Beter is ’n behoeftige maar wyse jongman as ’n ou maar dwase koning wat nie meer weet om hom te laat waarsku nie.
PREDIKER 4:9-17
Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid.
10 Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te tel.
11 Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word?
12 En as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied; en ’n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.
13 Beter is ’n behoeftige maar wyse jongman as ’n ou maar dwase koning wat nie meer weet om hom te laat waarsku nie.
14 Want daardie een het uit die gevangenis uitgegaan om koning te word, alhoewel hy as ’n arme in die koninkryk van die ander gebore was.
15 Ek het gesien hoe al die lewendes wat onder die son wandel, aan die kant van die jongman was, van die tweede, wat sy opvolger sou word;
16 daar was geen einde aan al die mense, aan almal aan wie se hoof hy gestaan het nie. Tog sal die nageslag hulle nie oor hom verbly nie; so is dit ook tevergeefs en ’n gejaag na wind.
17 Gee ag op jou voet as jy na die huis van God gaan, want om nader te kom en te hoor, is beter as dat dwase ’n slagoffer bring; want hulle het geen verstand nie, sodat hulle kwaad doen.
Vader, ons kyk na onsself en sien ons eie dwaasheid, maar veral ons afvalligheid wat sekerlik voor U oë is. Ons gebed is dat U ons verstand sal rig en ons insig sal laat verkry, sodat ons weer as ʼn volk, wat onder U skeppende hand ontstaan het, ons oë op U sal rig. Dat ons verskeurdheid in kerk en politiek ondergeskik sal raak aan ons ewigheidsbestemming en ons verknogtheid aan sport en vermaak sal plek maak vir U Woord en U stem uit U woord! Ons pleit dit in die Naam van U Seun, ons Verlosser en Middelaar. Amen.