Rigters 10:6: “EN die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en hulle het die Baäls en die Astártes gedien, en die gode van Aram en die gode van Sidon en die gode van Moab en die gode van die kinders van Ammon en die gode van die Filistyne, en hulle het die HERE verlaat en Hom nie gedien nie.”
Ons kan so verdraagsaam wees teenoor die kwade en bose, maar teenoor mekaar se gebreke is daar feitlik nie eens ‘n fraksie van hierdie verdraagsaamheid te bespeur nie.
Hierdie verkeerde gesindheid van misplaaste verdraagsaamheid is by ons gekweek deur die werkers van die bose magte. Soos wat hulle ons lewens kom vul het met nietige afgode wat ons van ons God en die Waarheid (God se Woord) sou vervreem, só is ons ook oorspoel met booshede wat ons maar móés verdra om ‘n daaglikse bestaan voort te sit. Die probleem is egter dat ons só gewoond geraak het aan verdraagsaamheid teenoor die kwade/bose gedurende die afgelope paar dekades, dat ons talle verkeerde dinge in ons lewens tot ons eie ondergang gewilliglik “verdra” of selfs genot daaruit put deur onwetend mee te doen daarin. Om onkundig te wees, is seker menslik. Om onkundig te bly, is egter ‘n dwase keuse.
Ons verdra . . .
Die sonde in ons lewens wat ons vrymoedigheid om tot ons Vader in gebed te nader van ons ontneem.
Ons verdra . . .
Die duiwelsdoos (televisie) in ons huise tot ons gesin se eie nadeel. Hierdie afgodsaltaar wat die plek van die huisaltaar (huisgodsdiens) in feitlik elke (voorheen Godsvresende) Afrikanerhuishouding ingeneem het. Hierdie afgodsaltaar verdra ek nie alleen in my huis nie, maar ek bring byna daagliks offers van ongeregtigheid daarop. Ek offer die tyd wat ek daaraan moet wy om my kinders van God te leer op hierdie altaar. Ek offer my kind se suiwer denke en standvastigheid op hierdie altaar deur hierdie euwel toe te laat om my kind(ers) te leer om verdraagsaam te wees teenoor die misbruik van God se heilige naam. Hierdie euwel leer my kind dat die huwelik nie ‘n eerbare, reine instelling van ons Vader is nie, maar dat geslagsomgang eerder ‘n sinlike genieting is wat op allerlei wyse beproef moet word. Wanneer laasgenoemde beoefen word, word ‘n deur oopgemaak vir die satan om mense se geestelike lewens in te neem en selfs oor te neem, sonder dat hulle dit besef! Hierdie duiwelsdoos-euwel leer my kinders die teenoorgestelde van wat die Evangelie (die onweerlegbare Waarheid) ons leer, maar ek oordryf dalk ‘n bietjie wanneer ek sê dat dit as ‘n afgod/afgodsaltaar(iets wat jou van God vervreem of jou verhouding met Hom skade berokken) beskou kan word? My kind leer om ook offers te bring – nie offers waarin hy/sy sy/haar lewe aan God toewy nie, maar dieselfde offers wat die ouers hul geleer het om te bring. Offers op die afgodsaltaar – my kind offer waardevolle akademiese tyd op voor hierdie nuttelose afgod en wanneer die akademie daaronder ly, moet die fout voor die onderwyser/skool se deur gelê word. Die logiese oplossing van harder werk om beter punte te behaal word nie eers ondersoek nie, want die fout kan nie by myself wees nie?
Ons verdra. . .
Die onregverdige Mammon in ons midde. Ons kinders leer by wyse van aanskoue van die ouers dat ‘n mens geweeg word in die samelewin o.g.v. jou aardse rykdom en nie i.t.v. die bydrae wat jy tot die samelewing kan lewer nie. Hoeveel kinders se loopbaankeuses word deur ouers gerig o.g.v. vergoeding wat die deurslaggewende rol speel en nie die kind se belangstellingsveld en/of aanleg nie? Om baie geld te maak (‘n mens kan dit nie altyd met reg verdien noem nie) in ‘n rigting waarin jy nie heeltemal bekwaam is nie, maak nie te veel saak nie. Jy sal jou luukse motors en huise kan bekostig, al is dit dan nou willens en wetens ten koste van iemand anders (wat vir jou dienste betaal, maar dit nie op ‘n standaard kry wat dit veronderstel is om te wees nie). Jou kinders moet dalk aanhoor hou jy jou personeel slegsê wanneer hul dalk foute begaan en jou geld kos. Hulle moet dalk aanhoor en sien hou jy mense in hul vergoeding bedrieg om jou rykdom op te bou. Jou kinders moet sien hoe hulle opvoeding afgeskeep word ter wille van die onregverdige Mammon. Jou kinders sien hoe offer-op-offer voor Mammon op die altaar geplaas word. Hulle sien en leer hoe om geld (Mammon) te dien in plaas daarvan om geleer te word om hul geld wat hul eerlik moet verdien, oordeelkundig in diens van hul lewensonderhoud aan te wend.
Ons verdra . . .
Die dikwels onderskatte sportgod in ons midde. Geruime tyd gelede was diegene wat tereg opgemerk het dat die onderhandeling oor rassebeleid in sport, net as voorbrand sou dien tot onderhandeling oor dieselfde kwessie op staatkundige terrein, as waansinnig en paranoïes gebrandmerk. Menslike opinies het in die stof gebyt en die verloop van tyd het hierdie mense se “swartgallige” waarskuwings polleer tot die reine waarheid. Diegene wat deesdae die waarskuwing teen hierdie selfde sportgod en sy gevare rig, moet egter nie ‘n veel ander menslike opinie as die vorige “swartgallige doemprofete” verwag nie. Sal ons weer wag vir tyd om vir ons die waarheid blink te vryf? Was ons staatkundige vryheid nie ‘n groot genoeg offer op hierdie afgodsaltaar nie? Wil ons welliswaar ons nageslagte ook daarop gaan neerlê? Ons wil nie ons Godsdiens, huwelike, staatkundige mag, ens. met anderskleuriges deel nie, maar voor afgod sport se altaar sal ek maar gedweë my knieë buig. Die goue kalf uit die Ou Testament word blou ingekleur en daar verblind jy sommer ‘n hele volk en lei hulle blindelings oor die afgrond! (Gaan doen gerus navorsing oor die immer-gewilde Suid-Afrikaanse rugbyspan en u sal verbaas wees dat daar vir hierdie span al fisiese beelde gegiet en verkoop is!). Ons leef egter nie meer in die O.T. nie, dus is afgodsaanbidding seker nie meer sonde nie? Die toevalligheid dat veral die rugbyspanne se name gedurende die negentiger-jare verander is om weg te beweeg van die provinsiale name na hierdie onverklaarbare, “onskuldige” diere-name raak nou so effe minder toevallig, aangesien dit blyk dat hier ‘n doel hiermee was. Laasgenoemde het dan ook “toevallig” plaasgevind nadat daar veral gedurende die tagtiger-jare hande gevat is in die sport-arena met die onregverdige Mammon om groot borgskappe ‘n intergrale deel van sport te maak. Kan ons met reg sê dat sport sy doel, nl. om as ontspanning en spanbou vir die mens te dien, verloor het omdat die mense begin het om sport te dien? Is dit regtig só vêrgesog om te sê dat offers van eensgesindheid, kamaraadskap, goeie akademiese opleiding, ens. op hierdie altaar van sport geplaas is?
Is u nie bekommerd oor die die gevaar daarin verskuil om u kind aan hierdie doelbewuste trojaanse perd wat bitter subtiel onder ons ingevoer is, bloot te stel nie? U leer u kind dat dit reg is om beginsels op ‘n afgodsaltaar te plaas wanneer daar genoeg maats is wat dieselfde doen. Is dit hoe ons ons kinders moet voorberei op die toekoms waar hulle as stryders en vegters vir die Christelike geloof moet optree in die toekoms? Jy moet getrou wees aan Christus en aan jou geloof, maar indien daar genoeg maat is wat Hom verloën, kan jy maar saam verloën – sorg net dat jy nie die eerste is om te verloën nie. Wat het geword van sorg dat jy die eerste/enigste een is wat REG doen terwyl al die ander dwaal? Die Messias waarsku ons mos in die Skrif dat tye van vervolging ter wille van ons geloof op ons wag om ons bang te praat en nie om ons voor te berei daarop sodat ons ook ons kinders van kindsbeen af geestelik daarteen kan voorberei nie?
Ons is by herhaling gewaarsku deur Godsvresende leiers in die verlede dat ons Christelike grondslag en staatkundige vryheid sou prysgee om die wêreld ter wille te wees. Ons word gewaarsku dat ons toelaat dat ons kinders se sieleheil skade berokken word t.w.v. menslike opinie, politieke korrektheid en sosiale aanvaarbaarheid en gewildheid onder maats, maar wat maak ons met hierdie waarskuwings? Kan ek met reg sê dat ek vir God liefhet terwyl my kind se verhouding met mense vir my groter gewig dra as my kind se verhouding met God?
Sou ons as volk ons sondes bely sonder om dit te laat staan, maak ons ‘n bespotting van God en dan kan ons verwag dat Sy Hand wat alreeds swaar op ons rus, nóg swaarder sal begin druk. Ons roep Hom dalk dag-vir-dag aan vir verlossing, maar waarom geen Hy nie gehoor nie? Dalk is dit omdat ons volhard in die verkeerde wat ons daagliks bely?
Rigters 10:10: “Toe roep die kinders van Israel die HERE aan en sê: Ons het teen U gesondig, want ons het onse God verlaat en die Baäls gedien.”
Vers 13-16: “Maar julle het My verlaat en ander gode gedien; daarom sal Ek julle nie meer verlos nie. Gaan heen en roep die gode aan wat julle verkies het; laat dié julle verlos in die tyd van julle benoudheid. Toe sê die kinders van Israel aan die HERE: Ons het gesondig; maak met ons soos dit goed is in u oë; verlos ons tog net vandag. En hulle het die vreemde gode uit hulle midde verwyder en die HERE gedien; toe het Hy ongeduldig geword oor die moeite van Israel.”
Dit is elke man, as hoof en priester van sy eie huis, se verantwoordelikheid om ondersoek in te stel na die afgodery wat dalk in ons eie huise aangaan om dit sodoende uit ons midde weg te ruim en uit te roei onder ons. Daar is nie plek vir afgodsaltare en die huisaltaar in dieselfde huis nie – net soos wat daar nie plek is vir God en afgode in dieselfde hart (lewe) nie. Lukas 16:13: “Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”
Ek kan nie die keuse namens u maak nie en u ook nie verwyt of veroordeel oor u keuse nie, want die oordeel kom my nie toe nie. Wees egter verseker dat u verantwoordelik is vir u keuse, soos wat u verantwoordelik is vir u kind se welstand EN OPVOEDING en dat u sal rekenskap gee oor u keuse. . .
Josua 24:14&15:” Vrees dan nou die Here en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE. Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon, maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.”