moet beklee nie. Dit is juis omdat God wil sien hoe ek trots is op my kinders dat Hy my beveel om hulle standvastig in die weë van God te onderrig om hulle te leer om beginselvas en gehoorsaam aan God te leef. Net soos wat God ons wil sien wandel op die pad wat lei na die ewige lewe, so wil Hy hê dat ons aan die einde van ons lewens kan uitsien om saam met Hom op Sy troon te sit sonder om te wil terugkyk en te hunker na nog ‘n klein tydjie op aarde om my kinders reg te wys, net om seker te maak dat ek hulle ook in die lewe hierna sal sien. . .
In vers 20 lees ons hoe God by die deur van ons harte staan en klop en vra om ingelaat te word om op die troon van ons harte te sit vanwaar Hy kan regeer. Sou ons Hom inlaat sodat Hy ons lewens van hierdie troon af kan regeer en rig of sou ons Sy roepstem ignoreer? Wanneer Hy in ons lewens heers, kan ons weet dat Hy ons ook die leiding sal gee om die stryd teen sonde daagliks aan te pak om sodoende in gehoorsaamheid aan Hom te probeer leef. Ons sal die stryd teen sonde in ons lewens aanpak met die wete dat ons Leidsman alreeds die stryd teen hierdie vyand gewen het en Hy dus weet in watter rigting om ons te lei in hierdie stryd. Ons kan die stryd met geloofsekerheid stry dat ons ook aan die einde van ons lewens as oorwinnaars uit die stryd sal tree en saam met Hom kan deel in Sy ewige vreugde en heerlikheid.
Die keuse wat ek maak sal in my lewe weerspieël word, aangesien my lewe sal getuig of ek nie die Heerser ken wat sonde kan oorwin nie, of ek maar net bewus is van ‘n Heerser en Leidsman wat die sonde die stryd kan aansê en oorwin en of daardie Heerser ook in my lewe aan die werk is! My werke sal getuig of ek koud, lou of warm is! Wie ‘n lewe ontvang het en besef dat dit ‘n geskenk is van sy Skepper , moet dit leef in dankbaarheid teenoor Hom tot eer van Sy Naam. Elkeen dan ook wat ‘n oor het, moet hoor wat die Gees aan hom sê.